LIGGAAM-ILLUSIES

SPOG MET JOU MIDDEL

Om ’n belt by jou voorkoms te voeg is een van die maklikste maniere om enige uitrusting goed afgerond te laat lyk. Omdat ’n belt die aandag na jou middel toe trek, is dit ook ’n goeie truuk om dié area te beklemtoon en definisie aan jou kurwes te gee.

Dit balanseer boonop ’n voorkoms wat andersins dalk nie sou werk nie, soos ’n lang kasjmiertrui saam met ’n midi-romp. As jy ’n tikkie glans by jou voorkoms wil voeg, kies ’n metaalbelt.

Gee ’n swart uitrusting ekstra glans deur ’n belt
Gee ’n swart uitrusting ekstra glans deur ’n belt met ’n goue gespe daarby te dra soos dié gaste by die Tory Burch-vertoning tydens die New Yorkse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

TOOR MET RUCHE

Ruche-style is wonderlik om die illusie van kurwes mee te skep. Op strategiese plekke geplaas, vlei die materiaal die natuurlike vorm van jou lyf. Ruche is oral te sien, van rokke en rompe tot in opvallende bloese. Moenie bang wees om pret te hê met die styl en helder patrone te kies nie. Dit sal ’n modestelling maak.

Die aktrise Alex­an­dra Daddario maak ’n stelling
Die aktrise Alex­an­dra Daddario maak ’n stelling in ’n vroulike Carolina Herrera-midi­rok met kolle, ruche en golwende moue tydens die New Yorkse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

SKOUER-KUSSINGS

’n Bietjie stopsel om die skouerarea mee in te vul is die perfekte regmaker om smal of hangskouers te verbeter. Skouer-kussings help jou skouers verbreed. As die voorkoms oordrewe is, oorweeg dit om die groot kussings met iets kleiners te vervang. Dié voorkoms gee ons 1980’s-nostalgie en verleen ’n lekker koel retro-gevoel aan jou uitrusting.

Die modeblogger Camila Coelho dra ’n top met skoue
Die modeblogger Camila Coelho dra ’n top met skouer- kussings saam met ’n uitkloklangbroek buite Balmain se herfs-/winter- ver­toning tydens die Paryse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

VICTORIAANSE MOUE

Victoriaans geïnspireerde moue is tydloos. Die oorgroot vorm skep die illusie van ’n slanker middellyn en verleen ’n tikkie vroulikheid aan enige voorkoms. Kies sagte kleure in die somer. Antieksjiek pofmoue kikker onmiddellik ’n basiese uitrusting op. Dit is so veelsydig dat dit as ’n kort- of langmou werk. Kies ’n korter pof by die skouer of maak ’n stelling met ’n langer pofmou.

Die ontwerper Anouki Kaladze lyk asemrowend in ’n
Die ontwerper Anouki Kaladze lyk asemrowend in ’n wit Anouki-rok met Victoriaanse pofmoue tydens die Paryse Modeweek. Sy voeg ’n belt by om vorm te skep. Foto: Gallo Images/Getty Images

BROEKE MET ’N HOË MIDDEL

Hoëmiddelbroeke is dié seisoen die moet-hê-item wat jy nie geweet het jy nodig het nie. Dit vlei jou figuur, verslank jou middel en is ’n silhoeët wat lank hoogmode sal bly.

Die model Hilary Cerezo lyk ontspanne en koel in ’
Die model Hilary Cerezo lyk ontspanne en koel in ’n denimkortbroek met ’n hoë middel in die strate van Parys. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié staatmaker is maklik om te dra. Maak seker dit sit nie by jou ribbekas nie, maar omvou eerder reg onder die naeltjie sodat dit jou op jou natuurlike middel invat en ’n uurglasvorm help skep. Dra dit saam met ’n golwende top wat ingesteek is. Die volume bo kontrasteer met die hoë middel en help om die illusie van ’n kleiner middel te skep.

Dié trend werk ewe goed met rompe soos die blogger
Dié trend werk ewe goed met rompe soos die blogger Maja Malnar hier wys. Sy dra ’n hoëmiddelpatroonromp by ’n hemp met opvallende moue tydens die Milanese Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

PLANNE MET PLOOIE

Plooirompe is gewild, vleiend en modieus. Die ingetrekte middel en langer soomlyn lyk goed aan alle liggaamsvorms. Jy kan dit informeel dra by plat skoene en ’n motorfietsbaadjie of deftig saam met hakskoene en ’n noupassende top.

  • Platgestikte plooie werk goed as jy ’n groter middel het, want dit lê platter en skep ’n verslankende effek.
  • Trekklavierplooie, of smal voue, is ’n goeie pasmaat vir ’n uurglasfiguur. Maak seker jy kies ’n grootte wat grasieus drapeer en nie die plooie oor jou maag plattrek nie.
  • Mesplooie is ’n goeie keuse vir ’n ronder onderlyf. Die voue is in een rigting gedraai, het minder volume en skep ’n verslankende effek by die onderste area. Mense met korter bene moet ’n hoër middellyn kies om hul bene langer te laat lyk. As jy kurwes het, kies ’n romp wat mooi aan jou figuur drapeer.
Sjiek in pienk! Die modeblogger Carlotta Rubaltel
Sjiek in pienk! Die modeblogger Carlotta Rubaltelli wys hoe om uit te staan in ’n pragtige romp met trek­klavierplooie. Foto: Gallo Images/Getty Images

VIERKANTPUNTSANDALE

Hierdie sandale is een van die grootste skoentrends dié somer. Die skoen met ’n hoekige styl sal dadelik jou bene vlei en laat langer lyk. Dis ’n vars en moderne manier om ’n uitrusting mee af te rond.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

VERTIKALE STREPE

Gestreepte items is nog altyd ’n klerekasgunsteling wat almal pas en altyd in die mode bly. Vertikale strepe kan ’n verslankende voorkoms skep. Aksentueer die strepe met ’n spatsel kleur of wees dapper en dra dit saam met ander patrone. Dis ook maklik om te stileer. Dra dit by ’n denimbaadjie vir ’n informeler voorkoms of saam met helder kleure vir ’n uitrusting wat uitstaan.

’n Gas dra ’n rooi-en-wit streeprok saam met bloug
’n Gas dra ’n rooi-en-wit streeprok saam met blougroen hakskoene en ’n monochrome handsak buite die Phillip Lim- vertoning tydens die New Yorkse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Smaller strepe is gewoonlik vleiender. As jy ’n langbroek kies, is dit beter om by vertikale strepe te hou as jy aan die korter kant is, want dit verleng jou figuur en skep die illusie van langer bene. Horisontale strepe aan jou onderlyf kan jou breër en korter laat lyk.

Die stilis Mecca James-Williams speel met sagte en
Die stilis Mecca James-Williams speel met sagte en helder kleure om haar romp te laat uitstaan by die New Yorkse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

STYLTRUUKS

Vir vroue

“KAMMA-INSTEEK”

Om jou top in te steek is nou hoogmode. Die geheim is om van agter af te begin. Kies ’n top wat lank genoeg is en ’n soom het wat breed genoeg is. Skep ’n rol (twist) aan die onderkant van die agterkant van jou langmoutop. Doen dit deur dit bymekaar te vat asof jy ’n poniestert maak. Steek dan die rol in die agterkant van jou langbroek in, maar steek net die onderkant van die rol in. Trek dan die rol effens uit aan die voorkant om die effek van ’n ingesteekte langmoutop te skep wat soomloos oor jou middel hang.

Vir ’n informele straatstylvoorkoms, steek ’n top
Vir ’n informele straatstylvoorkoms, steek ’n top by ’n kort romp in en rond dit af met tekkies soos dié gas by die New Yorkse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Voeg ’n belt by

Jy kan ook ’n belt inspan. Kies ’n smal belt in dieselfde kleur as die top wat jy by jou romp of broek wil “insteek”. Bind die belt om jou middel op die plek waar jy die omslag wil hê. Trek die top onder jou belt deur en vou die res van die materiaal oor die bokant van die belt om dit te bedek.

AFGESNYDE KORTBROEKE

Is jy op soek na die perfekte denimkortbroek, maar kan nie jou styl kry nie? Dalk is dit tyd dat jy in jou klerekas loer.

Volg hierdie wenke voor jy aan jou gunstelingjeans begin knip:

1. Kies jou styl Kies tussen sakkerig en noupassend, en ’n uitgerafelde of omgekapte soom. Vermy styfpassende jeans, want jy wil keer dat ’n rolletjie oorhang.

2. Kies jou lengte ’n Klassieke kortbroek sit sowat 7,5 tot 12,5 cm bo die knie.

3. Merk en knip Trek jou jeans aan en merk waar jy dit wil afknip. Trek jou jeans uit en bring in lyn met ’n liniaal waar jy dit gemerk het. Sny dit dan effens na ’n punt toe om ’n V-vorm te skep eerder as om dit regoor te knip vir ’n vleiende eindresultaat.

As jy nie wil hê dit moet te veel uitrafel nie, sal jy vir jou kortbroek ’n soom moet insit.

Stileer ’n afgesnyde denimkortbroek met ’n wit top
Stileer ’n afgesnyde denimkortbroek met ’n wit top en kort baadjie soos die stilis Linda Tol buite Schiaparelli se vertoning tydens die Paryse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

ONDERLAAGVRYE KLERE

Dis baie frustrerend wanneer grimering aan jou klere beland terwyl jy aantrek, maar dit kan maklik voorkom word. Laat lê net ’n serp oor jou gesig terwyl jy jou top aantrek en haal die serp dan af. Die serp sal keer dat grimering aan jou klere afsmeer.

STRYKTRUUK

’n Vinnige en maklike manier om gekreukelde klere glad te maak is met ’n haardroër of haartang. As jy haastig is, hang jou hemp of rok aan ’n hanger en blaas met ’n haardroër oor die plooie. Die hitte en stoom help om van die kreukels ontslae te raak. Jy kan ook ’n haartang gebruik om jou hempkraag te stryk.

SELFDOEN-VLEKVERWYDERING

As jy lipstiffiesmeersels aan jou klere het, het ons die antwoord. Spuit haarsproei aan die vuil deel, wag 10 minute en druk dit dan met ’n nat lap om die vlek te verwyder.

DIE AGTERSTEVOORHEMP-TREND

Vir ’n vars vertolking van ’n basiese hemp, probeer dit agterstevoor dra. Dié eertydse modeblaps is nou ’n groot gier. Of jy ’n oorgroot hemp of jou gunstelingwerkhemp gebruik, beproef verskillende vasknooptegnieke soos die asimmetriese opsie, en trek dit van jou skouers af of knoop dit eenvoudig van bo tot onder vas vir ’n goed afgeronde, modieuse voorkoms.

Die beïnvloeder Sandra Hagelstam illustreer die ag
Die beïnvloeder Sandra Hagelstam illustreer die agterstevoorhemp-trend tydens die Kopenhaagse Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir mans

Maak seker jy is altyd die stylvolle en modieuse een in jou kliek met hierdie maklike styltruuks

WEG MET GEEL VLEKKE

Die geel vlek aan die binnekant van ’n wit hemp se kraag is algemeen by manshemde en word deur die aanpak van sweet, dooie vel en haarprodukte veroorsaak. Smeer vlekverwyderaar aan die kraag of geel areas en laat set ’n paar minute afhangend van die hardnekkigheid van die vlek. Was dit met die hand soos gewoonweg en herhaal die proses deur ’n tandeborsel te gebruik om die vlekverwyderaar in te vryf.

BEDEK JOU VUIL SKOENE 

Wanneer jy skoene in jou kas bêre, kan jy die sole van vuil skoene van skoon klere af weghou deur dit in stortmusse toe te draai. ’n Stortmus is die perfekte grootte om oor ’n paar skoene te rek en dit bymekaar te hou. Sit die skoene langs mekaar in met die sole eerste.

HEMPMATE

Die volmaakte hemp is ’n staatmaker in elke man se klerekas. Dit laat jou afgerond lyk, of jy nou kantoor of na ’n geleentheid toe gaan of net informeel aantrek. ’n Aandhemp word gewoonlik volgens die nekgrootte of die moulengte gemeet.

Die klassieke wit hemp is ’n moet-hê in elke man s
Die klassieke wit hemp is ’n moet-hê in elke man se klerekas. Die You­Tuber Jim Chapman dra dit saam met jeans en tekkies by Oliver Spencer se lente-/somervertoning tydens die Londense Modeweek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die toets

Begin by jou nek meet. As twee vingers agter jou kraag inpas, is dit te groot.

Moulengte is ook belangrik. Wanneer dit oopgeknoop is, moet die mouboordjie net verby jou gewrig hang. As jy ’n hemp oorweeg wat jy wil insteek en laat oorhang, sorg dat die punt van die hemp nie laer as die onderkant van jou agtersak hang nie.

Hier is ’n vinnige manier om jou hempmate te bepaal

Wanneer jy moet uitpluis watter grootte hemp jy dra en niemand het om jou mates te neem nie, is daar ’n makliker manier om dit gedoen te kry. Pleks van jou lyf meet, vat jou hemp wat die beste pas en meet dit. Om akkuraat te meet, sorg dat die kraag plat lê. Meet van die middel van die knoopsgat na die middel van die kraagknoop toe.

Om jou bors te meet, knoop die hemp toe en laat dit plat lê. Meet dan van kant tot kant net onder die armholte en maal die syfer met twee. Die middel van die hemp sal die smalste punt wees. Meet die mou al langs die buiterand oorkant die mousoom. Begin aan die bokant van die skouer en eindig by die rand van die mouboordjie. Jy’s nou reg om jou perfekte hemp te gaan soek.

KIES SO ’N HOED VIR DIE SOMER

Om die regte hoed te kies lyk dalk na ’n moeilike taak, maar moenie jou bekommer nie – daar’s ’n hoed vir elke gesigvorm.

ROND

’n Ronde gesig is ongeveer so breed as wat dit lank is. Jou voorkop is breër en jy het voller wange en ’n geronde ken. Dít werk: Beproef ’n hoed met ’n bokserige kroon en/of ’n breë rand, soos ’n klein kortrand-fedora. 

DIAMANT

Jy is op jou breedste by die wangbene en jou gesig is uiters hoekig met ’n breë voorkop en ’n spits ken. Dít werk: Beproef hoede met ’n korter kroon en ’n middelslag-­breedte-rand, soos ’n breërand-­fedora.

OVAAL

’n Ovaalvormige gesig is langer as wat dit breed is met taam­lik reguit lyne wat van jou slaap na jou ken toe loop en ’n ronde ken. Dít werk: Beproef hoede met ’n korter kroon en/of ’n breër rand soos ’n trilby-hoed.

VIERKANT

As jy ’n vierkantige gesig het, het jy ’n sterk kaaklyn, breë voorkop en breë wangbene. Dít werk: Vermy style wat te plat of hoekig is. Hoedvorms met gekromde lyne soos ’n armmanspet sal veral vleiend aan jou lyk.