Om oogskadu te kies klink na ’n eenvoudige taak wanneer jy jou grimering doen, maar eintlik kan die verkeerde kleur oogskadu jou ’n ouer of moeë voorkoms gee. Dié kleurskakerings is maklik om mee te speel en kan vir enige geleentheid gemeng en pas word. 

Groen oë: Laventel en ligpers

Amanda Seyfried
Die aktrise Amanda Seyfried. Foto: Gallo Images/Getty Images

Laventel klink dalk of dit oorweldigend kan wees, maar die kleur is die perfekte skakering om groen oë mee te beklemtoon.

Die kleur in minimale hoeveelhede kan mooi en sag voorkom. En as jy beplan om vanjaar te trou en nog nie jou grimering vir die groot dag gekies het nie, kan dit perfek wees. 

Wanneer jy laventel skakerings oogskadu aanwend, is dit belangrik om perskekleurige blosser vir die wange te kies. Kombineer dit met ’n ligte perskekleurige lipglans of lipstiffie. 

oogskadu
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wenk

As jy blond of ligbruin hare het, kan die kleur liggies op die oë gebruik word. As jy donker hare het, kan jy die kleur ’n bietjie donkerder aanwend. 

Blou oë: Brons en goud

Alexandra Daddario
Die aktrise Alexandra Daddario. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om blou oë met donker kleure en swart oogpotlood te oorweldig kan oë nouer en selfs oordoen laat voorkom. Glinsterende brons skakerings werk perfek met blou oë. As jy oogpotlood verkies, word ligbruin oogpotlood aanbeveel.

As jy ligte wimpers het, kies selfs bruin maskara. Hoe natuurliker die kleurpalette, hoe natuurliker die resultaat. 

Hou die lipstiffie neutraal, maar as jy waaghalsig wil wees, kan jy van ligrooi tot die donkerder rooiwyn skakerings probeer. 

oogskadu
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wenk

Vir ’n glansryke voorkoms kan jy donkerbruin skakerings met die brons skakerings kombineer vir ’n aandjie uit. 

Bruin oë: Bruin en malvapers

Kerry Washington
Die aktrise Kerry Washington. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bruin is ’n algemene oogkleur en die kleure wat daarby pas is byna eindeloos. Neon oogskadu is deesdae een van die vuurwarm grimeergiere en is op al wat ’n loopplank te sien, maar dit klink nie na ’n goeie idee om dit bedags te dra nie. 

Die beste oogskadu vir bruin oë is neutrale skakerings soos bruin en roesbruin. Vir wange en lippe kan rooskleurige skakerings ingespan word. As jy ligte lipstiffiekleure verkies, is ligbruin en neutrale kleure gepas vir jou.

oogskadu
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wenk

Skakerings van malvapers lyk pragtig by ligbruin oë en sorg vir ’n sagte en vroulike voorkoms. 

Toe, waarvoor wag jy. Gryp daardie grimeerkwas!