Aktief en aan die gang

WILLEM BOTHA (33)

willem botha
Foto: Verskaf

Sanger, akteur en TV-aanbieder  

Dié plaasseun van Riversdal is baie geheg aan sy pa, Theuns (59), ’n boer, sakeman en voormalige Wes-Kaapse minister van gesondheid.

Hoekom is jou pa vir jou so spesiaal?

Hy is my rolmodel. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat so gemotiveerd is en elke projek so voluit aanpak nie.

Maar sy mooiste eienskap is dat hy almal met ewe veel respek hanteer, maak nie saak wie jy is nie.  

Hoe beïnvloed jou pa jou styl?

Van kleins af het my ma, Sarie (57), moeite gedoen dat ek, my broer, Louis (36), en my pa altyd stylvol lyk.

My pa hou ook van mooi klere en sorg dat hy deurgaans gepas aantrek vir elke geleentheid.

Van watter geskenke hou jou pa?

Praktiese geskenke, soos iets wat hy op die plaas of om die huis kan gebruik. 

Wat is die belangrikste les wat jy by jou pa geleer het?

Die lewe is nie altyd maklik nie. Tog sal die Here nooit iets voor jou plaas wat jy nie kan oorkom nie; in die huidige COVID-19-krisis is dít veral belangrik om te onthou. My pa se liefde vir die Here is regtig inspirerend.

willem en sy pa
Foto: Verskaf

“My pa is baie lief vir ’n mooi knoophemp, veral ’n bloue. As ek blou dra, dink ek ­altyd aan hom”


Willem se stylgids

Jou staatmaker-styl

My styl is nie way-out-there nie, maar ek probeer altyd ’n bietjie anders as die gewone aantrek. Ek dra in die somer graag mooi snyerspakke by tekkies en ’n T-hemp. In die winter hou ek van ’n polonek by ’n pak.

Gunstelingitem

Vellies, en ek dra dit saam met als. En ’n swart T-hemp wat mooi pas.

Dra jy horlosies?

Ek is mal oor horlosies en sou elke dag ’n ander een dra as ek kon. 

Stylgeheim

Daar is niks aantreklikers as iemand wat selfvertroue het nie. Maak seker wat jy ook al dra, laat jou goed voel. Eenvoud is soms die treffendste; jy het nie duur ­handelsmerke nodig om stylvol te lyk nie.

Klassiek-sjiek 

EMO ADAMS (42)

Sanger en aanbieder van die talentsoekreeks Maak my famous en musiekvasvraprogram Noot vir noot.

emo adams
Foto: Verskaf

Emo is self ’n pa van vier seuns. Hy vertel hoekom sy pa, Omar (74), ook ’n sanger, so belangrik in sy lewe is.

Hoekom is jou pa vir jou so spesiaal?

In terme van mode het hy sy eie styl, wat steeds old school is. Hy dra bypassende kleure en sy sakdoek en fes pas ook by sy uitrusting. In sy jonger dae het hy altyd pakke gedra. In my grootwordjare was hy ’n baie stylvolle man.

Wat is die belangrikste les wat jy by jou pa geleer het?

Behandel almal met respek. Maak seker jy het gewerk vir als wat jy het  en dat niemand vir jou ’n aalmoes gegee het nie, want hulle kan dit altyd wegvat. Werk hard vir wat jy wil hê.

Watter stylitem herinner jou die meeste aan jou pa?

Vir seker pakke. Hy trek steeds ’n mooi hemp en onderbaadjie aan en ’n baadjie is ook ’n moet vir hom.

emo en sy pa
Foto: Verskaf

“My pa het my geleer jy moet baklei vir dit waarin jy glo, en moenie aalmoese vat nie. En wat ook al in die lewe gebeur, neem eienaarskap van jouself”


Emo se stylgids

Jou staatmaker-styl

Tekkies, jeans en ’n T-hemp. My styl is ietwat klassiek-sjiek, maar ek glo in gemak en cool as ek by die huis is. Dit sal nogal vreemd wees om heeltyd in ­pakke te wees.

Gunstelingitem 

’n Swart japon wat my vrou, Michelle, vir my gekoop het. Dis my Hugh Hefner-geïnspireerde voorkoms tuis.

Stewels of tekkies?

Op die verhoog hou ek van ’n deftige skoen, maar andersins tekkies.

Stylgeheim

Jy kan nooit verkeerd gaan met ’n kraakwit hemp wat netjies pas nie. Maak nie saak wat jou grootte is nie, wanneer klere goed pas, lyk dit net lekker. Dit wys jy ken jou lyf en jou styl.

Klassiek

ARMAND AUCAMP (33)

Akteur en kookboekskrywer.

armand
Foto: Verskaf

Armand se pa, Chris, ’n sakeman en voormalige akademikus, vier op 25 Junie sy 70ste verjaardag.

Hoekom is jou pa vir jou so spesiaal?

A, hy is ongelooflik – hy is so ’n inspirasie! Hy het geesdrif, energie en is baie vindingryk. Hy skep self en wag nie vir ander om goed te doen nie. Hy het al sy eie wyn gemaak, knap sy huis op, versorg ’n groentetuin, het sy eie olywe ingelê, sy eie reuse-besproeiingstelsel gebou en het selfs ’n doktorsgraad in geskiedenis. 

Hoe beïnvloed jou pa jou styl?

(Lag.) Ek is lief vir hom, maar ons styl verskil hemelsbreed. My pa is taamlik tradisioneel, want my ma, Petra, trek hom aan. Ek geniet die mode en probeer nog my eie styl vind. Die afgelope tyd hou ek van ’n ruwe voorkoms – soos denim op denim en vliegbaadjies. Twee somers gelede was ek gaande oor blomhemde.

Wat is die belangrikste les wat jy by jou pa geleer het?

Ek het regtig baie by hom geleer. Soos die klein lesse waarvoor hy my sitgemaak het om my dit te leer – en dan het hy deur die jare self die voorbeeld gestel: hoe om vir ’n gesin te sorg; hoe om kreatief en vindingryk te wees.

Watter stylitem herinner jou die meeste aan jou pa?

Leerstewels. In my grootwordjare het hy ’n paar van Switserland gehad wat hy dekades lank gedra het. Ek vermoed hy het dit dalk steeds en het dit al die 10de keer versool . . .

armand en pa
Foto: Verskaf

“Een ding wat uitstaan, is hoe hy ons hanteer het wanneer ons drooggemaak het. Hy sou altyd kalm en mooi vra of ons weet hoekom wat ons gedoen het verkeerd was. En aan die einde die gerusstelling gee: ‘Ons almal maak foute. Dis hoe ons leer. Maar dit gaan oor hoe jy dit regstel’ ”


Armand se stylgids

Jou staatmaker-styl

Ek mik na “klassieke man”. Die styl waarvan ek droom, is “baie ­modieus”, maar my voorkoms is waarskynlik nader aan “gemaklik koel”. Ek dra graag donker kleure.

Gunstelingitem 

’n Bruin vliegbaadjie wat my broer Christoff vir my uit Viëtnam gebring het. Dit laat my ’n bietjie soos James Dean lyk. 

Stewels of tekkies?

Stewels en vellies, maar ek hou ook van sportluukse tekkies.

Stylgeheim 

Skoene is baie belangrik. As ek  goeie skoene aantrek, verander dit heeltemal hoe ek voel. Ek het ’n paar jaar gelede Chelsea-­stewels gehad wat met elke tree klompitie-klomp gemaak  het. Dit het my baie selfversekerd laat voel. Almal kon my hoor ­aankom! 

Gemaklik cool  

DEAN SMITH (26)

Akteur, veral bekend vir sy rol as Wade in die sepie Suidooster.

wade
Foto: Verskaf

Dean vertel vir ons hoekom sy pa, sakeman John James Smith (56), so belangrik in sy lewe is. 

Hoekom is jou pa vir jou so spesiaal?

Hy is ’n rustige en kalmerende soort mens, en ek is dol oor sy droë humorsin en flou grappe. Ek dink ek het die laasgenoemde by hom geërf!

Hoe beïnvloed jou pa se styl joune?

My pa is nie die stylvolste mens nie. Hy stel gemak voorop. Hy sê altyd “gemak is cool” en dit het gemaak dat ek nie juis in mode belangstel nie. Maar ek word maklik deur ander modieuse mense beïnvloed, en as ek van iets hou, sal ek dit dra. Een van my vriende, Gantane Kusch (sy medester dr. Siya Thuli in Suidooster), hou van mode, en ek kry altyd by hom moderaad.

Wat is die belangrikste les wat jy by jou pa geleer het?

Jou karakter is baie belangrik vir jou nalatenskap, en dis wat ek vir my kinders ook sal wil leer.

Watter stylitem herinner jou die meeste aan jou pa?

’n Rugbybroek. Omdat hy altyd gemak vooropstel, is dit beslis een van sy gunsteling-kledingstukke.

wade en sy pa
Foto: Verskaf

“My pa gee graag vir ons wyse aanhalings. As hy begin met ‘onthou net’, weet jy hy is op die punt om ’n brokkie wysheid met jou te deel. Hy sê altyd ‘geld laat die wêreld draai, maar karakter maak goue musiek’ - dis die een ding wat ons van kindertyd af gehoor het”

Dean se stylgids

Jou staatmaker-styl

Ek hou van deftig aantrek, maar dit hang van die geleentheid af. Pakke is my staatmaker, maar ek sou my styl as ­“gemaklik cool” beskou.

Gunstelingitem

Pajama-gemaklike klere, iets waarin ek vry kan wees. Dis die een ding wat ek graag by die huis dra. 

Stewels of tekkies? 

Tekkies is my stoute plesiertjie. Ek dra dit graag. 

Stylgeheim

Wel, ek weet nie, maar gemak sal koning kraai. Ek is so geheimsinnig oor my eie styl dat ek nie eens self weet wat dit is nie!

Sportief  

CHAD LE CLOS (28)

Olimpiese swemmer

chad le clos
Foto: Verskaf

Chad se pa, Bert (62), verteenwoordiger van die Chad le Clos-stigting, is die swemheld se grootste ondersteuner.

Hoekom is jou pa vir jou so spesiaal?

Hy gee my die beste raad in moeilike oomblikke. Hy ondersteun my, is intuïtief en het my geleer om nederig te wees en vir die gemeenskap om te gee.

Wat is die belangrikste les wat jy al by jou pa geleer het?

Hy het dit altyd by my ingeboesem hoe belangrik familie is. Hy het my gewys hoe waardevol dit is om op enige gegewe oomblik vir jou kinders daar te wees sodat hulle hul doelwitte kan bereik. Hy het my geleer om nooit jou drome te laat vaar nie en almal met respek te behandel.

Watter stylitem herinner jou die meeste aan jou pa?

My pa speel nie gholf nie, maar hy dra graag gholfhemde omdat dit vir hom gemaklik is. 

Wat koop jy vir hom vir Vadersdag? 

Hy hou van cologne en kook. Vanjaar gaan ek vir hom ’n spesiale braaipan koop.

chad en berte
Foto: Verskaf

“My pa het my geleer om altyd almal met ewe veel respek te ­behandel, ongeag of dit ’n opsigter of uitvoerende hoof van ’n maatskappy is. Almal verdien dieselfde respek, maak nie saak waar hulle vandaan kom of wat hulle doen nie”


Chad se stylgids

Jou staatmaker-styl

Gewone T-hemde, jeans en ’n leerbaadjie. Ek dink ek het meer ’n gemaklike cool styl, maar ek dra ook graag klassieke pakke.

Gunstelingitem

Omdat ek af en toe ’n klassieke pak dra, hou ek van snyerspakke wat na maat vir my ­gemaak is. 

Stewels of tekkies? 

Ek hou van my plakkies omdat ek gewoonlik om die swembad is of oefen.

Stylgeheim 

My horlosies. ’n Goeie horlosie is vir my ’n staatmakerstuk, en dit laat my soos ­James Bond voel.

Lekker loslit  

VILJÉ MARITZ (30)

Akteur en TV-aanbieder.

vilje
Foto: Verskaf

Dié Fiësta-aanbieder, wat later vanjaar vir die eerste keer pa word, vertel hoekom sy ewe bekende akteurpa, die Alles Malan-ster Albert Maritz (60), so spesiaal vir hom is.

Hoekom is jou pa vir jou so spesiaal?

Wat is daar om nié van te hou nie? Hy is net ’n super­lekker ou met ’n geesdrif vir die lewe en vir die mense om hom. 

Hoe beïnvloed jou pa se styl joune?

(Lag.) Ek dink nie ek het al ooit ’n styl gehad nie. Mense sal my waarskynlik as ’n bietjie van ’n beach bum sien in my kortbroek, ’n moulose T-hemp van Thailand of Viëtnam, en plakkies. Ek het sowat vyf pare. Ek kry wel af en toe lus om modieus aan te trek soos Armand Aucamp, meestal vir geleenthede, troues, ensovoorts. Of om soms net saam met my meisie, Lianry Botes, kerk toe of na die winkelsentrum te gaan. Ek is nie ’n pak-ou nie, maar modieus vir my is ’n mooi noupyplangbroek by diksooltekkies, ’n kortmouknoophemp en ’n modieuse New Age-trui.

Wat is die belangrikste les wat jy by jou pa geleer het?

Om getrou aan jouself te wees en hard te werk. Ek sukkel ’n bietjie met die hard werk, maar ek is darem nie bang vir werk nie.

Watter stylitem herinner jou die meeste aan jou pa?

Beslis ’n trui. Ek kan my hom nie sonder ’n trui voorstel nie.

vilje en sy pa
Foto: Verskaf

“Hopelik is die inperking teen ­Vadersdag verby, dan sal ons van Wildernis af Kaap toe ry en lekker saam met hom braai. Om net by hom te wees is ’n wonderlike geskenk. Hy word vanjaar ook oupa, want my meisie sal op Vadersdag vier en ’n half maande swanger wees”


Viljé se stylgids

Jou staatmaker-styl

Beslis “gemaklik cool”. Ek hou daarvan om af en toe ’n snyerspak of jeans te dra, maar nie elke dag nie.

Gunstelingitem

Dis ’n moei­like een wat sal wissel van my ­onesie tot my ­gunstelingtekkies. Ek hou van my skoene, al dra ek dit nie dikwels nie.

Tekkies of skoene?

Meestal plakkies. Tekkies, vir as ek in skoene moet uitgaan of as dit koud is. En natuurlik my vellies; die sole is al deurgeloop en ek sukkel om iemand te vind wat skoene versool, maar ek gaan nie van hulle ontslae raak nie. 

Stylgeheim 

Versorg jou hare en gesig, selfs al gaan jy vir die branderplankryer- voorkoms. Gesig-room is baie belangrik. Versorg jou vel in jou jong dae en jy sal beloon word wanneer jy ouer is.