Hoekom afskilfer? 

Jou vel verloor elke dag dooie selle, maar party van hulle kleef aan die vel vas en lei tot ’n dowwe gelaat, swartkoppies, skilferige vel en puisies. Jy moet jou vel gereeld afskilfer om die dooie selle te verwyder. Dit sal jou vel glad maak en porieë oopmaak sodat dit kan asemhaal. 

Soorte afskilferaar 

TOERUSTING Borsels, handskoene en loefas. Jy vryf jou vel met die droë toerusting of gebruik seep en water daarby.
CHEMIES Jy besoek ’n professionele salon vir ’n gesigsbehandeling wat ’n chemiese afskilfering insluit. 
SKROPMIDDELS Dit is korrelprodukte wat in buise of houers te koop is.

DIE REËLS

Wanneer jy afskilfer: 

  •  Werk so sagkens moontlik. Moenie jou vel rou skrop nie.
  •  Bevog jou vel dadelik wanneer jy klaar is.
  •  Gebruik ’n soort afskilferaar wat vir jou soort vel geskik is.
  •  Moenie die oogarea afskilfer nie. Dit is uiters sensitief en hoef nie afgeskilfer te word nie. 
  •  Moenie te gereeld afskilfer nie – net elke derde dag. 

Te veel afskilfering:
Jy hoef nie jou vel elke dag af te skilfer nie. Die idee is om dit gladder te laat lyk en voel, nie om dit rooi en geïrriteerd te laat lyk nie. Die volgende is waarskuwingstekens dat jy te veel afskilfer:

  • Rooiheid
  • Styfheid 
  • Brandgevoel
  • Geïrriteerde vel
  • Vel wat afdop 
  • Uiterse droogheid

Tekens dat jy moet afskilfer: 

  • ’n Dowwe gelaat 
  • Puisies 
  • Skilferige vel
  • Onegalige velkleur 
  • Swartkoppies
  • Verstopte porieë


(Uit Huisgenoot 11 Augustus 2016)