Die eerste keer toe mode en grys hare mekaar ontmoet, was toe die aktrise Meryl Streep in 2006 die rol van die ikoniese en stylvolle Miranda Priestly in The Devil Wears Prada vertolk het. En vandag is dié grys haredos omtrent gewild in Hollywood.

Hier is vyf van Hollywood se A-lys vroue wat gekleurde hare vir grys hare verruil het. 

Sharon Osbourne

Die 67-jarige Britse TV-aanbieder en skrywer se rooi bob is jare lank kenmerkend aan haar. Volgens die Hollywood-haarstilis Jack Martin het Sharon die afgelope 18 jaar elke week haar hare rooi gekleur. 

Die vrou van die rockster Ozzy Osbourne, het toe die haarstilis ingespan om haar rooi hare in 'n ysige grys haredos te omskep.

View this post on Instagram

#oprahs2020visiontour

A post shared by Sharon Osbourne (@sharonosbourne) on

Die ma van drie wou glo ’n ruk lank al haar hare grys kleur, maar was so geïnspireer deur die aktrise Jane Fonda se nuwe grys haredos dat sy eindelik die kans gewaag het. En ons is mal daaroor! 

Jane Fonda 

Jane het die asems weggeslaan toe sy vir die eerste keer met ’n kort grys kapsel by vanjaar se Oscars raakgesien is. En dié nuwe voorkoms is ook aan die Hollywood-stilis Jack Martin te danke. Jack, wat in die glinsterstad bekend is vir gryshare-gedaantewisselings, het ook dié 82-jarige aktrise se aandag getrek.

Jack was weke lank vol bespreek, maar het op sy afdag, die Sondag voor die Oscars op 10 Februarie, spesiaal Jane se hare gekleur. Sy het beeldskoon gelyk en presies gewys net hoe sjiek grys hare kan wees.

Maye Musk

Die 71-jarige model en ma van die tegno-miljardêr Elon Musk het in ’n vorige onderhoud met Chatelaine.com verklap dat sy jare lank lang blonde lokke gehad het. 

Sy het dié lokke gegroet nadat een van haar beste vriende voorgestel het dat sy haar hare kort knip. Maye, wat al byna 50 jaar lank modelwerk doen, het haar hare korter geknip en die blonde kleur laat uitgroei.

Maye doen steeds modelwerk en is op 67 as die gesig van die Amerikaanse grimeringhandelsnaam Cover Girl aangewys.

 “Ek het besef dat hulle vroue met grys hare vir modelwerk soek. Ek voel glad nie die stigma rondom grys hare nie,” het die beeldskone Maye verklap. 

Jamie Lee Curtis

Dié aktrise, wat in 1978 naam gemaak het in die fliek Halloween, is beslis een van die baanbrekers vir die grysharetrend in Hollywood. Sy dra reeds jare lank dié sjiek grys pixie haarsnit. 

Jamie laat op 61 steeds die koppe draai wanneer sy op die rooitapyt verskyn en is een vrou wat weet hoe om ’n pak te dra!

Helen Mirren

Hierdie Oscar-bekroonde aktrise is ’n ware haarverkleurmannetjie en het al van platinum blonde hare tot ’n pienk gekleurde haredos gehad, maar haar hare by vanjaar se Golden Globes-prysaand was omtrent benydenswaardig.

Dié aktrise het asemrowend gelyk in ’n wynrooi Dior-aandrok afgerond met diamante ter waarde van $4 miljoen om haar nek.

Die kersie op die koek was wel Helen se grys haredos. In ’n onderhoud met Bella Magazine sê sy: “Wanneer jy jonk is, is jy paranoïes en treurig. Die wonderlike ding wat gebeur wanneer jy ouer raak is dat jy nie regtig omgee nie.”


Dié haarneiging is een wat nie sommer gou uit die mode sal gaan nie, maar sal jy dit beproef? 

Bronne: Bella Magazine, MSN.com, Insider.com, Chatelaine.com, Goodhousekeeping.com, Dailymail.com