1. Van rooi tot blond

Die aktrise Amy Adams

Amy Adams
Foto's: Gallo Images/Getty Images

Daar is verskillende skakerings van rooi én blond, en dis dalk nie so maklik om te besluit watter blonde skakering jy wil hê nie.

Die beste manier om te weet wat by jou pas, is om te kyk na bekendes met dieselfde gelaatskleur as jy: Wat het hulle probeer?

Verskeie sessies sal nodig wees om die voorkoms te kry. Hoe ligter jy dit wil hê, hoe meer moet dit gebleik word.

As jy bekommerd is oor skade, kan jy met ligstrepe begin – dit gee jou byderwetse kleure soos blond-oranje of rooiblond.

Daarna het jy dalk ’n blonde balajage nodig om ten volle blond te word.

Met dié tegniek word ligstrepe aan die hare aangebring sodat die kleuroorgang natuurlik en sag lyk. Dit kan geleidelik oor ’n paar maande gedoen word.

WENKE

  • Voor jy jou hare kleur, moet jy eers seker maak dis in ’n goeie toestand, sê Peter Matlala van Lucy’s Hair Salon in Morningside. As jou hare droog en beskadig is, moet jy dit eers in ’n gesonde toestand kry voor jy aan die kleur begin verander.
  • Indien jy jou hare kleur terwyl dit in ’n swak toestand is, sal dit afbreek en uitval.
  • Bokskleurmiddels sal nie werk as jy ’n ligter kleur soek nie omdat dit ’n ingewikkelde proses is afhangend van jou natuurlike haarkleur. Maak dus ’n draai by die salon.
  • Moenie jou hare voor ’n kleursessie was nie. Die natuurlike olies en produkte aan jou hare tree op as buffer tussen jou kopvel en die chemikalieë wat aangewend word.
  • “Gebruik produkte wat die kleur help behou en vermy hitte soveel moontlik,” is Peter se raad. As jy hitte móét gebruik, gebruik dit op ’n lae verstelling.

2. Blond met ligstrepe

Die aktrise Jennifer Aniston

Jennifer anniston
Foto's: Gallo Images/Getty Images

Ligstrepe is wonderlik, want dit lyk natuurlik. Op dié manier kan jy geleidelik gewoond raak aan heeltemal blond wees. Dis ’n geleidelike proses wat tyd verg, en jy kan so toets watter skakering blond vir jou sal werk.

VERSKILLENDE OPSIES

  • Jy kan die wortels en ’n paar stringe donkerder los en die punte bleik. Dit werk veral goed met bobs omdat dit dimensie verleen. ’n Sagte ombré is soortgelyk hieraan, maar werk beter met langer hare.
  • Om die gesig met blonde stringe te omraam is nou baie in. Dit sal jou ook ’n idee gee van hoe jy sal lyk as jy volkome blond is.
  • Dun en verspreide platinumligstrepe in donker hare skep die illusie van hare wat blink. Verspreide ligstrepe in enige blonde skakering verleen ook dimensie aan donker hare en laat dit voller lyk.

3. Van brunet tot blondine

Die aktrise Charlize Theron

Charlize Theron
Foto's: Gallo Images/Getty Images

As jy dapper is, kan jy jou hare direk van bruin tot blond kleur. As jy nog nooit jou hare gekleur het nie, is die proses makliker. As jy al gekleur het, verg dit meer tyd omdat die pigment van die vorige kleur eers uit die hare verwyder moet word.

Gaan altyd na ’n betroubare plek en wys ’n foto van wat jy wil hê. Wees geduldig, want jy sal nie met een besoek jou voorkoms kry nie.

As jy oorhaastig is, kan dit rampspoedige gevolge vir jou hare hê.

VAN LIGBRUIN TOT BLOND

Jy het dalk net twee salonbesoeke nodig om dié voorkoms te kry. Die kleur van jou hare sal eers gelig word (die pigment word verwyder), gevolg deur die ligste skakering blond, en daarna sal die skakering van jou keuse bygevoeg word.

VAN DONKERBRUIN TOT BLOND

Donkerder hare kan moeiliker wees om te kleur, wat meer salonbesoeke beteken.

Bruin hare wat blond gekleur is, is geneig tot ’n koper skynsel. Pers (ook genoem silwer) sjampoe kan help – dit neutraliseer geel en oranje skakerings en bevog die hare.

JOU GELAAT EN BLOND

Peter het vir ons ’n gids gegee oor die geskikte skakerings van blond vir verskillende gelaatskleure.

Blond met ondertone van heuning, bruin en goud werk goed vir mense met tussenin- en donker gelaatskleure omdat die kleurkontras nie te kras is nie.

  • Asblond met donker ondertone werk vir donker en tussenin-gelaatskleure. Die donker ondertone laat die velkleur en hare goed saam lyk.
  • Asblond met pienk, geel en oranje ondertone werk vir ligter gelaatskleure omdat dit warmte verleen.
  • Rooiblond werk vir ligter velkleure omdat dit nie te grof teen die vel is nie, en die ondertone verleen warmte.

En wat van jou wenkbroue?

Jy hoef nie jou wenkbroue blond te kleur net omdat jou hare blond is nie.

Donkerbruin en swart wenkbroue lyk steeds goed daarby, solank dit liggies ingekleur en nie te donker is nie.

As jy dikker wenkbroue het, kan jy dit donkerbruin maak as jy dit sagter wil laat vertoon, maar moet dit nie met ’n wenkbroupotlood invul nie.

Ekstra bronne: Lorealparisusa.com, Marieclaire.com