1. Wat was die inspirasie agter 'Mooimaak'? 

Dit was nog altyd ’n passie van my om mense te help beter voel – of dit nou oor hulself, oor hul voorkoms of oor die lewe is.

Die lewe is nie altyd maklik nie en dis ’n groot plesier wanneer jy dit vir iemand anders ’n bietjie makliker kan maak.

Mooimaak is ’n goedvoel-program, nie net vir die deelnemers nie, maar ook vir die kykers. Dis ongelooflik om te sien hoe deelnemers in slegs drie maande transformeer.

2. Wat maak die nuwe seisoen anders as die vorige seisoene?

Die derde seisoen gaan ’n baie dinamiese en opwindende seisoen wees. Ons gaan hierdie jaar ’n meer holistiese en omvattende mooimaakproses volg met elke deelnemer. Ons gaan nie net hul voorkoms verbeter nie, maar ook ander fasette van hul lewens waarmee hulle dalk hulp nodig het. 

Ons wil graag met ons deelnemers se huis-omgewing, hul lewenstyl, hul gesondheid, selfvertroue en geestesgeluk help.  

Ek en my span kenners gaan ook vir elke deelnemer wys hoe om aan te trek, watter grimeerprodukte die beste vir hulle werk en hoe om hul daaglikse velsorgroetine te verbeter. Ons bring dus ’n groter ‘makeover’-pakket na die tafel en ons is natuurlik ook hard op soek na ten minste een man!

3. Op die program werk jy met vroue wat deur baie uitdagings is. Het jy self al iets soortgelyk ervaar?

Ek het al baie in die verlede met my vel gesukkel, veral op skool en vir jare daarna. Dit het by tye veroorsaak dat ek baie selfbewus was, so ek ken daai gevoel – ek weet wat vroue bedoel wanneer daar iets is wat hulle regtig pla. 

Dis ook altyd vir my moeilik om gewig te verloor – my gene is net nie natuurlik ‘maer’ nie. Ek is ’n boeremeisie wat hou van ’n bord kos. 

Ek het grootgeword in ’n huis waar my ma (Caro) net almal wou voer (dit was een van haar liefdestale!). Ek het vriendinne wat sonder moeite baie slank is en kan eet wat hulle wil. Ek beny dit!

Ek verstaan die druk wat sosiale media op ons vroue plaas – en ek voel dit ook.

Dis so maklik om jouself teen ander te meet, maar mens moet waak daarteen. Jy moet die beste maak van dit wat jy het en fokus op dit in jou lewe waarvoor jy diep dankbaar is.

Dankbaarheid is ongelooflik belangrik en dra baie krag. Ek is mal hieroor: “When you change the way you look at things, the things you look at change." Perspektief is alles! 

Claire Wiese
Clare vertel dat sy self met velsorg en haar gewig oor die jare gesukkel het. Foto: Verskaf

4. In die program ondergaan vroue verskeie behandelings. Watter raad het jy vir vroue wat hulself sommer tuis wil mooimaak?

  • Belê in die beste velsorgroetine wat jy kan.
  • Doen 'n bietjie moeite en maak seker jou naels is geverf, kry vir jou ‘n paar mooi bykomstighede en maak seker jy dra die regte kleur onderlaag. Gaan kyk buite hoe dit lyk in natuurlike lig.
  • Deesdae is daar soveel gratis aanlyn inhoud waar mens maklik kan leer hoe om jou grimering self te doen. Gaan loer! 

5. Watter selfsorg en selfliefde raad het jy vir vroue met bedrywige daaglikse roetines? 

Selfliefde is uiters belangrik. Ek is self baie hard op myself en probeer daagliks om net ‘n bietjie sagter met myself te wees. Jy moet met jouself praat soos wat jy met jou beste vriendin sou praat.

Elke keer wanneer jy iets negatief vir jouself sê, moet jy dit dadelik met ‘n positiewe stelling vervang.

Terwyl dit fantasties is om die mooiste en beste weergawe van jouself te wees of probeer wees, moet mens ook aanvaar dat jy nie noodwendig elke ‘kompetisie’ gaan wen nie. En dis okei. Niemand kan nie.

6. Jy trek altyd aan mode se voortou. Waar het jou liefde vir mode ontstaan? 

Ek is baie lief vir mode oor die algemeen en kry inspirasie van Instagram, tydskrifte en mense. Mode is ’n groot vorm van self-expression, soos wat grimering en hare ook maar is. 

7. Hoe het jou styl oor die jare verander? 

Sjoe! Ek wil my doodskaam as ek terugkyk op my tienerjare en selfs vroeë 20’s! Maar dis die ding van die lewe – niks is ooit “voltooi” of ooit “klaar” nie.

Dis ’n konstante evolusie – ek sou my styl beskryf as klassiek met ’n moderne edge. Ek is heeltemaal te mal oor swart en dra dit seker te veel! Maar swart is altyd sjiek.

8. Watter vyf goed moet elke vrou te alle tye in hul handsak hê?  

1. Kougom (vir wanneer jy koffie gedrink het!) – maar moet dit nie in die publiek kou nie!

2. 'n Groot bottel water.

3. Lipstiffie.

4. 'n Selfoon.

5. En 'n cockapoo-hondjie! 

View this post on Instagram

#bestiesforlife #cockapoo #dogsofinstagram ??

A post shared by Clare Wiese-Wentzel (@clarewiesewentzel) on

Skryf nou in om deel te wees van die derde seisoen van Clare se TV-reeks Mooimaak. Inskrywings sluit op Donderdag 20 Februarie. Skryf nou in! 

Die nuwe seisoen van Mooimaak word vanaf 2 Julie om 21:00 op kykNET uitgesaai.