Waaraan dink jy wanneer jy soggens aantrek?

Wonder jy of ’n broek jou agterstewe groot laat lyk? Vlei hierdie rok my liggaamstipe? Werk hierdie kleure goed saam? Dit is alles belangrike vrae, maar het jy geweet jou klere kan jou gesondheid ook beïnvloed?

In mediese navorsing is moontlike gevare geïdentifiseer wat sekere kledingstukke kan inhou, en hoewel dit hoogs onwaarskynlik is dat dit tot jou dood sal lei, kan dit probleme vir die interne organe, senuwees en spiere veroorsaak.

So kan sekere kledingstukke ’n negatiewe impak op jou algehele welstand hê.

NOUPASSENDE JEANS

thong
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ons almal hou van daardie nousluitende broeke wat ons slanker laat lyk, maar sommige kan te veel druk op jou lyf plaas.

Noupassende jeans kan tot ’n dooie gevoel om jou bene en bobene lei en skade aan senuwees en spiere aanrig.

In uiterste gevalle het noupassende jeans al gelei tot ’n toestand genaamd kompartement sindroom, wat veroorsaak word deur die opbou van druk weens interne bloeding of swelling van weefsel.

Noupassende jeans moet vermy word deur dié wat sukkel met urienweginfeksies, sê dokters, en is al verbind met sooibrand wat vererger.

Mans moet ook versigtig wees – noupassende jeans kan tot gedraaide testikels lei.

Eina! Dis ook nie ’n goeie idee wanneer ’n paartjie ’n baba wil verwek nie omdat hoë temperature die vervaardiging van sperm negatief kan beïnvloed. Die risiko’s is gering, maar dis raadsaam om elke af en toe ’n broek te dra wat losser pas.

VORMDRAG

shapewear
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daardie ongelooflike seepgladde voorkoms wat jy kry van dié items kom teen ’n prys. Soos jy jou kurwes daarin giet, plaas dit druk op jou interne organe. Indien dit oor 'n lang tydperk gedra word, kan dit sooibrand, senuskade, spysverteringsprobleme en selfs bloedklonte – wat dodelik kan wees – veroorsaak.

Hierdie superstywe onderklere is in navorsing verbind met ’n afname in die vlakke van melatonien wat jy vervaardig. Melatonien is ’n hormoon wat jou slaap-wakker-siklus reguleer, en jy kan dalk sukkel om aan die slaap te raak.

Daar is geen rede om paniekbevange te raak nie. Maar onthou: Hoe stywer jou klere, hoe meer skade kan dit moontlik aanrig. Wees dus verstandig.

DEURTREKKERS

sloffies
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy sal dalk twee keer dink voor jy 'n deurtrekker aantrek nadat jy dit gelees het.

Bakterieë is ’n probleem daar onder en ’n deurtrekker se ontwerp beteken dit sal rondskuif – die dun gedeelte agter kruip dikwels vorentoe en dra kieme van die agterstewe oor en kan infeksie veroorsaak.

As jy reeds ’n infeksie het, soos sproei byvoorbeeld, moet jy wegbly van hierdie soort onderklere.

Deurtrekkers is ook verbind met die ontwikkeling van aambeie, wat gekenmerk word deur die swelling van are in die anus, wat ongemak en bloeding veroorsaak.

Mediese kenners raai aan jy kies die materiaal waarvan jou onderklere gemaak is versigtig. Vermy nylon, sy en satyn, wat vog vermeerder, lugsirkulasie in die vulva-gebied verminder en bakterieë laat groei. Katoen is die beste opsie – dalk ietwat vervelig, maar dit laat die vel asemhaal en is absorberend.

PLAKKIES

skinny jeans
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis alte gemaklik om aan te glip, maar plakkies is al met talle fisieke probleme verbind, soos plantaarfassiitis (inflammasie van ’n dik weefsel wat die hakbeen met die tone verbind), seer spiere en laerugpyn.

Meeste mense knyp hul tone vas wanneer hulle plakkies dra om dit aan hul voete te hou, maar dit kan tot postuurprobleme lei.

Dit kan begin as drukking op die voetrug, hak en res van die voet, en eindelik lei tot pyn in die heupe, bene en laerug. Jy hoef dit darem nie weg te gooi nie, maar dokters beveel aan jy dra dit nie vir ure aaneen nie. En maak seker dit pas goed.

BRA’S

bra
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Heelwat navorsing is oor bra’s gedoen. En die slotsom is dat meeste van ons – 80% volgens studies – die verkeerde grootte bra dra.

In een Britse studie is bevind dis die beste om glad nie ’n bra te dra nie. Volgens dié studie is borskanker net ’n probleem in kulture waar vroue bra’s dra.

Dit kan wees omdat stywe bra’s ophoping in die limfkliere kan veroorsaak, wat ’n noodsaaklike deel van die immuunstelsel en die liggaam se eerste verdedigingslinie teen die verspreiding van kanker is. Meeste studies het egter aangedui dis belangriker om een te vind wat jou liggaam reg ondersteun, veral as jy groot borste het.

’n Gebrek aan ondersteuning kan lei tot asemhalings- en postuurprobleme omdat daar druk is op spiere in jou rug, nek en skouers.

Dit beteken nie ons almal moet sportbra’s dra nie. Hoewel dit belangrik is om skade aan die borste se ligament te verhoed wanneer jy oefen, kan dit ook te veel ondersteuning bied as dit gereeld gedra word en verhoed dat die ribbekas behoorlik werk.

En bra’s met draad? Dis nie ’n probleem indien die bra goed pas nie – die draad moet agter die borsweefsel sit en nie daarop nie.

Bronne: bbc.com, dailymail.co.uk, elle.com, express.co.uk, health.com, huffpost.com