Onderlaag

Die truuk is om jou onderlaagskakering by jou bors eerder as jou gesig te laat pas, want die gesig en nek is gewoonlik die bleekste dele van die lyf.

Wend ’n deursigtige onderlaag aan en dan verbloemer net aan die areas wat dit nodig het. ’n Hele gesig vol swaar onderlaag kan aangeplak lyk.

Verbloemer

Kies ’n verhelderende verbloemer pleks van een wat ten volle bedek of ligter as jou onderlaag is vir kringe onder jou oë.

Moenie dit aan vlekke gebruik nie, want dit sal die aandag daarop vestig. Gebruik eerder ’n skakering na aan jou velkleur.

Wenkbroue

Een van die algemeenste foute wat ons almal maak, is om ons wenkbroue af te skeep. As jy vol wenkbroue het, borsel dit bloot in posisie. As jy yl wenkbroue het, kleur dit in met ’n potlood of mat oogskadu wat by jou wenkbrouskakering pas, en gebruik ’n hoekkwassie vir aanwending.

Oogomlyner

Maak seker die swaarste deel van jou oogomlyner is aan die boonste lid, nie die onderste een nie, anders sal dit jou hele gesig afrem.

As jy klein oë het, is dit beter om oogomlyner aan die onderste lid heeltemal te vermy. Wanneer jy oogomlyner bo aanwend, werk van die middel van jou ooglid uitwaarts. Dis die vleiendste tegniek.

Verbronser

Tik die kwas nadat jy dit in verbronser gedruk het, anders sal jy met ooglopende strepe sit. Begin stadig en poets na die slape toe in en onder die wangbene, en borsel liggies oor die ken en teen die neus af.

View this post on Instagram

Stay close to those who feel like sunshine ???

A post shared by Rachael Brook?? (@rachael_brook) on

Blosser

Moenie glimlag en dit aan die appels van jou wange aanwend nie; jou rosige wange sal afsak as jy ophou lag en dit kan jou ouer laat lyk. ’n Ligte veeg oor die bokant van jou wange skep ’n natuurlike blos.

Verligter

Kies die regte skakering verligter (highlighter) – ’n eierdopkleur aan bleek vel of ’n goue kleur aan ’n sonbruin vel.

Lipomlyner

Kies lipomlyner volgens die lipkleur waar- mee jy jou lippe wil inkleur. Probeer dit so na moontlik aan dieselfde kleur hê. Hou by die buitelyn van jou lippe en gaan net effens oor as jy dit voller wil laat lyk. As jy dít doen, sorg dat jy goed inskakeer. Moenie vir jou ’n heel nuwe stel lippe aanverf nie!

Bleek lipstiffie

Bleek kleure moet eintlik roos- of aardse skakerings genoem word. Dis glad nie vleiend as jou lippe so bleek is dat dit by jou gesig inskakeer en jy dit nie meer kan sien nie. Vermy dus enige kleure wat soos onderlaag of verbloemer lyk. 

KYK: Rachael wys ons die regte manier van mooimaak

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.