’n Tikkie groen

grimering,masker
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Groen is ’n prettige kleur, en jy kan jou oogskadu by jou bykomstighede laat pas vir spatsels kleur.

Dié oogskadu-kleur werk goed saam met klere en ’n masker in donker skakerings soos swart, houtskool en grys. Kies ’n donkerder groen as jy ’n donker velkleur het.

MAAK SO

Wend jou keuse van groen oogskadu aan jou boonste ooglede en net oor die vou aan.

Wend die oogskadu na die buitehoeke toe aan en skep ’n effense vleuel daarmee. Kleur jou wenkbroue net effens. Voeg ’n paar lae maskara by en jy is reg vir uitgaan. 

Wenk

Hou die res van jou grimering eenvoudig. Die helderste kleur moet groen wees en die res neutraal.

Pienk plesier

grimering,masker
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Ligpienk glimmende skadu het die regte hoeveelheid glans en kleur. Versterk die voorkoms deur ’n bruin oogskadu as basis vir die pienk oogskadu te gebruik. Die kleur werk vir die dag of aand.

’n Masker in ’n neutrale kleur sal goed hierby werk.

MAAK SO

Wend glimmende pienk oogskadu aan jou boonste ooglede aan. Wend dit aan jou onderste ooglede aan en voeg ’n bietjie na die buitehoeke toe by.

Wend bruin oogskadu aan die buitehoeke van die boonste ooglede aan en skakeer dit met die pienk in.

Wenk

Silwer werk goed by pienk. Smeer daarvan aan die binnehoeke van jou oë om dit op te helder.

Op ’n streep

grimering,masker
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Swewende oogomlyner en ander oogomlyner-trends het op die loopplank aandag getrek en is nou deel van straatstyl.

Die lekker ding van dié neiging is dat dit minimalisties is; dus kan jy ’n bietjie waaghalsiger met jou klere of masker wees. Dit sal goed werk by ’n masker met dieselfde patroon as jou rok.

MAAK SO

Begin met subtiele gevleuelde omlyner en skep ’n swewende omlyner bo. Wend ’n bleek kleur aan jou ooglid aan. Voeg diamanté by. 

Wenk

Moenie die res van jou grimering oordoen nie; jou klere en masker sal jou voorkoms aanvul.

Met vlerke

grimering,masker
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Subtiele gevleuelde omlyner laat jou oë groter lyk. Dit rond jou uitrusting af en kan saam met die meeste grimeervoorkomste gedra word. Met dié voorkoms kan jy enige kleur masker en klere dra.

Afhangend van jou velkleur kan jy bruin of donkerbruin oogskadu aanwend vir ’n tikkie rokerigheid. 

MAAK SO

Begin jou gevleuelde omlyner deur met ’n vloeibare of viltpuntomlyner ’n lyn aan jou boonste wimperlyn te skep. Trek ’n lyn bo-oor die eerste.

Skep ’n vlerkie aan die buitehoek van die oog. Verdik dit tot dit by die dikte van die lyn pas wat jy oor jou wimperlyn geskep het.

Wenk

Vir ’n dag moet jy die lyn smal hou. Vir ’n aand kan jy ’n breër omlyner skep.

Topgrimeerwenke vir wanneer jy ’n masker dra

1. Berei voor met ’n oogmasker

Hou jou oogarea mooi deur een of twee keer per week ’n onderoogmasker aan te wend. Dit sal die area soepel en glad hou en die voorkoms van plooitjies en oogsakkies verminder. Grimering lyk ook altyd beter aan ’n vel wat goed gevoed is.

2. Gebruik ’n basislaag

Oogskadu “kleef” die beste as jy eers ’n basislaag aanwend. Dié laag sorg ook dat jou voorkoms heeldag hou.

3. Onthou jou wenkbroue

Jou wenkbroue help jou gesig omraam en is belangriker as ooit noudat ons almal maskers dra.

Hou jou wenkbroue netjies deur gereeld wegstaanhare te pluk en dit met ’n wenkbroupotlood in te kleur en te vorm. ’n Tikkie wenkbroujel is ’n goeie manier om ’n boog by te voeg vir ekstra drama.

4. Benut maskara ten volle

Wanneer jy maskara aanwend, plaas die borseltjie so naby moontlik aan die basis van jou wimpers en bou van die wimperlyn en -wortel af op.

Dit sal jou die beste bedekking moontlik gee en jou wimpers lank, welig en mooi laat lyk.