STERK SKOUERS 

Span jou skouers in om hierdie herfs die koeler weer in styl te trotseer. Kies opvallende skouerversierings en pofmoue in gedempte sorbetkleure en ­oordadige olyfkleure om ’n modestelling vir alle geleenthede te skep.

Prinses Marie-Louise Sayn.
Prinses Marie-Louise Sayn-Wittgenstein-Berleburg, bekend as Lilly, dra ’n olyfgroen suède- hemp met versierde moue saam met ’n bruin rolhalstop, Brunello Cucinelli-leerlangbroek en luiperdpatroon-Zara-stewels in Bückeburg, Duitsland. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Model op die loopplank
’n Model vertoon ’n dromerige sorbetkleurige Danny Reinke­uitrusting met pofmoue by die Mercedes-Benz-modeweek in Berlyn, Duitsland. Foto: Gallo Images/Getty Images

WENK

Tekstuurryke materiale soos leer en veloer werk goed by dié trend.

Die Switserse rapper Loredana.
Die Switserse rapper Loredana stileer ’n wit hemp met ruche-­moue saam met ’n swart veloerkorset, leerbaadjie en stewels op ’n uitstappie in Berlyn. Foto: Gallo Images/Getty Images

SOKKIES EN KOUSE 

Mooi toegewikkel! Dra jou somerhakke of plat skoene saam met sokkies en kouse in kant of wol vir ’n speelse maar konserwatiewe voorkoms. 

Natalia Verza
Die kunsregisseur Natalia Verza laat die koppe draai in ’n Miu Miu- voorkoms. Sy stileer swart kouse en lang wolsokkies met hakskoene en ’n bruin luiperdvelpatroonjas vir ’n uitstappiein haar tuisstad, Parys. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Spaanse modebeïnvloeder Alba Garavito
Die Spaanse modebeïnvloeder Alba Garavito Torre stileer maaskouse met ’n Munthe-­pofmouhemp, Mirail-romp en ’n Chanel-handsak en -skoene in Parys. Foto: Gallo Images/Getty Images

WENK

Span jou afgeskeepte plat somerskoene weer in vir die koeler dae. 

Natalia
Selfs plat skoene werk vir hierdie trend. Natalia dra wit wolsokkies by swart Chanel-­leerskoene in die strate van ­Parys. Sy rond dit af met ’n wit T-hemp, denimbaadjie en ’n leerkortbroek met ’n krokodilvelpatroon van The Frankie Shop, ’n goue Chanel-kettingbelt en ’n gekwilte tweedsteek-Chanel-handsak. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kombineer wit kantkouse met skokkleure.
Kombineer wit kantkouse met skokkleure vir ’n byderwetse voorkoms soos dié ­samestelling by die Berlynse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

BYDERWETSE BLOKKE  

Die klassieke kubusvorm is weer hoogmode. Van kollegeklere tot kantoordrag – blokke, ruite en vierkante is groot nuus op straat en op die loopplank.

Bianca Derhy
Die model Bianca Derhy lyk moeiteloos sjiek in ’n Burberry-blokkiesromp, Majorelle-toppie, Vertigo-wolbaadjie en swart kouse met Zara-stewels daarby in haar tuisstad, Parys. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Model uitgevat in Skotse ruite.
’n Model uitgevat in Skotse ruite by die K-Way-modevertoning tydens die Mansmodeweek in Milaan, Italië. Foto: Gallo Images/Getty Images

WENK

Maak seker jy hou die kleure gedemp vir ­hierdie herfstrend.

Carrole Sagba
Die modeblogger Carrole Sagba kombineer ’n oorgroot geruite baadjie met ’n swart H&M-langbroek en swart Balenciaga-leerstewels in ’n krokodilpatroon in Parys. Foto: Gallo Images/Getty Images

BONKIGE TRUIE

Ligte helderkleurige truie is dié seisoen ’n moet vir jou klerekas. Geribde, kabel- of vliestruie is perfek vir die kouer weer en werk vir alle ouderdomme en style.

Die Pussycat Dolls-­sangeres Ashley ­Roberts stileer ’n oorgroot liggeel lae-V-halstrui met ’n wit hemp, roomkleurige wolbaadjie en knie- stewels in Londen. Foto: Gallo Images/Getty Images

WENK

Die trui-trend pas goed by denim- en leerstukke.

 Emilie ­Joseph
Die inhoudskepper Emilie ­Joseph dra haar Asos-oortrektrui van geweefde wol saam met ’n beige Zara-langbroek, beige Mango-leerhandsak en vaalgroen puntskoene deur Jimmy Choo in Parys. Foto: Gallo Images/Getty Images
 Elias Rumelis-loopplank
’n Bonkige moulose rolhalstrui en jeans is ’n wen­kombinasie, soos gesien op die Elias Rumelis- loopplank tydens die Mercedes- Benz-modeweek in ­Berlyn. Foto: Gallo Images/Getty Images

STYLVOLLER SLENTERDRAG

Die meeste van ons bly veilig tuis tydens die covid-19-pandemie en gemaklike sweetpakke is al waarin ons wil pryk.

 Ellie Delphine
Die Paryse modeblogger Ellie Delphine maak ’n stelling in ’n oorgroot blou oortrektrui, neonpienk sportlangbroek van Rotate en wit Gianvito Rossi-hakskoene met ’n wollerige Fendi-handsakkie daarby. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tof jou slenterdrag op met jou gunsteling-bykomstighede vir ’n byderwetse voorkoms wat nou oraloor op die loopplank en onder modebewustes gewild is.

Model op die loopplank
Kikker jou slenterdrag op met modieuse stewels soos gesien op die K-Way-loopplank tydens die Mansmodeweek in Milaan. Foto: Gallo Images/Getty Images
Model op die loopplank
Waag met ’n wit voorkoms soos dié Elias Rumelis-­skepping by die Mercedes Benz-­modeweek in Berlyn. Foto: Gallo Images/Getty Images

PATROONSAKKE

Woon jy ’n intieme geleentheid by? Maak dié seisoen ’n stelling met jou handsak, soos opvallende handsakke met ’n slangvel- of tekstuurryke patroon.

Gabriella Berdugo
Hoe groter, hoe beter. Die beïnvloeder ­Gabriella Berdugo se Gucci-drasak is ruim genoeg vir al haar noodsaaklikhede. Sy rond haar oorgroot pienk ­Essentiel- woljas en Zara-kappie­top af met bruin wolsokkies, Gucci-­slenterskoene en ’n Fendi- sonbril in ­Parys. Foto: Gallo Images/Getty Images
Carrole Sagba
Carrole Sagba stileer ’n neon­kleurige blompatroon-Dior ­Saddle-handsak met ’n swart top, vlootblou oorgroot kleurbaadjie, swart Zara-langbroek en krokodilpatroon- Balenciaga-hakskoene in Parys. Foto: Gallo Images/Getty Images

WENK

Maak ’n patroonsak die fokus van jou ­uitrusting of laat dit by jou kleur­skema pas. 

’n Geel gekwilte tweedsteekhandsak.
’n Geel gekwilte tweedsteekhandsak soos dié Chanel-een is ’n moet vir jou herfsklerekas. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Swart-en-wit blokkiehandsak.
Maak ’n mode­stelling en dra ’n swart-en-wit blokkiehandsak soos dié een van Fendi by ’n geel ­kledingstuk. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Krokodilpatroon-leerhandsak.
’n Krokodilpatroon- leerhandsak gaan nooit uit die mode nie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe