1. BROCCOLI

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

Broccoli word nie verniet ’n supergroente genoem nie. Dit is propvol vitamien C, wat kan help met verbeterde veltekstuur en hidrasie.

Broccoli bevat ook vitamien A, en volgens die dieetkundige Melanie McGrice kan ’n tekort aan dié vitamien lei tot dowwe pleks van helder oë wat skitter.

Die natuurgeneser Karina Francois voeg by: “Broccoli het ’n hoë swaelinhoud, wat help ontslae raak van gifstowwe in die lewer wat andersins hul weg deur die vel kan vind en helderheid en elastisiteit verminder.” 

2. BLOEDLEMOENE

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

“Daar is niks mooier as ’n pragtige glimlag nie, en bloedlemoene is ’n wonderlike bron van vitamien C, wat noodsaaklik is vir gesonde tandvleis en tande,” sê Melanie.

In ’n studie wat in die mediese tydskrif The American Journal of Clinical Nutrition gepubliseer is, is bevind die vel van vroue wat meer vitamien C inneem, het ’n jeugdiger voorkoms.

Daar is ook bevind bloedlemoene het nege keer die antioksidantvermoë van gewone nawellemoene. 

3. SJIITAKIESAMPIOENE

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

Sjiïtakesampioene kan wondere vir jou vel se voorkoms verrig.

“Anders as ander variëteite is dit ’n bron van vitamien D3, ’n voedingstof wat kan help om inflammatoriese toestande soos aknee, psoriase en ekseem te verlig,” verduidelik Karina.

Volgens ’n studie wat in die vaktydskrif Experimental Dermatology gepubliseer is, kan ’n verhoging in jou vitamien D-inname aknee-uitslae, wat algemeen tydens en ná menopouse plaasvind, verminder deur die vrystelling van olie te reguleer.

Sampioene bevat ook beta-glukane, wat immuniteit kan versterk. “ ’n Verswakte immuunstelsel maak jou nie net vatbaarder vir infeksie nie; dit lei ook tot glanslose vel en hare,” sê Karina.

4. TAMATIES

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

“Tamaties bevat die kragtige antioksidant likopeen, wat jou vel teen UV-skade kan help beskerm,” sê Melanie.

Tamaties is ’n bron van vitamien A, B en C, wat volgens kenners die velkleur kan verbeter en die voorkoms van fyn lyne en plooie kan verminder terwyl kollageen opgebou en elastisiteit gehandhaaf word.

Die saamtrekkende eienskappe van salisielsuur wat in tamaties voorkom, absorbeer ook oortollige olie en kan so die sigbaarheid van groot porieë verminder, sê Karina.

5. BESSIES

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

Daar steek meer in bessies as wat ons dink.

“Bloubessies bevat antosianiene, wat kragtige antiinflammatoriese eienskappe het, en is glo voordelig vir ooggesondheid,” sê Melanie.

Frambose en aarbeie bevat antioksidante wat die vel se voorkoms kan verbeter.

“Benewens vitamien C, wat die vel sy struktuur en elastisiteit gee, bevat hulle ellagiensuur, ’n sterk chemiese middel wat vrye radikale kan help afweer,” sê Karina.

6. BRASILIAANSE NEUTE

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

Neute is bekend as ’n bron van hartgesonde vette, en Brasiliaanse neute het die hoogste hoeveelheid seleen, ’n belangrike spoormineraal wat die velvoorkoms kan verbeter, veral as dit met vitamien E gekombineer word.

“Hierdie kragtige antioksidant beskerm jou vel teen die skade van vrye radikale en hou dit gesond en stralend,” sê Karina.

Seleen kan ook help met die behandeling van skilfers. Brasiliaanse neute bevat ’n verskeidenheid essensiële vetsure – die boustene van gesonde selle – insluitend olie- en linoleensuur.

“Dié sure help handhaaf die vel se plompheid en kan ’n antiinflammatoriese effek hê,” sê sy.

7. KLAPPEROLIE

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

Klapperolie bevat louriensuur, ’n vetsuur wat ideaal is vir droë hare en vel.

Spoel dit in jou mond rond om bakterieë te verminder.

“Die antivirale en kiembestrydende eienskappe maak dit ook ’n doeltreffende behandeling vir ’n reeks inflammatoriese veltoestande soos aknee en ekseem,” sê Karina.

8. OLIERIGE VIS

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

Navorsers aan die Universiteit van Kalifornië sê olierige vis – soos haring, forel, makriel of salm – kan jou help om jou jeugdige voorkoms te behou danksy die hoë konsentrasie omega-3-vetsure daarin.

“Olierige vis is een van die beste kosse vir jou liggaam,” sê Melanie.

Mense met droë of ontsteekte veltoestande soos aknee, ekseem of psoriase kan baat vind by ’n verhoogde omega-3-inname.

Karina voeg by: “Benewens hul antiinflammatoriese eienskappe is olierige vissoorte ’n goeie bron van seleen, jodium en proteïene, wat die vel kan help om homself te genees en so sorg vir ’n gesonde, stralende gelaat.”

9. NATUURLIKE JOGURT

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

Natuurlike jogurt is heerlik heilsaam en kan help om jou vel helderder en jou hare blinker te hou.

“Benewens proteïene, kalsium en vitamien D is natuurlike jogurt ’n ryk bron van probiotika – die voordelige bakterieë wat ’n gesonde dermkanaal handhaaf,” sê Karina.

Dis nie net lekker om te eet nie; dit kan ook as opknappende haarmasker en alkaliserende gesigmasker gebruik word.

Melksuur – ’n alfahidroksisuur (AHA) wat in natuurlike jogurt voorkom – dien ook as ’n sagte afskilfermiddel vir die vel. 

10. PAMPOENPITTE 

mooimaakkos
Foto: Gallo Imagea/Getty Images

Pampoenpitte is ’n kragtige superkos vir jou vel.

“Dit is ’n bron van sink, wat help om kollageen te behou en velvernuwing bevorder,” sê Karina. 

Essensiële vetsure beheer olievervaardiging en handhaaf vogvlakke, terwyl vitamien A en E help om ’n ewe-redige gelaatskleur te bevorder.

“Pampoenpitte bevat triptofaan, wat kan help met ’n goeie nag­rus en vir ’n vars voorkoms kan sorg,” sê sy.

In navorsing wat in die British Journal of Dermatology gepubliseer is, is bevind seleen – wat ook in pampoenpitte voorkom – kan ’n mate van UV-beskerming bied om vel­skade te voorkom. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe