Horlosies

Horlosies is veelsydig en werk goed by ’n informele én deftige voorkoms. Dié bekostigbares in modieuse ontwerpe is klassiek en sportief. Kies ’n silwerhorlosie by ligte kleure en ’n goue een by donkerder kleure.

Belde

Gord jou middel in, skep ’n sterk silhoeët of voeg dimensie by met ’n patroon- of gespe- belt. ’n Breë belt sal volume skep as jou middel klein is, terwyl ’n smal belt die beste werk vir ’n groter middellyf.

WENK As jy nie kurwes het nie, kies ’n smal belt in dieselfde kleur as jou uitrusting. Smal belde kan oor rokke, oortrektruie, jasse en baadjies gedra word.

Die Duitse modebeïnvloeder Janina Pfau rond ’n ron
Die Duitse modebeïnvloeder Janina Pfau rond ’n rondehalstop, hemp, swart langbroek, Stella McCartney-­baadjie en New Balance-tekkies af met ’n Dior-belt en Lady Dior-handsak in Hamburg. Foto: Gallo Images/Getty Images

Handsakke

Geen voorkoms is afgerond hiersonder nie. Hou dit eenvoudig met byderwetse skouersakke. Dis ideaal vir al jou noodsaaklikhede wanneer jy jou dag-tot-dag-draaie draf.

Hoede en musse

Dink laphoede, barette, musse en plat pette. Dit hou jou warm en is net die ding om deurmekaar hare in die winter mee te verbloem. Kleurvolle of interessante hoede kikker boonop ’n neutrale uitrusting op.

WENK Dra ’n mus of laphoed in dieselfde kleur as jou uitrusting vir ’n modieuse, informele gevoel. Barette en plat pette is tydloos; kies dit vir ’n deftiger voorkoms.
Op ’n uitstappie in haar tuisstad kies die Berlyns
Op ’n uitstappie in haar tuisstad kies die Berlynse modeblogger Lois Opoku rooi vir haar baret, Dior-skoene en ’n Fendi-handsak en dra dit by ’n plooi­romp en top wat die kleur perfek komplementeer. Foto: Gallo Images/Getty Images

Serpe

Hou jou nek warm en gee jou uitrusting dimensie met gekleurde of patroonserpe. As jy avontuurliker is, kan jy dit as ’n belt of soos ’n sjaal dra.

Maskers

Bly veilig en lyk stylvol met hierdie maskers vir enige geleentheid.

Die Duitse modebeïnvloeder Leonie Hanne dra ’n Pac
Die Duitse modebeïnvloeder Leonie Hanne dra ’n Paco Rabanne-uitrusting en ’n silwer masker in Hamburg. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hang-oorbelle

Omskep jou voorkoms van eenvoudig in deftig met dramatiese oorbelle wat ook vir ’n tikkie kleur sorg. Dis boonop ’n maklike manier om ’n gedempte palet op te vrolik.

WENK Hangoorbelle is die beste vir ’n omgekeerdedriehoek-, hartvormige of ronde gesig. Dit skep die illusie van breedte by die kaaklyn en laat jou gesig langer en smaller lyk.

’n Gas dra op­vallende hang­oorbelle saam met ’n n
’n Gas dra op­vallende hang­oorbelle saam met ’n naaswit oortrektrui en romp by die Melbourne-modeweek in Australië. Foto: Gallo Images/Getty Images

Knoppie-oorbelle

Hierdie oorbelle is subtiel maar sjiek en maak ’n stelling. Kies klein knoppie-oorbelle met ’n bietjie blinkgoed soos diamanté en sierstene.

WENK Kies middelslag- tot groot knoppie- of hoepeloorbelle as jy ’n lang, smal gesig het, want dit sal die breedte van jou gesig verbeter. Groot, ronde oorbelle sal jou gesig breër en voller laat lyk.

Halsnoere en hangertjies

Laat jou toppe uitstaan met ’n verskeidenheid halssnoere, van kralesnoere tot treffende kettings. Bonkige items is vleiend vir ’n klein borsmaat en kralesnoere is ideaal vir groter borste.

Sonbrille

Sjiek sonbrille is ’n moet vir elke seisoen. As jou gesig breër onder, vierkantig of driehoekig is, balanseer jou gelaatstrekke met ’n katoog-sonbril. Sonbrille met slanke lyne vlei ’n ronde of vierkantige gesig.

WENK Ombree-getinte sonbrille is dié seisoen die in ding. Donkerder tinte verleen ’n bietjie misterie aan jou voorkoms.

Die Duitse tele­visieaanbieder Frauke Ludowig dra
Die Duitse tele­visieaanbieder Frauke Ludowig dra ’n Gucci-ronde­raamsonbril by ’n vlootblou rok en geweefde Saint Laurent-handsak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Borspelde

Dié tydlose modestuk het vele gebruike en verleen ’n tikkie koninklikheid aan enige uitrusting. Dra dit aan ’n jaslapel, serp of kopband. 

Die beïnvloeder Arianna Eleonora Fiorini dra ’n Ch
Die beïnvloeder Arianna Eleonora Fiorini dra ’n Chanel-borsspeld en -sonbril by ’n vlootblou streeppak, Gucci-handsak en -serp en toeryg­stewels tydens die Londense Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Haarbande

Haarbykomstighede is ’n lekker manier om met jou persoonlike styl rond te speel. Hierdie bande is perfek om ’n preppy voorkoms mee te skep.