VOOR JY VERSIER

Begin met ’n onderlaag. Verf ’n effekleur oor die nael waarop jy die kuns wil hê en laat dit droog word. Jy kan enige kleur as onderlaag gebruik, mits die kleure van die kuns helder en opvallend is. Sorg dat jy jou hand stil hou en hou die naellakverwyderaar en ’n wattestokkie byderhand om enige foute mee reg te stel. Maak kolletjies en trek strepies met ’n tandestokkie, haarnaald of ’n spesiale kolletjiepen.

KLEURBLOK

  1. Wend ’n ander kleur bo-oor die helfte van die eerste laag naellak aan. Kies helder of neonkleure.
  2. Laat die tweede aanwending droog word en verf dan ’n ander kleur oor die helfte van die tweede aanwending. Laat die lae goed droog word voor jy die bolaag aanwend.
Kleurblok

JAGLUIPERD

  1. Wend grys naellak aan en laat dit droog word. Maak kolletjies oral oor die nael.
  2. Omkring die kolle net halfpad met ’n ander kleur. Wend ’n bolaag aan om glans daaraan te verleen.
Luiperdkolle


GESKENKPAKKIE

  1. Verf jou naels swart en laat dit droog word. Maak ’n wit kolletjie in die middel van die nael.
  2. Trek vier strepies van die kol af na die naelvoue. Die teenoorgestelde kante van die verdeelde seksies moet min of meer ewe groot wees.
  3. Vul die twee teenoorgestelde seksies (naaste aan die naelvoue) met wit naellak.
  4. Omlyn nou die wit met rooi, ook die kol. Verf ’n rooi “V” alkant van die kol. Wend laastens ’n deursigtige laag aan.
Geskenkpakkie


LIEWENHEERSBESIE

  1. Verf jou naels rooi.
  2. Laat dit droog word en verf die naelpunte swart.
  3. Verf ’n strepie in die middel van die nael van die naelpunt tot by die naelbed.
  4. Maak drie kolletjies alkant van die strepie.
  5. Maak twee wit ogies vir jou gogga. Wag tot alles goed droog is voor jy ’n deursigtige laag aanwend om die kleur te beskerm en die naels mooi te laat blink.
Liewenheersbesie