Eenmalige maskers

Die maskers word gewoonlik in ’n enkelsakkie verkoop en kom in verskillende vorms voor, soos katoen, foelie en selfs jel.

Dit is nie nodig om agterna jou gesig af te spoel nie. Pleks daarvan moet jy die oorblywende produk in jou vel inmasseer.

Hulp teen veroudering

Die masker bevat velvriendelike antioksidante en minerale wat in seewier voorkom. Dit kan die vel voller en stralend laat lyk, dit teen buitefaktore beskerm en tekens van veroudering verminder.

Die sagte katoenvelmasker is met voordelige bestanddele versadig wat met aanwending aan die vel vrygestel word.

Verklein porieë

Die jelmasker bevat houtskool, ’n uitstekende suiweringstof wat vuilheid absorbeer en verwyder.

Dit help verklein porieë, wat weens vuilheid kan vergroot, gee die vel ’n verfynde tekstuur en skep ’n vlekkelose gelaat.

Gee volume

Die foeliemasker laat die vel plomper lyk met die gebruik van hialuronsuur, ’n natuurlike stof wat in die vel voorkom en vog aantrek en behou. Namate die vel ouer word, verloor dit die vermoë om vog te behou, wat tot plooie en sakkerigheid lei.

Die masker bestry veroudering deur hialuronsuurvlakke in die vel te verhoog. Die foelie vang hitte vas wat die vel vrystel en help sodoende jou vel die bestanddele beter absorbeer.

Maak helder

As jy iets anders en prettigs soek, kies ’n borrelmasker. Nadat jy die masker aangewend het, sal borrels begin vorm.

Die produk se borreltegnologie maak blykbaar die opname van bestanddele doeltreffender.

Die borrels is ’n redelike grootte en sal nie jou oë of mond bedek nie. Die masker bevat ook vitamien C, wat die vel help helder en glad maak en dit minder geplooid laat lyk.

Skilfer af

Wat dié masker anders maak, is dat dit ’n mikrodermabrasie- en afskilferproduk insluit wat jy voor jou masker gebruik.

Die afskilferproduk eksfolieer en reinig die vel en berei dit voor om die masker se bestanddele beter te absorbeer.

Die produk bevat hialuronsuur, wat die vel vog en volheid help behou, en kollageen, ’n sagte proteïen in die vel wat dit sy struktuur help behou.

Met ouderdom verloor ons sowel hialuronsuur as kollageen, wat plooie en ’n pap vel kan veroorsaak.

Skoonheidswenk
Hoe dikwels jy jou masker aanwend, sal van jou vel se behoeftes en probleme afhang. Maar een keer per week is ’n goeie reël.


Gewone maskers

Dit word in houers verpak en kan ’n paar keer gebruik word. Dit is in verskillende samestellings te kry, maar het meestal ’n romerige tekstuur. Dit word met jou vingers of ’n kwas aan jou gesig aangewend. Party bly dieselfde nadat dit aangewend is, terwyl ander uitdroog. Die meeste moet afgespoel of afgetrek word.

60 sekondes

Die kombinasie van groentee en hialuronsuur in die masker help die vel van dooie selle ontslae raak om dit vars te laat lyk. Groentee het strelende en ontgiftende kenmerke wat die vel bevoordeel.

Hialuronsuur, wat vog in die vel behou, het ook afskilferende eienskappe wat van dooie velselle help ontslae raak.

Die lekkerte van die produk is dat dit vinnig werk – jy hoef dit net ’n minuut aan te los, terwyl die meeste maskers minstens 10 minute benodig. 

Maak skoon

Moddermaskers is daarvoor bekend dat dit vuilheid absorbeer en die vel suiwer. Dit kan ook gebruik word om ’n olierige vel mat te laat lyk en puisies te voorkom. Die masker lyk soos ’n jel, maar verdig ná aanwending tot ’n tekstuur wat afgetrek kan word.

Dit help vuilheid uit die vel trek en is ’n goeie produk vir mense wat met verstopte porieë en swartkoppies sukkel.  

Verdof merke

Danksy die blinkertjievoorkoms is dit een van die gewildste maskers in die sosiale media. Die masker beloof teen- verouderingsvoordele van drop en heemswortel.

Drop het anti-inflammatoriese en verhelderende eienskappe wat donker merke en vlekke verdof, terwyl heemswortel helende kenmerke het wat vir ’n droë en geïrriteerde vel voordelig is. Neem ’n selfie terwyl jy daarmee besig is! 

Bevogtigend

Bevogtigende maskers word dikwels vir droë vel gebruik, maar kan ook voordelig wees as mense akneemiddels drink wat die vel tydelik kan uitdroog. Die masker bevat akwagenium, wat die vel se natuurlike bevogtigingsvermoë aanmoedig om optimaal te funksioneer.

Die bestanddeel gee sowel die water as die lipiede in die vel ’n hupstoot om die droë vel se beskermende laag te herbou en beskerm. 

Strelend

Die produk bevog en verjong blykbaar die vel deur twee natuurlike skoonheidsbestanddele, aloe vera en heuning, te kombineer.

Aalwyn hou baie voordele vir die vel in, want dit bevat minerale en antioksidante en het anti-inflammatoriese kenmerke. Heuning, aan die ander kant, is bevogtigend en kan die vel genees. 

Skoonheidswenk
Was altyd jou gesig voor jy jou masker aanwend. Dit werk beter aan skoon vel. Jy kan ook afskilfer om porieë oop te maak, wat jou vel die produk se bestanddele beter sal help absorbeer.

Ekstra bronne: Annmariegianni.com, Brettrobson.com, Hannon.co.za, Health24.com, Stylecraze.com, Womenshealthmag.com