Wat is pigmentasie?

Melanien is ’n natuurlike pigment wat in ons liggaam vervaardig word. Dit gee kleur aan ’n mens se vel, hare en oë.

Pigmentasie ontstaan wanneer die vel meer melanien vervaardig as wat dit moet, wat dan donker vlekke of kolle op die vel veroorsaak. 

Wat veroorsaak pigmentasie?

DIE SON

Wanneer sonstrale die vel binnedring, probeer die vel homself daarteen beskerm deur meer melanien te vervaardig. Dit is wanneer die donker kolle ontwikkel. 

AKNEE

Wanneer iemand puisies het en dit druk of uitdruk, ontsteek die area en lok bakterieë. Nadat die vel ontsteek en dan homself genees het, los dit ’n litteken en verkleuring.

HORMONE

Wanneer jy swanger is, kan sekere dele van jou liggaam, soos die maag en nek, donkerder word. Soms kan sekere voorbehoedmiddels ook veroorsaak dat die vel verdonker.

Voorkom pigmentasie

Een van die vernaamste oorsake van pigmentasie is blootstelling aan die son. Sonskerm verhoed dat die son se strale die vel binnedring. Die minimum hoeveelheid SBF (sonbeskermingsfaktor) wat jy benodig, is SBF 15, en die hoogste wat jy kry, is 50.

Net omdat die SBF in sommige sonskermmiddels laer is, beteken dit nie dat dit nie werk nie; dit dui op die verskillende bestanddele wat gebruik word.

Sonskerms met ’n laer SBF kos minder as dié met ’n hoër SBF.Sonskerm beskerm jou ook teen ander omgewingsfaktore soos besoedeling.

Besoedeling veroorsaak chemiese reaksies op die vel, wat weer tot puisies kan lei. Probeer om minder tyd in die son deur te bring. As jou werk vereis dat jy in die son is, dra beskermende klere teen die sonstrale.

Moenie peuter aan aknee of puisies nie, want dit sal dinge net vererger en littekens agterlaat.

Sonskerm

Gebruik ’n sonskerm met ’n minimum SBF van 15.

Jy benodig sowat ’n halwe teelepel vir jou gesig. Dis goed as jou vogroom sonbeskerming bied, maar jy kan dit aanvul met ekstra sonskerm.

As jy in direkte sonlig is, moet jy elke twee uur weer sonskerm aanwend. 

Gevolge van pigmentasie

  • Donker vlekke kan jou selfbeeld af-takel omdat dit so sigbaar is.
  • Mense met pigmentasie dra dikwels baie grimering om dit weg te steek.
  • As jou pigmentasie deur sonblootstelling veroorsaak is, kan dit lei tot voortydige veroudering en voortydige plooie. 

Ander pigmentasie-veltoestande

POSTINFLAMMATORIESE HIPER­PIGMENTASIE

aknee
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is die gevolg van ’n velbesering soos aknee, brandwonde of skaafplekke of weens behandelings soos chemiese afskilfering of laser. Daar is rome om dit te versag.

SPROETE

sproete
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is kolletjies op die vel met ’n hoë hoeveelheid melanien. Hoewel dit oorerflik kan wees, verdonker dit met sonblootstelling en kan dit minder word met min sonblootstelling.

Speel klaar met pigmentasie

  • Chemiese afskilfering by ’n plaas-like kliniek kan verkleuring geleidelik verminder.
  • Mikronaaldbehandeling help die vel om homself te genees, en die resultaat is dat dit jou vel vernuwe.
  • Velsorgprodukte wat jy aanwend, kan ook help om matige verkleuring en pigmentasie ligter te maak.
  • Jou dermatoloog kan voorskrifmedikasie aanbeveel wat die donker vlekke sal verminder.
EKSTRA BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, COSMOPOLITAN.COM, NEWS24.COM, ALLURE.COM