Werner Wessels (33)

@werner_wessels

Werner Wessels
Foto: Hanri Human

Dié stilis en kreatiewe direkteur van Mej. Suid-Afrika het al met skoonheidskoninginne soos die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss en ons huidige Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, gewerk.

Hoe het jy in die modebedryf begin?  

Nadat ek my B.A.-graad in kommersiële mode aan die modeskool Lisof in Pretoria voltooi het, het ek saam met my beste vriendin van hoërskool, Melinda Bam, aan haar reis na Mej. SA begin werk.

Ons het altyd die droom gehad dat sy eendag vir Mej. SA sou inskryf, en toe die tyd reg was in 2011 het ek gesê ek sou haar help, want ek het ’n belangstelling in skoonheidskompetisies gehad en pas my graad in mode voltooi.

Ek het nooit eens geweet ek kon ’n loopbaan in skoonheidskompetisies hê nie, maar ná baie bloed, sweet en trane het ek hierdie nis vir myself geskep wat my liefde vir mode en vrouebemagtiging kombineer.

Beskryf jou persoonlike styl.

Dis baie minimalisties en ontspanne. Ek wil nooit my kliënte oorskadu nie en beskou myself as die raam tot hul pragtige skilderye.

Wat is van jou grootste hoogtepunte tot dusver?

Om Mej. Wêreld 2014 met Rolene Strauss te wen en Demi-Leigh Tebow en Zozibini Tunzi wat albei hul onderskeie Mej. Heelal-kompetisies (in 2017 en 2019) gewen het.

Die eerste keer toe ek by die Mej. SA-produksie betrokke was in 2018, en toe ek my eie TV-program, Die kroonprins, op VIA gekry het. Ek is oneindig dankbaar vir elke oomblik wat my deur die moeiliker tye dra.

Sy styl-kliënte 

1. Mej. Suid-Afrika

Shudufhadzo Musida lyk asemrowend in ’n rok met ’n grafiese patroon deur Imprint.

Shudufadso Musida
Foto: Hanri Human

2. Die voormalige Mej. Wêreld

Rolene Strauss in ’n goue blomgeel Galluzzi e Gini-rok. “Ek beskou Rolene as my muse,” sê Werner.

Rolene Strauss
Foto: Hanri Human

3. Mej. Heelal

Zozibini Tunzi in ’n denim- en korset-uitrusting in New York.

Zozibini Tunzi
Foto: Hanri Human

Hoe om jou klerekas vir die herfs reg te kry

Ek raai altyd my kliënte aan om aan die begin van elke seisoen rommel uit die weg te ruim. Gooi enige items weg wat jy in twee jaar nie gedra het nie of dié wat jou ongemaklik laat voel.

Sodoende begin jy met 'n skoon lei. Belê ook altyd in klerekas-noodsaaklikhede soos 'n goeie langbroek, wit kraaghemde en baadjies.

Gebruik dit as jou grondslag en kleur dit dan in met trends en nuwe en opwindende kleuropsies.

Sy beste stylwenk

Vind jou eie persoonlike styl en wat jou gelukkig maak. Die modebedryf is ’n kunstige bedryf wat met nuwe en vindingryke maniere van aantrek moet vorendag kom, maar dit beteken nie jy moet elke enkele modetrend slaafs navolg nie.

Sy herfskeuse

Sterk, gestruktureerde silhoeëtte. Dink 1980’s-magsdrag op ’n verfynde, moderne manier. En my gunsteling, kleurblokke. 

Sy staatmakeritem

Ek het ’n sagte swart woltrui met ’n dik kraag en asimmetriese rits wat tot my ma se teleurstelling my gunsteling-item geword het. 

5 moets vir jou klerekas

  • ’n Kraakwit kraaghemp watdeftig of informeel gedra kan word.
  • Goeie jeans wat vir jou en jou lyf werk.
  • ’n Uiteenlopende versameling bykomstighede is die maklikste manier om ’n voorkoms te verander sonder om ’n fortuin te bestee.
  • ’n Noupassende militêre jas wat in die somer én winter kan werk.
  • Leerstewels is altyd ’n goeie belegging. 

Michelle Gildenhuys Adams (33)

@michellegildenhuys

Michelle Gildenhuys
Foto: Instagram/@michellegildenhuys

Dié Kaapse stilis se gunsteling-stylkliënt is haar man, die sanger en TV-aanbieder Emo Adams.

Hoe het jy in die modebedryf begin?

Ek stileer nie baie lank nie. Dis eintlik ’n passieprojek. Ek sou sê so vyf jaar.

Beskryf jou persoonlike styl. As ’n ma van vier seuns, stilis en sakevrou wissel my persoonlike styl volgens my behoeftes. Ek is gelukkig in ’n sterk korporatiewe voorkoms, ’n vroulike rok of eenvoudig in jeans en ’n T-hemp.

Waaruit put jy jou mode-inspirasie? 

Ek is aangetrokke tot mansdrag. Ek hou van formele langbroeke, baadjies en rondenek-T-hemde.

My inspirasie kom altyd van die mens met wie ek werk. Hul storie, hul drome, hul ideale beeld van hulself.

Jou gunsteling-glansmensvoorkoms wat jy tot dusver gedoen het?

Ek is geseënd om met baie plaaslike talent te werk, maar my gunsteling is my man, Emo. Hy kan enige voorkoms wonderlik laat lyk en hy daag my uit.

Haar styl-kliënte

1. Michelle stileer haar man, Emo Adams, en Tarryn Lamb vir die TV-reeks Maak my famous.

Emo Adams en Tarryn Lamb
Foto: Instagram/@maakmyfamoussa

2. Sy werk ook met die sanger Cheswyn Ray, die wenner van die eerste seisoen van Maak my famous.

Cheswyn
Foto: Instagram/@cheswyn_r

3. Emo en sy broer, Loukmaan Adams, lyk deftig in grys en silwer pakbaadjies vir hul verhoogproduksie Father Love.

Emo Adams en Loukmaan
Foto: Instagram/@emo_adams

Haar herfskeuse

Skep lae met hemde, sagte ligte truie, warm skakerings en enkelstewels. 

Haar staatmakeritem

Ek is ’n eenvoudige meisie wat my persoonlike styl betref. Ek hou van ’n mooi kunsleerlangbroek, jeans wat goed pas en ’n kimono.

Hoe om jou klerekas vir die herfs reg te kry

Goeie basiese items in neutrale kleure is die beste. Voeg trends by met kleiner items en bykomstighede.

Die trend wat moet verdwyn

Spanbroeke! Ek dink dit word gans te veel as ’n langbroek gedra en dit is nie ’n langbroek nie.

Haar beste stylwenk

Trek aan wat jou gelukkig en mooi laat voel. En pas af en toe iets aan wat jy nie gewoonlik sal aanpas nie, en kyk hoe dit lyk. Jy weet nooit of dit vreugde in jou kan opwek nie.

5 moets vir jou klerekas

  • Goeie jeans.
  • Iets treffends.
  • ’n Wit hemp.
  • ’n Jas in ’n neutrale kleur
  • Swart langbroek. 

Marí Conradie (31)

@mooistemooi_

Mari Conradie
Foto: Instagram/@mooistemooi_

Marí, van die Strand in Kaapstad, het al met bekendes soos Minki van der Westhuizen en Leah gewerk.

Hoe het jy in die modebedryf begin? 

Ek het nog altyd van mode gehou. My grootste liefde is om ’n volledige voorkoms te skep deur hare en grimering te doen en iemand te stileer deur hul natuurlike skoonheid te verbeter en hulle wonderlik te laat voel.

Ek het in die modewêreld betrokke geraak deur grimering vir plaaslike flieks te doen en myself van daar af opgewerk.

Leah
Foto: Verskaf

Beskryf jou persoonlike styl.

’n Mengsel tussen stedelike straatstyl en boheems sjiek. Ek put meestal my mode-inspirasie uit Instagram en by koffiewinkels sit en mense kyk.

Wat was van jou grootste oomblikke in die modebedryf? 

Beslis om met wonderlike mense soos Minki te kan werk en haar ’n hele paar keer vir die voorblad van Huisgenoot te stileer.

Minki
Foto: Claudia De Nobrega

Haar herfskeuse

’n Getailleerde pak in ’n mooi kleur. Jy kan dit saam met tekkies dra vir ’n bietjie andersheid of saam met hak- skoene vir die kantoor of ’n aand uit. 

Haar staatmakeritem

Beslis my swart Dr. Martens! Ek dra dit by alles van somerrokke tot winterjasse. Dit was ’n geskenk van my kêrel en ek is dol daaroor!

Hoe om jou klerekas vir die herfs reg te kry

Ek dink dis 'n goeie tyd om in jou kas te grawe vir items wat jy dié seisoen weer kan gebruik. Belê in goeie jeans en linnehemde en, onthou: Minder is meer.

Die trend wat moet verdwyn

Beslis Crocs met kentekens op!

’n Bekende se klerekas waarin sy sal wil inkopies doen

Niemand anders nie as Minki van der Westhuizen! Ek is dol oor haar styl en ek het die voorreg gehad om haar klerekas te sien. Sjoe.

Haar beste stylwenk

Trek aan vir jou liggaamsvorm en bederf jouself met ’n bra wat behoorlik pas. Dit sal ’n baie groot verskil maak aan jou postuur en hoe hemde en rokke aan jou lyfvorm pas.

5 moets vir jou klerekas

  • Swart hakskoene.
  • Spanx! (Sy lag). Maak nie saak hoe skraal jy is nie, niemand wil broekie­lyne sien nie!
  • Hoëmiddel-­jeans wat perfek pas. 
  • Wit tekkies/­oefenskoene om by jeans of rokke te dra.
  • ’n Eenvoudige swart rok om aan te trek wanneer jy twyfel.

Kgomotso Dipholo (39)

@blakchildproject

Kgomotso Dipholo
Foto: Instagram/@bk_makeupartist

Die Johannseburgse stilis, wat van Botswana kom, het al van ons gunsteling-TV-karakters in telenovelles soos Legacy en The River gestileer. 

Hoe het jy in die modebedryf begin?

Mode was nog altyd my eerste liefde. Ek het aan die Universiteit van Botswana gestudeer en ’n graad in politieke wetenskap behaal voor ek mode ernstiger begin opneem het.

Beskryf jou persoonlike styl.

Veelsydig. Ek raak maklik verveeld. Wanneer ek stileer, is ek nie beperk nie; ek haal alles uit en ek stileer baie ander soos glansmense.

Wanneer ek klaar is, het ek nie tyd vir myself nie en kies ek net wat ook al gemaklik is. 

Jou loopbaanhoogtepunte tot dusver?

Om programme soos Legacy en The River te stileer. Ek het Anton Jeftha en Jay Anstey van Legacy gestileer. My gunsteling was om die koningin Lindiwe (Sindi Dlathu) onlangs vir die gewilde trou-oomblik vir die seisoen 3-slot op The River te stileer.

Haar styl-kliënte

1. Die Legacy-ster Anton David Jeftha lyk windmakerig in ’n groen fluweelbaadjie en wit langbroek.

Anton Jephta
Foto: Instagram/@antonjefhta

2. Sy medester Jay Anstey in groen en pienk vir haar rol as Lexi in Legacy.

Jay Antsey
Foto: Instragram/@jayanstey

3. Kgomotso het dit geniet om die aktrise Sindi Dlathu vir ’n onlangse troue in The River te stileer.

Sindi Dlathu
Foto: Instagram/@1magictv

Haar herfskeuses

My Zara-stewels. Dis bonkige militêre stewels. Dis baie veelsydig en werk saam met rompe, langbroeke en rokke. 

Haar staatmakeritem

Enigiets in die Koraanse of Japannese straatstyl. Ek hou daarvan dat hulle met hul mode waag en nie bang is om hulself uit te druk nie. 

Hoe om jou klerekas vir die herfs reg te kry 

Koop spesiale stukke wat vir alle seisoene veelsydig is. Moenie trends volg nie, want dit kom en gaan. Kies items soos goeie stewels of ’n leerbaadjie.

Koop eties verkrygde gehaltestukke en probeer plaaslik koop.

Die trend wat moet verdwyn

Noupypjeans. Dit is so lui. Met die nuwe trend van sakkerige jeans moet jy 'n bietjie meer oor die voorkoms dink.

5 moets vir jou klerekas

  • ’n Kimono. Dis my staatmaker. Dis veelsydig en verhef ’n eenvoudige uitrusting met helder kleure en ’n vloeiende silhoeët.
  • ’n Goeie bra. Kies ’n behoorlike grootte om seker te maak dit pas.
  • Onderklere. Dit het ’n opbeurende uitwerking. Dis ’n vrou se goedvoelgeheim.
  • Hakskoene. Maak seker dis gemaklik en dat jy daarin kan loop.
  • Werk kleur by jou klerekas in vir die dae waarop jy af voel, soos om ’n geel rok te dra wat jou opbeur.

Haar beste stylwenk

Vertroue. Jy kan handelsmerke aantrek, maar nie vertroue hê nie, en wat vir ander werk, sal nie altyd vir jou werk nie. Kies wat by jou pas. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe