LEER UIT ONS FOUTE

Die regte skoonheidsraad kan baie blapse voorkom. 

Staal jouself met soveel kennis as wat jy kan voor jy onnodig kanse waag met iets nuuts en onbekends; jy sal nooit spyt wees dat jy liewer veilig gespeel het nie.

1. Wit laat kleur uitstaan. Gebruik dit as ’n basis aan jou oë en naels.

Wend wit oogomlyner oor jou ooglid aan en klad dit effens met jou vinger. Voeg dan jou oogskadu by vir ’n helder skeut kleur.

Doen dieselfde vir jou naels deur ’n laag wit politoer aan te wend voor jy jou gekleurde politoer aanwend. 

2. Ons het dit al almal oorgekom: Jy het jou oogskadu volmaak aangewend, maar terwyl jy jou maskara as afronding aansit, klad jy daarvan oor jou hele boonste lid en bederf jou grimering.

Vermy dit deur ’n lepel oor jou boonste en onderste lid te hou wanneer jy maskara aanwend. 

3. Hitte help krul jou hare, en dieselfde geld natuurlik vir jou wimpers.

Verhit jou wimperkruller met ’n haardroër op ’n lae verstelling.

Die warm kruller sal wimpers vinniger laat krul. Moenie dit te veel verhit nie sodat jy nie die sensitiewe vel om jou oë brand nie.

4. Laat jou oë in ’n kits wakkerder lyk deur aksentkleur net onder die boog van jou wenkbroue aan te wend. 

5. Dit kan moeilik wees om die perfekte gevleuelde oogomlyner te skep, veral as jy onervare is.

Maak dit makliker deur ’n reeks stippels in die verlangde vorm te teken.

Verbind die kolle om ’n gevleuelde voorkoms te skep.

6. Gebruik ’n lipborsel en meng lipsalf of petroleumjellie met lospigment- oogskadu aan die rugkant van die hand om ’n unieke lipstiffie te skep.

Eksperimenteer na hartelus, maar onthou die resep. 

7. As jy wil hê jou oogskadu moet donkerder of intenser wees, maak die punt van jou skadu­kwas met water nat, want dit absorbeer dan meer van die produk.

Dep dan die oogskadu en wend dit aan. 

8. Wat afskilfering betref, is daar verskillende benaderings na gelang van jou velsoort.

Vir olierige vel, skilfer twee keer per week af om puisies en verstopte ­porieë te verminder.

Vir kombinasievel, skilfer een keer per week af om steeds porieë skoon te maak, maar nie die vel uit te droog nie.

Skilfer ’n droë vel net elke 10 dae af, want dit is sensitief en verg minder afskilfering weens die gebrek aan sebum.

9. Jy hoef nie dieselfde hoeveelheid poeier aan jou hele gesig aan te wend nie, want jy lyk dalk op die ou end soos ’n spook.

Wend meer poeier aan blink plekke en minder aan minder olierige plekke aan.

En moenie poeier aanwend as jy ’n droë vel het nie. 

10. Dra waterbestande grimeer­produkte spaarsaam, want dit kan jou vel of wimpers uitdroog wanneer dit gereeld of vir lang tye gedra word. Dit is ook nogal ’n werk om die produkte te verwyder.

Maar wat jy ook al doen, moenie jou vel met mening vryf nie, veral om die delikate oogarea.

As jy waterdigte grimering het wat moeilik verwyder, druk ’n stuk watte wat in grimeringverwyderaar geweek is ’n paar sekondes aan die area, en vee die produk dan sagkens af. 

VIER SKOONHEIDSKENNERS DEEL OOK HUL BESTE RAAD

DIE REGTE ONDERLAAG

’n Algemene fout wanneer jy onderlaag koop, is om net die kleur aan jou gesig te toets, sê Monique Swanepoel (36), grimeerkunstenaar van Pretoria.

Wanneer jy onderlaag koop, sorg dat jy die kleur aan jou kaaklyn toets, want die onderlaag moet met jou nek en gesig inskakeer. 

Nog ’n topwenk is om ’n bietjie onderlaag aan jou ooglede en lippe aan te wend voor jy jou kleur aanwend.

Dit sal jou oogskadu en lipkleur langer laat hou.

GLADDE VEL 

As jy volmaakte grimering wil hê, moet jy na jou vel kyk, want ’n gladde vel skep die grondslag vir grimeringaanwending.

“Gebruik een of twee keer per week ’n skropmiddel wat ook as ’n masker dien vir suiwering en om jou vel se tekstuur glad te maak,” beveel Jessica van Heerden (26), skoonheidsvlogger van Roodepoort, aan.

“Dit sal jou ook tyd bespaar, want jy kan die masker/skropmiddel aanwend voor jy in die stort klim.

Spoel dit af nadat jy die res van jou lyf klaar gewas het.”

GEHIDREERDE VEL

Die bewering dat jy genoeg water moet drink vir ’n beter vel, is niks nuuts nie, maar dr. Janine Ellenberger (52), stigter van die velsorgonderneming GR8 SKN, stel voor jy sluit produkte met hialuroonsuur by jou skoonheidsroe­tine in. 

“Hialuroonsuur is verantwoordelik vir die behoud van vogvlakke in die vel deur dit uit die liggaam te absorbeer. 

“Om genoeg water te drink en produkte met die bestanddeel in te gebruik sal jou vel goed laat lyk en gehidreer laat voel.” 

BEREI JOU VEL VOOR

Masego Kunupi (28), stigter van die skoonheidskool en winkel Chique ­Beauty, glo jy het ’n skoon skilderdoek nodig voor jy jou grimering begin aanwend.

“Dis belangrik om ’n konsekwente velsorgroetine te volg. Voor jy jou onderlaag aanwend, reinig jou vel om verstopte porieë te voorkom en vuilheid te verwyder wat dalk jou gloed verdof. Skilfer liggies af om enige droë en dooie velselle weg te swiep wat dalk jou onderlaag onegalig kan laat aanwend of skilferig lyk. Laastens, wend bevogtiger aan. Onderlaag sink die beste by gehidreerde vel in.”