Die nuwe hartklop-wenkbrouneiging, waar mense hul wenkbroue soos ’n hartklop op ’n EKG-masjien laat lyk, is geskep en op Instagram gedeel deur die grimeerkunstenaar Zakia Serroukh Wahbi van Koeweit. 

“Ek het net eendag wakker geword en besluit om hierdie voorkoms te probeer,” sê die kunstenaar. “Ek veronderstel dis ’n idee nes al die ander wat elke dag by my opkom,” het Zakia aan PopSugar gesê.

Maar om die wenkbroutruuk self te doen, kan nogal moeilik wees.

Eers moet jy ontslae raak van die helfte van jou wenkbrou se hare. Om hierdie illusie te skep, moet jy wenkbroujel of gom – om ’n plat oppervlak te vorm – en verbloemer gebruik.

Nadat jy jou wenkbroue met verbloemer bedek het, moet jy die ontwerp met ’n oogpotlood teken, berig The Sun.

En as jy die dramatiese voorkoms wil verbeter, kan jy oogomlyner dra wat daarby pas. 

Zakia is nie al een wat versot is op die unieke voorkoms nie – haar meer as 73 000 aanhangers kan nie genoeg daarvan kry nie. 

“Wat ’n fantastiese truuk. Mal daaroor,” het een laat hoor.

“So kreatief! Ek is baie mal hieroor,” het nog een gesê.

Bronne: metro.co.uk, popsugar.com, thesun.co.uk