Handreinigers het deel van ons daag­likse lewe geword en dis belangrik om te weet watter reinigers om te gebruik en hoe. Met dié dat dit deesdae so volop is, hoe kan ons seker wees ons kies die regte een?

Hoeveel reiniger is genoeg, en wanneer moet ons liewer ons hande was en voed? Ons het by kenners aangeklop. 

ONTSMETTINGSMIDDEL OF HANDE WAS?

Vrou was hande.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om jou hande met gewone seep en water te was is die doeltreffendste manier om van bakterieë ontslae te raak en moet die eerste keuse wees, meen die Amerikaanse medisynereguleerder (FDA).

Gebruik handreinigers net wanneer water en seep nie beskikbaar is nie. Reinigers droog boonop die vel uit; maak dus seker jy bevog gereeld.

Die Suid-Afrikaanse regering beveel aan dat alkoholgebaseerde handreinigers gebruik word om die verspreiding van die virus te voorkom. Hoewel daar onlangse bewyse is dat alkoholvrye reinigers die virus kan doodmaak, moet ’n handreiniger minstens 60% alkohol bevat om op sy beste te werk.

Volgens die FDA is daar geen bewyse dat ’n antibakteriese seep doeltreffender is as gewone seep en water nie. In die werklikheid kan dié soort seep meer kwaad as goed doen as dit oor ’n lang tydperk gebruik word.

Ons het met vier kundiges gesels oor die gevolge van handreinigers en hoe jy na jou hande moet omsien. 

  • Amy Knoetze (AK) Die eienaar van Pulse Dermatology and Laser.
  • Dr. Judey Pretorius (JP) Die stigter van Biomedical Emporium.
  • Su-Marie Annandale (SMA) ’n Velsorghandelsmerkbestuurder by Clere.
  • Tony Pitso (TP) ’n Handelsmerkbestuurder by Clere Pure & Protect.

Ná ’n paar uur in die inkopiesentrum waar ’n mens se hande van winkel tot winkel ontsmet word, wat moet ek doen wanneer ek tuiskom?

AK: Was so gou moontlik jou hande minstens 20 sekondes lank met seep en water. Maak seker jy was die agterkante van jou hande en tussen die vingers om te verseker jy verwyder enige chemiese oorblyfsels. Wend daarna ’n strelende handeroom aan om vir die vel ’n beskermende lagie te bied.

Kyk dat die room ’n hoë sonbeskermingsfaktor bevat om te verhoed dat ultravioletstrale die vel verouder.

SMA: Nadat jy jou hande gewas het, druk dit droog pleks van vryf, wat die vel kan irriteer. Bevog jou vel terwyl dit nog ’n bietjie klam is om die vog te behou. Handeroom is meer voedend as lyfrome omdat dit voedingstowwe soos weefselolie bevat. En moenie van jou naelvliese vergeet nie; vryf dit gereeld met naelvliesolie in.

Kan te veel ontsmettingsmiddel vir jou sleg wees?

JP: Sonder twyfel! Die enigste goeie ding is dat dit van ongewenste mikrobiese groei ontslae raak. Maar die bestanddele droog die vel uit, wat tot kontak- en atopiese dermatitis lei.Erger nog, ontsmettingsmiddels maak organismes dood wat veronderstel is om op die vel te leef om ons teen omgewingsuiterstes te beskerm.

SMA: Ontsmettingsprodukte stroop die vel van sy natuurlike olies – en aangesien die olies gewoonlik verhoed dat bakterieë na die oppervlak kom, kan die ontsmettingsmiddel die vel se eie verdediging verminder.

Hoe beïnvloed handreinigers mense wat aan ekseem ly?

AK: Dit is verskriklik. Ek sien gedurig pasiënte met kwaai ekseem-uitslae tot op die punt waar die vel vog afskei en bars. In dié gevalle dien ek dadelik vir hulle proaktiewe kollageen toe. Dit begin die genesing van binne.

TP: Ekseem is ’n droë veltoestand wat deur ontsmettingsmiddels vererger word. Dit is hoekom bevogtiging so belangrik is. Wend dus ’n handeroom aan elke keer wanneer jy ontsmet.

JP: Alkoholgebaseerde ontsmettingsmiddels irriteer die vel en droog dit uit. Dit lei daartoe dat die vel meer ontsteek en reaktief en sensitief is. 

KLEINE HANDJIES

Vrou was hande.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Moenie van die kleingoed vergeet nie! Hul handjies loop ook kwaai deur.

“Gebruik sover jy kan seep en water pleks van ontsmettingsmiddel wanneer jy jou kinders se hande was en wend agterna ’n dik, strelende handeroom aan. My seun is drie en versot op ons handewas-ritueel,” sê Su-Marie.

Die FDA waarsku dat kinders onder die ouderdom van ses jaar handreinigers onder toesig van volwassenes moet gebruik aangesien die ontsmettingsmiddel gevaarlik is as dit ingeneem word.

Onthou dat kinders en babas se sagte velletjies meer geneig is om uit te droog as volwasse vel; dus is bevogtiging belangrik om hul velle se beskermende lagie ongeskonde te hou.

Pak vir hulle ’n handeroom in skool toe om te gebruik nadat hul hande ontsmet of gewas is. Waar moontlik moet ontsmettingsmiddels aan kleintjies se hande egter vermy word.

“Babas en jong kinders het nog nie die mikrobiome-organisme wat op ons vel groei en leef om ons teen omgewingsfaktore te beskerm nie,” sê Judey.

“Dis een van die redes waarom ons ná die geboorte vel-teen-vel- kontak aanbeveel sodat die ma se mikrobiome kan help om hierdie lewende orga- nismes op die baba se vel te skep.”

Alkoholgebaseerde reinigers kan dié belangrike organismes uitwis en dit kan daartoe lei dat kinders dermatitis, ekseem, sensitiwiteit en droë vel ontwikkel. Maak altyd seker jy kies ’n babavriendelike produk.

‘Gebruik sover jy kan seep en water pleks van ontsmettingsmiddel vir jou kinders se hande’

EKSTRA VERSORGING VIR JOU HANDE

Vrou was hande.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om handreiniger te gebruik is onvermydelik, en gereelde handewas kan dit ook droog laat voel. Met die winter wat nader kruip, sal ons hande selfs droër wees aangesien die koue dikwels ons vel uitdroog. Dit is dus belangrik om jou hande te pamperlang.

Hier’s wenke:

  • Bevog jou hande ná elke was.
  • Vryf gereeld naelvliesolie aan jou naelvliese en -beddens.
  • Kry ’n paraffien-wasbehandeling vir diep voeding.
  • “Saans is die perfekte geleentheid om jou vel ’n blaaskans te gee. Wend ’n dik room aan en dra ’n paar katoenhandskoene bed toe as jy kan,” sê Tony.
  • Gebruik gereeld handmaskers.
  • Judey stel voor dat jy reinigers met ekstra versagters, soos gliserien, gebruik. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe