Nie so lank gelede nie was trourokke so groot en opgepof, dit het gelyk na iets wat op ’n nageregtrollie hoort. Bruide dwarsoor die wêreld het baie aan Vera Wang te danke – dis grootliks deur haar toedoen dat hulle nie meer soos opgepofte meringues hoef te lyk nie.

“Vera het ons idee verander van wat ’n trourok behels,” het Anna Wintour, redakteur van die Amerikaanse Vogue, vroeër vanjaar geskryf in ’n artikel waarin sy die Amerikaanse ontwerpghoeroe lof toeswaai. “Die verandering is so groot en strek oor soveel generasies dat ek soms nie seker is selfs sy besef hoeveel sy bereik het nie.”

Sy is reg. Min ontwerpers laat ’n blywende nalatenskap, maar Vera sal wel. Dis nie asof sy heeltemal weggedoen het met ’n gepof nie – as dit is wat jy soek – maar sy het dit vaartbelyn gemaak.

En sy het nie net ’n estetiese konsensus bewerkstellig nie, ook ’n politieke een. Toe pres. Donald Trump se dogter Ivanka getrou het, het sy Wang gedra. En ook Hillary en Bill Clinton se dogter, Chelsea.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Kim Kardashian in Wang op haar tweede troue. Haar stiefpa, Bruce Jenner, het haar ingebring. Foto: Gallo Images/Getty Images

Miljoene vroue wat nie die ware Jakob kan bekostig nie, dra steeds Wang – of hulle dit besef of nie – al is dit deur ’n ander vervaardiger nageboots.

Dan is daar nog die rooitapytoomblikke. Die vernaamste daarvan die aktrise Michelle Williams se geel rok by die Oscars in 2006 wat onder die topontwerpe van alle tye by toekenningseremonies tel.

“ ’n Troue is elke vrou se rooitapyt,” sê Vera, wat in die 1990’s met haar trourokonderneming begin het. Met albei gaan dit oor “dít wat die vrou probeer oordra”.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Chelsea Clinton met Marc ­Mezvinsky Foto: Gallo Images/Getty Images

Met ons ontmoeting vroeër vanjaar in ’n deftige hotel in Parys sonder die ontwerper die Clintontroue in 2010 uit as die onvergeetlikste van haar loopbaan.

“Ek het haar aangetrek en gesien die president is senuagtig. Hy was amper so wit soos die rok. Ek het hom nog nooit so gesien nie, nie eens by sy inhuldiging nie.”

Dis nie asof die ontwerper gewoonlik help om ’n Wang-bruid op haar groot dag aan te trek nie, al het die bruid minstens R425 000 opgedok vir ’n skepping wat vir haar gemaak is. (Die goedkoopste rok wat jy klaargemaak kan koop, kos R51 000.)

Maar sy was bereid om ’n uitsondering vir Chelsea te maak. Vera was so besig om die bruid te help dat sy – ook ’n gas by die troue – toe nog haar sweetpakbroek aangehad het.

“Die president het vir my gevra: ‘Ek hoop jy nie gaan so troue toe nie?’ Hy het probeer hoflik wees. Dit was baie snaaks.”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Kim Kardashian in Wang op haar tweede troue. Haar stiefpa, Bruce Jenner, het haar ingebring. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die sangeres Alicia Keys het ’n asimmetriese skepping vir haar troudag gekies, nog ’n Wang-kenmerk, asook vaagweg ’n Griekse styl. Die model Hailey Baldwin het haar skepping van duchess-satyn gedra met tekkies daarby toe sy verlede jaar met Justin Bieber afgehaak het.

Bleek skakerings is ook ’n nuwigheid van die handelsmerk. En swart – vir die dapperes. Wat jou ook al gelukkig sal maak, sê die ontwerper, en daarom is bruide so versot op haar.

Vera blaas nie haar eie beuel nie – mense soos Anna Wintour doen dit vir haar – maar sy sal toegee voor sy op die toneel verskyn het, het die bruidskategorie nie oor kunssinnigheid of konseptuele denke – of eens oor die vrou self – gegaan nie.

“Vera se individualiteit, ouderdom, diversiteit – dit het nie bestaan nie,” sê Anna.

Eens op ’n tyd was ’n bruid ’n koekiedrukkerkonsep. Sy het ’n koekiedrukkerrok gedra. Nie meer nie.

Vandag dra Vera ’n swart spanbroek en lae swart T-hemde. Die uitrusting is byderwets afgerond met reuseplatforminsteekskoene. Die 70-jarige ontwerper het haar aanhangers – haar 369 000 volgelinge op Instagram inkluis – in die inperking uit haar huis in Miami trakteer op foto’s van haarself in verrassende uitrustings – soos ’n oranje sportbra by ’n eina kortbroek van wit denim.

Hoe kan sy so jonk lyk? wou hulle weet. “Werk, slaap, wodka en nie baie son nie,” kom die antwoord droogweg.

In die 1980’s het haar baas, Ralph Lauren, haar “die modenon” genoem. Sy lag. Uit lojaliteit aan hom, sê sy, het sy destyds soms “Ralph se vlootblou” gedra. “En houtskoolgrys.” ’n Gepynigde pouse. “En, ek bedoel, ek kon met kameelkleur werk, jy weet?”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Vera en Ralph Lauren. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit was nie net haar voorliefde vir swart wat haar die “non”-bynaam besorg het nie. Vera het nie soos die troutipe gelyk nie. “Ek was nie altyd enkellopend nie. Ek was net nie getroud met kinders nie. Dit klink dalk nie nou vreemd nie, maar in my era was dit. Mode was my hele lewe.”

Haar eerste voltydse werk was as stilis by Vogue. Sy het later die ontwerpsdirekteur vir Ralph Lauren geword.

“Ek het altyd gewerk.” Dis hoe sy grootgemaak is, sê sy. “My ouers was immigrante. Hulle het nooit toegelaat dat ek bederf word nie. Jy het gewerk, werk, werk.”

Haar pa het met ’n suksesvolle farmaseutiese onderneming en olieraffinadery begin nadat hy uit China na Amerika geëmigreer het. Haar ma was ’n VN-vertaler voor sy haarself aan kinders grootmaak en inkopies by Yves Saint Laurent toegewy het.

“Sy was foutloos. Sy het gedink ek is ’n deurmekaarspul,” sê Vera.

As kind was haar eerste obsessie met sierskaats. “Dit leer jou dissipline. As jy val, staan jy op en probeer weer.”

En dis wat sy gedoen het toe sy ná haar deelname aan die Amerikaanse nasionale kampioenskapsbyeenkoms nie die Olimpiese span van 1968 gehaal het nie.

“Al ding waarvoor ek so lief was soos vir skaats, was klere.” In haar laat tienerjare het sy in die Saint Laurent-boetiek in New York se Upper East Side gewerk om “sakgeld te verdien” en “oor mode te leer”. Wat het sy as winkelassistent geleer? “Voor hom was Franse handelsmerke te ordentlik, te hoogmode. Ek het dit geniet om klere te verkoop wat goed lyk aan vroue, waarin hulle wonderlik voel.”

Saint Laurent het modefantasie drabaar gemaak – hy het drome laat waar word, en dis presies wat Vera vir bruide doen. Haar bewondering vir die oorlede Franse ontwerper het deel van die Wang-legende geword. As stilis vir Vogue het sy by haar eerste fotosessie – dit was saam met die gevierde moderedakteur Polly Mellen – in ’n Saint Laurent-rok opgedaag.

“Sy het haar verskyning gemaak in ’n wit hemprok deur Yves Saint Laurent, haar lang hare onberispelik blink en reguit, haar naels skarlakenrooi geverf,” onthou Anna. “Polly het haar huis toe gestuur om ander klere aan te trek en gesê: ‘Ons doen baie werk op ons hande en knieë hier – nie in Saint Laurent-crepe-de-chine nie.’ Vera was gou terug – in jeans.”

By Vogue het Vera later saam met die fotograwe Irving Penn en Richard Avedon gewerk – of “Mister Penn” en “Dick” soos sy hulle genoem het. Albei mans was “askete”, sê sy. “Hulle het baie, baie eenvoudig geleef. Dick het vanuit sy huis gewerk, en sy slaapkamer was amper soos dié van ’n monnik. Jy kon sien sy lewe het om sy werk gedraai. Hy was baie skraal, seningrig, propvol senu-energie, plofbare energie.”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Vera en haar voormalige man, Arthur Becker, en hul aangenome dogters, Cecilia (naaslinks) en Josephine. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy onthou hoe dit hom tot drie dae kon neem om die beligting vir ’n Penn-fotosessie reg te kry. “Hy sou in ’n vlootblou katoen-polonek in die hoek in sy stoel sit en wieg. Niemand mag gepraat het nie. Dan, as hy die dag besluit het hy’s gereed, was hy onder daardie kamera en het dalk drie keer gekiek, en dan die foto’s na Vogue gestuur. En wat hy ook al gestuur het . . . ongelooflik!”

Sy het ook met die soort karakters te doen gekry waarin die modebedryf spesialiseer: In hul grafskrifte word hulle beskryf as “groter as lewensgroot”; ’n akkurater beskrywing is dalk “monsters”.

Polly (nou 95) was een van hulle. “Sy was so wreed. So grof. Ek het dit vir haar in haar gesig gesê. Ná ses maande het ek gesê: ‘Kan jy my nie net skuif na die rekeningeafdeling toe nie? Ek kan dit nie meer verduur nie.’ ”

’n Ander redakteur, wie se naam nie genoem word nie, “het my met ’n tas gegooi. Met goed daarin. Na my kop toe.” Sy het by die huis by haar pa gaan huil. “En hy het gesê: ‘Jy weet nie wat jy besig is om te leer nie. As jy in die modebedryf wil wees, wees in die modebedryf.’ ”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Michelle Williams in Wang by 2006 se Oscars. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoekom lok die bedryf – tot vandag toe – sulke gedrag uit? “Ek dink die stres is geweldig,” sê sy. “Baie min ondernemings het ’n skedule waarbinne jy kreatief moet wees. In die musiekbedryf kan jy ’n album betyds uitreik of dit uitstel. Dieselfde met flieks. Jy hoef nie iets vir die publiek te wys tot jy gereed is nie. Ons het nie daardie luukse nie.”

Vera is self eerlik oor die druk daarvan om ’n pasklaar klerereeks te lewer saam met haar trourokke. “Dis pret om in Parys te wees en nie my eie vertoning te hê nie. Dis my gelukkigste oomblikke – wanneer alles nie net ingedeel word in die kategorieë ‘voor’, ‘tydens’ of ‘ná my vertoning’ nie.”

Hoe was Anna destyds? “Sy was baie gewaagd.” Bedoelende? “Sy het daardie sterk bob gehad en het swart-en-wit Japannese klere gedra, met ’n baie groot silhoeët. Yohji Yamamoto. Kansai Yamamoto.”

Sowaar. Nou is sy die ene netjiese dagrokke en katjiehakke. Haar bekende bob is skynbaar ál wat uit daardie era bly vassteek het. Die twee, wat ewe oud is, het in ’n stadium meegeding om dieselfde pos as kreatiewe hoof, ’n kompetisie wat Anna gewen het. Nie dat Vera haar dit ooit verkwalik het nie, sê sy.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Sy en die redakteur van Vogue, Anna Wintour. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die grap was nog altyd dat ek daardie werk wou hê, maar dit het nie na my kant toe gekom nie. Ons is baie geheg aan mekaar.”

Anna was een van die mense wat haar oor Vera se persoonlike lewe bekommer het, of eerder die gebrek daaraan. “Anna het my altyd aangemoedig om nes te skop.” Ralph Lauren was nog een. “Hy het vir my gesê: ‘Jy moet trou, ’n gesin hê. Moenie eindig, wel, waar jy nou is nie.’ ”

Sy lag weer. “Hy het dit nie op daardie manier gesê nie, maar hy was ’n mentor vir my, nie net wat my loopbaan betref nie, maar ook in my persoonlike lewe.”

Sy onthou hoe Anna, toe swanger met haar eersteling, haar aangemoedig het. “Sy het gesê: ‘Jy is al so lank enkellopend. Jy moet met ’n gesin begin.’ Maar dit gebeur nie sommer net so vir almal nie.”

Dit het toe op die ou end, tot almal se verbasing, wel gebeur. Op 39 het Vera aan die belegger en eiendomsontwikkelaar Arthur Becker verloof geraak. “Calvin,” soos in Klein, “was geskok.”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Dis moeilik om te glo dié superkoel ontwerper wat steeds die mode vooruitloop, is al 70.
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit, sê sy, “was die eintlike begin van die verhaal. “Ek het gaan rokke koop. Ek was ’n ouer bruid wat vir die eerste keer trou en het simpel – ek weet nie of dit die regte woord is nie – tussen al hierdie 20-jariges gevoel.”

Dit was nie al nie. “As ’n modemens, wel, jy kan jou indink . . . Ek het altyd ’n minimalistiese siening gehad.”

Ja-nee. Sterkte daarmee as ’n toekomstige bruid in 1990. En dan was daar haar verloofde. “Hy het gesê: ‘Ek wil regtig hê jy moet soos ’n bruid lyk. Moet asseblief nie opdaag in ’n kombinasie van Kenzo, Agnès B. en Saint Laurent nie. Ek wil jou as bruid onthou.”

Vera was nie gelukkig daarmee nie. “Ek het gedink: ‘Hou jy nie van my soos ek is nie?’ ” Daarby was sy raadop. “As bruid is almal die eerste keer ’n amateur, selfs ’n moderedakteur.”

Sy het al die voorste modehuise oorweeg, maar dit sou vier aanpassessies behels.

“Met my rooster by Ralph Lauren kon ek nie eens betyds by die tandarts uitkom nie.”

Op die ou end het sy haar eie rok ontwerp.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Toe Hailey Baldwin met Justin Bieber getrou het, het sy Wang na die onthaal gedra. Foto: Instagram

“Almal het rokke met ’n hoë middel gedra. Ek wou ’n lae middel hê. Alles was pofferig. Ek wou meer van ’n A-lyn hê. Dit was hoofsaaklik die silhoeët wat ek verander het.”

Sy het gou ’n geleentheid hierin raakgesien. “Daar was ’n formule. Trourokke was ’n handelsartikel. Dit was nie deur vroue se individualiteit gedrewe nie.” Haar pa het dit ook besef. “Hy was nie in die klerebedryf nie, maar hy was ’n sakeman, en hy kon sien dat daar kleiner risiko’s aan trourokke verbonde is.”

Toe slaan Vera ’n ander koers in, met haar pa se steun. Die vrou in swart het opgehou om vir Laurent – die man in vlootblou – te werk sodat sy vir vroue in wit kon begin ontwerp.

“Niemand kon dit glo nie. Calvin Klein het vir my gesê: ‘Wanneer dit oorgewaai het, bel my en kom werk vir my.’ ”

Die tweede ironie het in 2012 getref toe Vera en die pa van haar twee dogters, Cecilia (nou 30) en Josephine (27), skei.

Was sy bekommerd oor hoe dit haar toe reeds beroemde handelsmerk sou raak? “Dit was nie juis ’n geheim nie. Ek weet nie wie ’n maklike huwelik het saam met ’n modemens nie. Ek dink dit was moeilik vir my kinders, en dit was moeilik vir my man. Ek voel altyd skuldig as ma dat ek nie genoeg daar was nie.”

Sy onthou die aanloop tot die geel Oscar-rok toe Michelle Williams, toe Heath Ledger se meisie, een helfte van die witwarmste paartjie ter wêreld was. “Ek het gekyk hoe my dogter aan ’n gimnastiekvertoning deelneem en moes gaan en sy het begin huil en gesê: ‘Ma, hoekom moet jy altyd weggaan?’ Ek het so skuldig gevoel. Ek het Michelle en Heath gaan sien, en sy het daardie rok gedra, en almal onthou dit.”

Was dit dus die regte ding om daar weg te gaan? “Ek dink nie ek sal ooit weet nie.”

Haar oudste dogter werk in die sakekant van die modebedryf, en die ander een soek bemarkingswerk in die modebedryf. Dalk beantwoord dit op ’n manier die vraag. En nes hul ma is hulle baie toegewyd aan hul werk.

“Ek sal vir die oudste een sê: ‘Kom eet Sondagaand by my?’ En sy sal sê: ‘Nee. Ek werk,’ ” vertel sy en lag.

Sy is nie nou in ’n verhouding nie, en al sê Vera sy sou graag iemand wil ontmoet, het sy haar dogters. “Ek is ’n baie trotse ma.”

Sy het ook wat sy haar ander “kinders” noem – die klere in haar uitgestrekte instapkaste. Die res van haar tweeverdiepingwoning van 687 m2 is streng minimalisties. Afgesien van die 17 televisiestelle.

Daar is ook nog haar onderneming, waarvan sy steeds die alleeneienaar is, en twee parfuums, Princess en Embrace. Laastens is daar haar nalatenskap aan die wêreld: die “Wangifikasie” van die moderne bruid.

“Dis nogal wonderlik, met dié dat ek die meisie was wat waarskynlik nooit sou trou nie,” sê sy en glimlag ingenome en verwonderd.

© Anna Murphy / The Times Magazine / News Licensing; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM (@VERAWANG, @ @STYLEMEMAEVE), E!