Verlengings

Hier het jy twee keuses: individuele of strookwimpers.

INDIVIDUELE WIMPERS

Dis gewoonlik in klossies te koop en is oor die toonbank beskikbaar. Jy moet ’n haartangetjie gebruik om die klossie aan te wend, en as jy dit reg aanwend, sal dit tot ’n week hou.

Enkelwimpers is ook beskikbaar, maar dit word deur kenners in ’n salon aangewend omdat dit sterker gom vereis en jy jou oë moet toehou terwyl dit aangewend word. Dit hou tot ’n maand en kan aangevul word namate dit begin uitval.

Die prys is tussen sowat R250 en R1 000.

Voor

Foto: Gallo Images/Getty Images

Foto: Gallo Images/Getty Images


Skoonheidswenk
  • Individuele wimpers is in verskeie groottes te kry; dus hoef dit nie uitspattig te wees nie – jy kan ’n lengte kies waarmee jy gemaklik voel.
  • Dit behoort nie ’n negatiewe uitwerking op jou natuurlike wimpers te hê nie tensy die verkeerde gom gebruik is of jy die individuele wimpers probeer uitpluk.
  • Die wimpers kan beskadig word as jy jou maskara verwyder of afwas.
  • Jy moet blaaskanse tussen wimperaanwendings neem om jou natuurlike wimpers te laat asemhaal.
  • Doen navorsing oor die salon waar jy dit wil laat aanwend en bestudeer foto’s van hul werk voor jy ’n afspraak maak.
  • Vra vrae! As jy nie seker is wat die proses behels nie, vra dat die skoonheidsdeskundige dit aan jou verduidelik.


STROOKWIMPERS

Dis makliker om aan te wend as individuele wimpers, maar kan nogtans ’n paar oefenrondes verg voor jy dit regkry.

Dit hou nie langer as 24 uur nie en jy moet dit verwyder nadat jy dit gebruik het. Party kan wel skoongemaak en weer gebruik word, maar dit hang van die gehalte af.

Dié wimpers kos van R50 tot R250.

Skoonheidswenk
  • Maak seker jou wimpers is skoon voor jy strookwimpers aanwend.
  • Kyk of jou wimpergom verval het. Indien wel, sal dit nie goed werk nie en kan dit jou oë irriteer.
  • Knip jou stroke sodat dit by die grootte van jou oë pas.



Maskara

As jy voel strookwimpers of verlengings is ’n bietjie oordadig, kan jy altyd maskara gebruik om jou wimpers woema te gee.

Talle soorte is vir verskeie behoeftes beskikbaar, of jy lengte of volume soek. Die verskillende soorte borselhare het ook verskillende uitwerkings.

Veselhare gee volume en verminder klonte, terwyl silikoonhare meer van die produk afgee om die wimpers te verleng. Party grimeerkenners gebruik albei soorte borsels tegelyk.

Benut jou maskara ten volle

STAP 1

Wend een of twee lae maskara van die buitehoek van die wimpers aan. Begin by die wortel en werk boontoe terwyl jy die maskaraborsel liggies heen en weer beweeg.

STAP 2

Tel sowat 15 sekondes en herhaal die stap hierbo. Wissel dié keer met elke aanwending tussen die oë af. Wend twee tot drie lae aan elke oog se wimpers aan.

STAP 3

Wag nog ’n paar sekondes en wend dan jou maskara aan die wimpers by die oog se binnehoek aan. Begin by die wortel en werk na die punt toe terwyl jy die borsel heen en weer beweeg. Wend twee of drie lae aan.

Skoonheidswenk

As jy fyn of kort wimpers het, lig jou boonste lid met jou wysvinger op.

Dit sal dit vir jou makliker maak om jou maskara van die wortel af aan te wend – wat jou wimpers voller en langer sal laat lyk.


Yl wimpers

Haarverlies het verskeie oorsake soos stres, veroudering, ’n swak dieet, siektes en wanneer jy nie blaaskanse tussen wimperverlengings neem nie.

Sorgprodukte vir wimpers kan help om dit te versterk.