Ons voete is ons eerste vervoermiddel en help ons met baie aktiwiteite. En al is hulle taamlik taai, het voete steeds sorg nodig. Terwyl party voetprobleme by die huis opgelos kan word, kan ander mediese aandag verg.

Ons wys jou die oorsake van en behandelingsopsies vir ’n paar algemene probleme met hakke en toonnaels.  

Algemene probleme

1. GEBARSTE HAKKE

Die vel om die hakke is dikker as op enige ander plek aan ons lyf sodat dit die omgewing, druk van ons gewig en voortdurende wrywing kan weerstaan.  

Gebarste hakke word deur ’n kombinasie van droogheid en druk veroorsaak en is ’n algemene probleem wat met die tyd kan kom en gaan.

Dit is nie gewoonlik ’n bron tot kommer nie, maar kan een word as dit nie behandel word nie. En in sommige gevalle kan gebarste hakke ’n dokter se aandag benodig. 

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

VAN DIE OORSAKE IS:

  • Swangerskap
  • Vitamientekorte
  • Atopiese dermatitis
  • Vetsug
  • Veroudering
  • Seisoensverandering
  • Dehidrasie
  • Abnormale velverdikking
  • Oop skoene
  • Genetika

SIMPTOME SLUIT IN:

  • Skilferige vel
  • Jeukerigheid
  • Inflammasie
  • Verlies aan gevoel of styfheid in die hakgedeelte

VOORKOM GEBARSTE HAKKE SO

Dié behandelings kan jy tuis beproef. Kry mediese aandag as jou hakke pynlik is of as jy teerheid en bloeding ervaar. 

Haksalf

Haksalf bevat sleutelbestanddele wat op die vel inwerk om droogheid te behandel.

Bestanddele soos ureum, alfahidroksiesure en salisielsuur help met afskilfering en versag die vel.

Week en afskilfer

Om die vel in seepwater te week versag dooie vel en maak dit makliker om af te vyl.

Smeer voet-room aan en verseël dit met petroleumjellie wanneer jy klaar is. Paraffienwasbehandeling is vir hande en voete geskik. Dit help versag en bevog die vel en seël die vog in.

Salonne bied die behandeling aan en dit is nie duur nie.

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

2. SWAMINFEKSIE VAN DIE NAEL

Dit word deur swamorganismes veroorsaak wat gewoonlik as gis of skimmel onder die nael begin. ’n Swaminfeksie kan na ander naels versprei.

Shannon te Roller, die hoofbestuurder van Mundipharma South Africa, sê: “Baie van ons dink aan swaminfeksies as bloot ’n kosmetiese las, maar vir lyers kan dit ’n aansienlike uitwerking op die gehalte van hul lewe hê.”

VAN DIE OORSAKE IS:

  • Ouderdom
  • Psoriase
  • Blootstelling aan klam gemeenskaplike areas soos storte en gims
  • Sweet
  • Atleetvoet

SIMPTOME SLUIT IN:

  • Verdikte nael
  • Slegte reuk
  • Bros nael
  • Verkleuring

VOORKOM SWAMINFEKSIE VAN DIE NAEL SO:

  • Dra skoene wat asemhaal.
  • Behandel ou skoene met ontsmet­middel.
  • Was jou hande en voete gereeld met ontsmettende of antibakteriese seep.
  • Ontsmet naelknippers ná elke gebruik.
  • Dra absorberende sokkies as jou voete meer as normaal sweet.
  • Dra plakkies in gemeenskaplike areas en was dit gereeld.
  • Besoek ’n dokter as selfsorgstappe nie gewerk het nie en die nael erger word. 
skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

3. INGROEINOONNAEL

Ingroeitoonnaels ontstaan wanneer die hoek van die nael by die vlees in pleks van bo-oor groei.

Dit kan taamlik seer wees en ander komplikasies veroorsaak. Dit tas gewoonlik die groottoon aan.

VAN DIE OORSAKE IS:

  • Jou naels word nie reguit geknip nie.
  • Jy dra skoene wat die vlees om jou toon inperk of dit oor die nael druk.
  • Jou toon is beseer.
  • Jou toonnaels buig en groei inwaarts.

SIMPTOME SLUIT IN:

  • Pynlike toon
  • Swelling aan die kant van ingroeinael
  • Rooiheid
  • Ontsteking 

VOORKOM INGROEINAELS SO:

  • Knip jou naels reguit. Gebruik ’n naelknipper met reguit lemme pleks van een met geboë lemme.
  • Hou jou naels kort, maar moenie dit in die lewe in knip nie – veral nie by die hoeke nie. 
  • Dra skoene wat nie jou tone saampers nie. 
skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ekstra bronne: healthline.com, scholl.co.uk, mayoclinic.org