Dis belangrik om ’n snit te kies wat by jou gesigvorm, hetsy ovaal, hartvormig, vierkantig of rond, pas.

Min dinge simboliseer verandering soos ’n besoek aan die haarkapper. Hollywood-bekendes soos Khloé Kardashian, Katie Holmes, Adele en Celine spog deesdae met ’n splinternuwe haredos.

Die nuwe neiging is ook gewild onder plaaslike bekendes soos Leandie du Randt, Cindy Nell-Roberts, Minki van der Westhuizen en Anél Alexander wat elkeen hul lokke vir ’n korter kapsel verruil het. 

plaaslike bekendes
Foto's: Instagram/@leandiedurandt/@anelalexander1/@minkivanderwesthuizen/@cindy_nell

Oorweeg dié bob vir jou gesigvorm

Ovaal 

Volgens Tommy Buckett, ’n haarstilis aan Hollywood se glansvroue, pas byna enige bob-haarsnit by dié gesigvorm. Van skouerlengte tot kort, stomp bobs, as jy dié gesigvorm het, kan jy beslis jou voelers uitsteek en avontuurlustig wees met jou kapsel. Celine is onlangs by die Paryse Modeweek met haar nuwe haredos gewaar en dié skouerlengte styl is baie sjiek en hoogmode dié seisoen.

Celine Dion, Parys
Foto: Gallo Images/Getty Images

Rond 

As jy ’n ronde gesig het, moet jy ’n bob oorweeg wat net onderkant jou ken val. Bekendes soos Adele spog met die haarsnit en dis omtrent sexy.

Adele
Foto: Gallo Images/Getty Images

Vierkantig

Khloé het haar voorkoms drasties verander met ’n stylvolle bob. Tommy raai aan as jou gesig vierkantig is, moet jy dit oorweeg om jou hare net-net onder- of bo jou kakebeen te laat knip. En as jy waaghalsig voel, kan jy hierdie snit selfs met ’n nuwe haarkleur komplementeer.

Khloe K
Foto: Instagram/@khloekardashian

Hart

Vir dié gesigvorm is ’n klassieke bob ideaal. Dié haarsnit sal nie sommer gou uit die mode gaan nie. ’n Klassieke bob pas ook by vroue van alle ouderdomme. Katie bewys dat dié snit tydloos is. 

Katie Holmes
Foto: Gallo Images/Getty Images

Bronne: Allure.com, InStyle.com, Liveabout.com