Dit gons omtrent in skoonheidsland oor klassieke naelkleure en -ontwerpe. Ons kyk na vyf glansvroue wie se naels altyd op hul beste lyk. Dit inspireer dalk net jou volgende manikuur. 

Gekleurde Franse manikuur

Talle bekendes is al met 'n gekleurde Franse manikuur aan hul naels gewaar. Die voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters is een van die glansvroue wat die skoonheidsneiging beproef het.

Sy het onlangs ’n foto van haar perfekte pienk pastelgekleurde Franse manikuur op Instagram gedeel en ons is mal daaroor. 

View this post on Instagram

New ????

A post shared by Demi-Leigh Tebow (@demitebow) on

As jy jou naels kort verkies en inspirasie soek vir jou volgende manikuur, is die monotoon-gekleurde Franse manikuur beslis ’n ontwerp om te oorweeg. 

Klassieke wit naellak

Wit naels is nou maar eenmaal een van die sjiekste manikure en naelkleure wat jy vir enige seisoen kan dra. Die naelkleur lyk omtrent vars en gee definisie aan die natuurlike nael.

Die sangeres Demi Lee Moore het op Instagram met haar pragtige manikuur gespog en ons is mal oor die eenvoud daarvan. 

Die wit naelkleur lyk sjiek op enige lengte naels, maar lyk altyd op sy beste wanneer die naellengte kort is. Dis beslis een van die seisoen se gunstelinge en sal nog lank te sien wees. 

Ombré-manikuur

Angelique Potgieter se naels is al die inspirasie wat jy nodig het as jy nog oor jou volgende manikuur kopkrap. Die amandelvormige ombré-manikuur is pragtig. 

View this post on Instagram

@nunailsstudio baby! ????

A post shared by Angelique Potgieter (@angeliquegerber83) on

Beplan jy om binnekort voor die kansel te staan? Dan kan jy beslis die ma van drie se voorbeeld volg. 

As jy waaghalsig wil wees, kan jy kleure vir ’n ombré manikuur meng en pas nes jy wil. Neon ombré manikure is deesdae ook hoogmode en lyk baie sjiek by enige naellengte. 

Pragtige pienk 

Die sangeres Irene-Louise van Wyk se manikuur is pienk perfeksie! Dis geen geheim dat die ma van een dol is oor alles pienk nie en ons is versot op dié lang, boksvormige pienk manikuur.

Boksvormige lang naels is gewild en lyk mooi in enige kleur en ontwerp. Hierdie kleur is perfek vir lente om 'n ekstra tikkie kleur by jou uitrusting te voeg. 

Klassieke rooi naels

Die geselsprogramaanbieder Minki van der Westhuizen het onlangs ’n foto van haar pragtige rooi naels op Instagram gedeel. Dis een kleur wat weinig uit die mode gaan en bly klassiek, maak nie saak hoe lank of kort jou naels is nie. 

As jy gaande is oor rooi naels, is dit belangrik om die regte skakering van rooi vir jou velkleur te kies. Rooi naellak lyk ook beter in jel eerder as ’n mat afwerking.

So, watter een van hierdie klassieke naelkleure gaan jy eerste probeer?