Velsoorte 

Die eerste stap is om uit te pluis watter soort vel jy het, sê Kim Franco, die bestuurder van Evolve Day Spa.

Klop aan by ’n professionele velsorgkundige soos ’n dermatoloog of velsorgterapeut wat jou ’n behoorlike ontleding sal gee en die regte produkte sal aanbeveel.

Olierige vel

Hierdie soort vel vervaardig baie sebum, wat lei tot ’n blink of olierige voorkoms. Swartkoppies, puisies en vergrote porieë is algemeen.

Kombinasievel

Hier is ’n olierige T-sone (jou wenkbroue, neus en ken) en normaal tot droë vel op ander dele algemeen. Vergrote porieë en puisies kom voor in die T-sone en die droë dele kan jeukerig en geïrriteer voel.

Droë vel

Hierdie velsoort vervaardig te min sebum, en daar is dus ’n gebrek aan lipiede (die vel se natuurlike vet) en glans. Die vel kan styf en jeukerig wees en maklik geïrriteer raak.

Hoe werk dit? 

Die basiese produkte soos wasmiddel, vogroom en sonskerm hou die vel in stand en beskerm dit. Serums gee sigbare resultate omdat hulle aktiewe bestanddele bevat wat die vel diep binnedring.

Maskers gaan verder as wasmiddels om vuilighede te verwyder, of help om hoë dosisse aktiewe bestanddele aan jou vel oor te dra.

Tydens professionele behandelings word aktiewe bestanddele onder die wakende oog van opgeleide skoonheidskundiges aan jou vel toegedien.

Die basiese 

Olie

Dr. Alek Nikolic van Kaapstad beveel gesigreinigers met hoër vlakke glikolsuur aan. Dit help die vel afskilfer en diepreinig.

velsorg
Neutrogena Hydro Boost Hydrating Lotion R159,95
velsorg
Six Glycolic Acid 8% Foaming Face Wash R415
velsorg
Celltone Sun Screen SPF 50 R199

Kombinasie

Alek beveel reiniger aan wat alfahidroksie- of betahidroksiesure van tussen 2 en 5% bevat. Dit diepreinig sonder om uit te droog.

room
Noreva Exfoliac Lotion R209,95
sonskerm
Eucerin Sun Fluid SPF 50 R249,99
room
Johnson’s Daily Essentials Oil Balancing Gel Wash R54,95

Droog 

Gebruik produkte wat die lipiedlaag van die vel beskerm en herbou, is Kim se raad.

bevogtiger
Environ Intensive Super Moisturiser + R455
bevogtiger
Elizabeth Arden Prevage City Smart Broad Spectrum SPF 50 Hydrating Shield R799
bevogtiger
Mineraline Purify Cleansing Milk R149

Serums

Olie

Alek beveel serums aan wat vitamien A, sink en keramiede bevat. Vitamien A verminder sebumvervaardiging, sink versag die vel en verminder aknee deur olieproduksie te beperk en seramiede bevog die vel sonder om die olie te vermeerder.

bevogtiger
Neutrogena Ageless Intensives Deep Wrinkle Serum with Retinol R199,95

Kombinasie

Hialuronsuur is goed vir kombinasievel omdat dit die vog in die vel aanvul en behou. Vitamien C is ook goed vir hierdie velsoort omdat dit in die vel oplos om te bevog en van binne na buite vernuwe.

bevogtiger
Sk.in Marvel Hydro Shot R1 050

Droog

Kies ’n serum met aminosure wat die vel help herstel en versterk. Alek beveel antioksidante aan soos vitamien B, C en E om die vel se beskermende lagie in stand te hou. Serums met hialuronsuur sal ook die vog in die vel help hou en aanvul.

bevogtiger
InglotLab Hydrating Day Serum R649

Maskers

Olie

Die verwydering van onsuiwerhede aan olierige vel is noodsaaklik om puisies te verhoed. Diepreinigende aftrekmaskers is ideaal om verstopte porieë oop te maak.

masker
Clicks Sea Mineral Face Mask R25,99

Kombinasie

Hialuronsuur is noodsaaklik om die vel te balanseer omdat dit die vel bevog sonder om dit olierig te maak. Dit sal die olierige en droë dele balanseer. Probeer papiermaskers wat nie agterna afgespoel hoef te word nie.

masker
Skin Republic Charcoal Peel-Off Face Mask R70

Droog

Droë vel moet sagkens gereinig word; vermy dus maskers wat die vel verder sal skoonmaak en gebruik eerder ’n produk wat iets by die vel sal voeg. Soek bevogtigende maskers met bygevoegde lipiede om die vel te voed.

masker
Lamelle Serra Lipid Recovery Mask R455

Behandeling

Olie

Kim sê alfahidroksie en melksuurafskilfering werk dikwels vir olierige vel en vel wat geneig is tot aknee omdat dit sagkens maar diep afskilfer en die vel hidreer om ’n nuwer en gladder gelaat te onthul.

“Jou vel moet egter berei word voor ’n behandeling sodat dit goed daarop kan reageer,” sê Kim.

Dit word in die salon gedoen. Sy beveel ook mikronaaldbehandeling aan omdat dit kan help met die voorkoms van akneelittekens.

Kombinasie

“Mense dink dikwels die ontwaterde dele van ’n kombinasievel is droë vel, maar dis eintlik net vel wat hidrasie benodig,” sê Kim. Sy beveel ’n swawelmasker aan wat dooie velselle verwyder en die vel laat gloei.

Droog

Jou behandeling sal afhang van watter soort droë vel jy het. Voedende en hidrerende behandeling soos lipiedmaskers help gewoonlik om die lipiedlaag op te bou, wat die vel bevog en langdurig beskerm, sê Kim.

Mikronaaldbehandeling kan met ’n droë vel help om die voorkoms van plooie te verminder deur die vel te laat herstel en kollageen en elastienvervaardiging in die vel te aktiveer.

Resultate 

Olie

Minder olierige vel met minimale tot geen puisies en verfynde porieë.

Kombinasie

’n Eweredige gelaat met minder olierigheid en ontwaterde kolle.

Droog

Bevogte en soepel vel, minder sensitiwiteit en voortydige veroudering.

Kry dit hier

Celltone (Clicks 0860-254-257); Clicks 0860-254-257; Elizabeth Arden 021-597-1700; Environ 011-268-5711; Eucerin 0860-102-091; InglotLab inglot.co.za; Johnson’s 0860-410-032; Lamelle lamelle.co.za; Mineraline (Dis-Chem 0800-201-170); Neutrogena 0860-410-032; Noreva (clicks 0860-254-257); Skin Republic (Clicks 0860-254-257); Sk.in skiningredients.com, Six 011-312-7840

Hoewel ons alles in ons vermoë doen om korrekte pryse te verskaf, kan foute voorkom waarvoor Huisgenoot en die verskaffers nie verantwoordelik gehou kan word nie.