Voor hy duisende dollars van jou geld bestee aan deftige pakke, snyersjeans en ontwerperstekkies waarin jy nooit regtig sal oefen nie, wil Andrew Weitz homself eers graag behoorlik voorstel. Gewoonlik beteken dit hy daag by jou huis op en bestudeer jou klerekas.

En dan gooi hy byna alles uit wat hy sien. “Hy gooi so te sê jou hele klerekas weg,” sê Neil Jacobson, voorsitter van Geffen Records in Los Angeles en ’n kliënt van The Weitz Effect, ’n konsultasiediens wat van die invloedrykste mans in Kalifornië reg help aantrek.

Die proses is aanvanklik traumaties, maar dis die moeite werd, meen Neil. Hy erken ruiterlik hy het in die verlede “belaglike” klere gekoop wat hom nie gepas of nie reg gesit het nie. Andrew het hom nuwe klere help soek wat goed sit en goed saamwerk sodat hy in enige situasie kan “veilig” voel wat sy klere betref. “Dis nie dat ek fantasties voel nie. Dis dat ek weet ek doen dit reg. En dit is baie spesiaal,” sê hy.

Vir my slaan Andrew die uitsmytery oor ten gunste van ’n beplanningsessie oor koffie in Soho House, ’n gewilde restaurant bo Los Angeles se Sunset Boulevard. Andrew (44) is nie ’n stilis nie en verpes die woord. Hy wil dit van meet af aan duidelik stel: “Ek is ’n styladviseur,” verklaar hy.

Dit gaan nie oor die klere nie; dit gaan daaroor om die man in die klere te leer om sy persoonlike styl te vind. Nadat hy langer as ’n dekade as ’n voorste Hollywood-agent met kliënte soos Rob Lowe, Ricky Gervais en James Corden gewerk het, het hy sy styldiens vier jaar gelede gestig.

Hy werk nou met sowat 80 uitvoerende hoofde van ondernemings soos Disney en HBO, entrepreneurs, skrywers, direkteure, sportmanne, tegnoleiers, opkomende assistente en ’n klomp middelvlakbestuurslui. Eers was sy kliënte almal mans, maar vroue stel hom ook nou aan.

Hy roem hom op sy diskresie; daarom bly die meeste van die name geheim. Maar Tom Brady, die Amerikaanse voetbalsuperster, is openlik daaroor dat hy The Weitz Effect gebruik, en die ikonoklastiese miljardêr Elon Musk het vermoedelik ook al Andrew se raad gevra.

Andrew se kliënte sluit in die miljardêr Elon Musk, hier by sy meisie, die sangeres Grimes.
En die Amerikaanse voetbalspeler Tom Brady, hier by sy vrou, Gisele Bündchen.

Dit help beslis dat hy ’n getroude man is met ’n ateljeebaas as vrou en ’n tweeling van 10 maande – dit laat hom toe om aan sy manlike kliënte se uitrustings te druk, pluk en knyp en om hulle te komplimenteer sonder om ongemak te veroorsaak. Maar wat op aarde trek ’n mens aan wanneer jy met dié ou gaan praat?

Dalk moet ek in sy geliefkoosde styl aantrek: ’n Italiaanse baadjie en langbroek met ’n sysakdoek in die sak, insteekskoene met fluweelfraiings en ’n horlosie wat meer as my kar kos – maar om ooglopende redes is dit onmoontlik. Eindelik kies ek my gewone uitrusting vir wanneer ek uitgaan: ’n vlootblou chino, my wit Oxford-hemp, my beste vlootblou V-halstrui en ’n paar goeie stewels.

En terwyl ek nou hier sit en al ’n halfuur lank met Andrew gesels by ’n tafel in sy sjiek kantoor met die hele Los Angeles onder ons uitgestrek, is dit ’n voorkoms waaroor ek taamlik goed voel.

“Wat het jy nou aan?” vra hy skielik. “Ek sou sê jy moes ’n ander hemp gedra het.” Wat? “ ’n Ander polo- of knoophemp.”

Sy innemende houding haal die angel uit selfs die eerlikste teregwysing. Maar hoekom nie hierdie hemp nie? Andrew dink ’n oomblik na. “Dit hang af van wat jy probeer bereik. Daar’s die verkreukelde ‘ek voel vere’-voorkoms en dan’s daar ‘ek wil meer afgerond wees’.”

Hy stoom voort.

“Ek kyk na jou en dink: ‘Werk van die huis af. Hy is ’n joernalis, maar hy gaan uit. Hy wil nie die aandag trek nie, maar kan ook nie soos ’n slonskous lyk wanneer hy ’n onderhoud voer nie.’

” Gelukkig het hy ’n plan om my van dié aaklige lot te red.

Andrew het vir hulle gesê: ‘Dit is koninklikes – julle gaan nie na die Emmys toe nie’

“My voorkoms vir jou is baie cool, byderwets, iets gepas vir jou ouderdom waarin jy gemaklik is. En ja, jy het ’n pak nodig, en ons het beslis ook ’n baadjie nodig.”

As dit die “ek voel vere”-voorkoms is wat ek wil hê, is daar niks meer wat hy my kan leer nie. Ek het dit onder die knie. Maar as ek ’n bietjie skerper wil lyk, is The Weitz Effect hier om te help.

Niemand sou Andrew daarvan kon beskuldig dat hy soos ’n slonskous lyk nie. Hy is 1,87 m lank, lenig, fiks en skraal, met ’n volmaakte stoppelbaard en netjiese gryswordende hare wat hy elke tweede Woensdag laat knip. Hy besit meer as 40 brille en ses horlosies. Vandag is die horlosie ’n Rolex.

Hy dra ’n groen James Perse-T-hemp onder ’n vlootblou Paul Smith-toeritstrui met helder strepe aan die een kant, klipkleurige AG-jeans en ’n paar kameelsuède-Isaia-skoene met gespes en wit rubbersole wat ek dink sowat R7 500 kos. En dit is Andrew in sy slenterdrag.

In sy vorige lewe, toe The Hollywood Reporter hom as een van die bes geklede agente in die rolprentbedryf bestempel het, was hy ’n bietjie “windmakeriger”, sê hy.

“Wat my ’n voorsprong gegee het, is dat ek nie ’n swart, vlootblou of grys pak gedra het nie. Ek het ’n driestuk gedra. Ek het dubbelbors gedra. Ek het nouer pype gedra. Ek het sakhorlosies, sakdoeke, dinge wat my laat uitstaan, gedra. Mense het my onthou. Hulle het my as die sakdoek-ou herken.”

Sy persoonlike styl het intussen ontwikkel. Hy beskryf dit as “sportief, deftig, elegant-informeel, konserwatief met skop, byderwets en ’n tikkie hardegat”.

Wat dit ook al beteken, dit lyk asof dit werk. Andrew word “elke liewe dag, meer as een keer” gekomplimenteer oor sy kleredrag. Hy was in 2017 een van die tydskrif GQ se 50 bes geklede mans ter wêreld.

“Hoe jy jou voorhou, is hoe mense jou sien,” sê hy. Almal kan baat vind daarby om meer hieroor te dink. Maar nie almal kan The Weitz Effect bekostig nie.

Mark Zuckerberg

“Met my werkwyse is dit nie die moeite werd om my te huur tensy jy bereid is om minstens R150 000 uit te gee nie,” sê hy. In ’n stadium vra ek wat hy vir die Facebook-stigter Mark Zuckerberg sou sê as hy sy dienste aan hom kon bied.

Andrew huiwer nie: “Hy het my nodig, want hy is op die wêreldverhoog. Dis belangrik om nie te dink dit maak nie saak nie en dan jeans en ’n T-hemp te dra. Daar’s ’n tyd en ’n plek daarvoor. Ja, jy is ryk. Ja, jy werk in die tegnowêreld. Maar daardie dae is verby. Jy is nie ’n 25-jarige wat pas sukses behaal het nie.”

Jy kan jou voorstel hoe Mark sal steier onder dié oordeel en vlugtig sal wonder of hy regtig mansjetknope nodig het. Die sosialemediakoning het wel deftiger aangetrek toe hy in April voor die Amerikaanse Kongres moes getuig, gee Andrew toe, maar dit “kon beter gewees het”.

Ek is seker die pak wat hy gedra het, het ’n fortuin gekos, sê ek. Andrew smaal. “Jy hoor baie ouens sê dit is Armani, dit is Ralph Lauren, dit is Tom Ford. Ek gee nie om wat dit is nie. Dit gaan nie oor die etiket nie. Dis hoe jy dit dra.”

Sowat ’n maand later ontmoet ons mekaar weer om te gaan inkopies doen. In daardie tyd het Andrew twee gaste vir die koninklike troue aangetrek. Hy verwag hulle sal nou gereelde kliënte van The Weitz Effect word. Albei is veterane in die vermaakbedryf.

Andrew het vir hulle gesê: “Dit is koninklikes – julle gaan nie na die Emmys toe nie,” en iets uitgesoek wat meer “verfynd” is as hul gewone aandbaadjies vir die rooitapyt.

In Mei het hy spesiaal New York toe gevlieg om Tom Brady vir die Met-gala aan te trek. Vir die projek het hy met Versace saamgewerk om drie verskillende formele voorkomste vir die wêreld se mees gesiene Amerikaanse voetbalspeler te skep, wat met die supermodel Gisele Bündchen getroud is en self ’n bietjie van ’n modefat is.

Tom kies toe die ongewoonste van die drie uitrustings: een met ’n swart aandbaadjie met goue rococo-krulle oor die lapelle en ’n swart langbroek met goue kristal daarop.

“Die volgende dag was Tom duidelik die enigste man by die Met-gala oor wie gepraat is,” sê Andrew. Dit is inderdaad so, maar nie noodwendig op ’n goeie manier nie. Daar is ook die spot met hom gedryf. Iemand het opgemerk die sportman lyk soos “ ’n Las Vegas-kulkunstenaar”.

Andrew maak dit af. “Tom is wonderlik en hy het daarvoor kans gesien. Luister, as hy nie reg gelyk het nie, sou ek nee gesê het.”

David Beckham

Rodeo Drive, in die hartjie van Beverly Hills, is Andrew se nieamptelike kantoor. Hy wag vir my by die Luxe-hotel, oorkant die sierlike rylaan waar Gucci en Prada geleë is en naby die Rolex-winkel. Jy kan hom deur ’n ring trek. Vandag dra hy ’n pers Brunello Cucinelli-langmoutop, ’n gestreepte Gucci-hemp, ’n vlootblou Salvatore Ferragamo-langbroek met ’n intrekkoord, London Sock Company-sokkies, bruin Berluti-skoene – ’n kruis tussen kerkskoene en tekkies – en ’n Patek Philippe Nautilus-horlosie.

Hy hou sy foon en sy geldknip in sy regterhand vas. “Dis ’n reël,” sê hy terwyl ons oor die straat na Brioni stap.

“Geen man behoort enigiets in hul voorste broeksak te sit nie.” Dit bederf jou buitelyn, rek die langbroek en is eenvoudig onooglik.

“Ken jy Brioni?” vra Andrew. Ek ken dit nie. Dis blykbaar die toppunt van luukse Italiaanse mansdrag: ’n plek vir mense wat baie, baie ernstig is oor snyerswerk teen pryse van R10 000 vir ’n polohemp. Ons stap reguit boontoe na ’n BBP-area waar ons op ’n roomkleurige rusbank gaan sit. Espresso word aangebied.

In die aanpasarea wag ’n rak met leerbaadjies, twee hemde en vier pakke of baadjies in my grootte – alles wat Andrew klaar uitgesoek het. Ek pas ’n blou hemp aan wat verreweg die mooiste ding is wat ek al in my lewe aangehad het. Die winkel se eie snyer word ontbied en Andrew wys presies hoe hy die langbroek met spelde moet afsteek om nog beter te pas.

Later, toe ek die langbroek baie versigtig uittrek, haak my boksers eers aan ’n speld vas en toe steek ek myself per ongeluk raak. Van die ander hoogtepunte in die Brioni-keurspel is ’n knooptrui (“Jy lyk soos ’n ou wat ’n knooptrui kan skop gee,” sê Andrew met ’n prysenswaardig uitdrukkinglose gesig) en ’n langmoupolohemp wat lieflik voel. Dan is ons klaar met Brioni.

Sy flambojante modesin het hom laat uitstaan. Hy het informeel sy kliënte en kennisse begin raad gee oor hoe om aan te trek.

Dis ’n pynlose koopervaring – al is dit omdat ek niks in die skrikwekkend duur plek gekoop het nie.

Andrew het in ’n gegoede gesin in Philadelphia grootgeword as die jongste seun van ’n suksesvolle elektriese ingenieur en ’n huisvrou met ’n skerp oog vir styl. Op 11 was hy al so gesteld op klere dat hy sy ma gesoebat het om vir hom ’n spesifieke grys kwiltbaadjie te koop.

Hy het later kommunikasie en bemarking aan die George Washington-universiteit studeer. Daar was hy so beïndruk met sy kamermaat se styl dat hy sy oorgroot 1990’s-klere vir ’n “skoon” studentevoorkoms verruil het. Daarna is hy Los Angeles toe. Sy flambojante modesin het hom laat uitstaan. Hy het informeel sy kliënte en kennisse begin raad gee oor hoe om aan te trek.

Agt jaar gelede, tydens sy ramparty in Las Vegas, het ’n vriend ’n toespraak gelewer. Dit was ’n man wat Andrew toe net twee jaar lank geken het, maar wie se klerekas hy aansienlik verander het. Sedert hy saam met Andrew begin klere koop het, het die man vertel, het hy gewig verloor en sy sakebedrywighede het merkbaar verbeter.

“Hy het gesê: ‘Ek is alles aan Andrew verskuldig. As ek hom nie ontmoet het nie, sou ek iewers in ’n sloot gelê het.’ ”

Andrew het aangedaan geraak. Hy het besef: “Dit moet wees wat ek bestem is om te doen.”

Dit het nog vier jaar geneem voor hy die sprong gewaag en ’n ander rigting ingeslaan het. Hy is oortuig ’n stylherlewing vir mans is op pad, en hy ry op daardie golf.

LeBron James
Jared Leto

Die 1920’s en ’30’s is sy gunstelingdekades vir klere, maar hy dink ook daar is vandag meer stylvolle mans as ooit tevore. Hy noem die name van Tom Brady en David Beckham, en die basketbalspelers LeBron James en Russell Westbrook. Jeff Goldblum “weet wanneer om uit te haal en wanneer om af te skaal” en “gee altyd ’n jeugdigheid aan sy persoonlike styl” sonder om jonger te probeer aantrek as wat hy regtig is.

Andrew hou van die akteurs Donald Glover en Jared Leto se speelse, byderwetse voorkoms, al voer Jared dit soms in sy geesdrif te ver. “Maar ek weet waarheen hy mik.” George Clooney lyk vanselfsprekend goed in sy pakke, maar hy stel Andrew ook soms teleur.

“Ek dink hy kan beter vaar,” sê hy.

George en Amal Clooney

“Hy is George Clooney. Ek dink hy kon beter gevaar het by die koninklike troue.” Hy kon ’n oggendpak gedra het, stel Andrew voor, en voeg by hy dink die koninklike bruidegom het baie goed gelyk.

“Hy is ’n prins, hy het ’n goeie lyf, hy is jonk en sy klere word perfek gesny.” Tog bewonder hy Harry se pa die heel meeste. Prins Charles is altyd elegant, sê hy. “Kyk wat hy dra. Dis pragtig.”

Prins Charles saam met Camilla

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk is ’n voorbeeld van ’n politikus wat weet hoe om aan te trek. (Sy voorkoms is “afgerond – en hy’s ’n fikse ou”.)

Barack Obama het deur die jare “beter uitgerus en gestileer” geword, maar wat van die huidige Withuis-bewoner? Sou Andrew Donald Trump kon laat goed lyk? “Ja, ek dink ek sou,” sê hy.

“Hy is ’n groot ou, maar as jou klere goed pas om jou lyf te beklemtoon, maak nie saak watter grootte en vorm jy is nie, sal jy magtiger, eleganter en beter geklee lyk. Ek sou ook nog ’n element by sy pakke voeg as net vlootblou om ekstra skop te gee. En, die belangrikste, speel met van sy daskeuses.”

Die president moet sy dasse met skuins strepe meer dikwels dra pleks van sy rooies, en “ons moet hulle beslis korter maak”.

Andrew weier om te praat oor watter openbare figure sleg aantrek, maar sê wat hy oor die algemeen verpes: skoene met vierkantige punte, jeans wat swak pas, bollende hemde, baadjies wat verskeie groottes te groot is. Maak sulke oortredings hom ongemaklik?

“Nee, dit maak dat ek by die foto of in die televisie wil inspring. Ek wil help.” Hy erken openlik sy ambisie is nie beskeie nie. “Ek is beslis besig om ’n bedryf te skep,” sê hy.

“Ek’s hier om te help, en ek’s ook hier om ’n sakeryk op te bou.”

Regtig, ’n ryk? Andrew glimlag breed.

“Oor twee jaar sal almal weet wat The Weitz Effect is, as hulle dit nie reeds weet nie.”

© Ben Hoyle/Times Magazine/News Syndication; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM/@ANDREWWEITZ