Of dit ’n goeie vriendin, geliefde kollega of enige hegte familielid se troue is, is dit belangrik om te onthou dat die fokus van die dag op hulle moet wees.

Die ideal is 'n uitrusting wat nie uitstaan of die bruid in die skadu stel nie, maar ook iets wat jou op jou beste laat voel. Dit moet verkieslik weer vir 'n ander geleentheid aangetrek kan word, en jy moet ook nie deur twyfel gekonfronteer word en weer van vooraf deur jou kaste grawe om ’n uitrusting te soek, net voordat jy moet vertrek nie.

Jy kan na Pinterest of Instagram draai vir inpirasie, want daar is koninklikes en van Hollywood se glansryke vroue wat hierdie sort uitrustings elke keer regkry.

Vyf uitrustings wat werk

1. Minimalisme

’n Eenvoudige rok met ’n klassieke snit en kleur is al wat jy nodig het om pragtig te lyk op die dag.

’n Bekende wat dit perfek gedoen het was die tennisster en goeie vriendin van die hertogin van Sussex, Serena Williams. By Meghan en Harry se glanstroue het Serena beeldskoon gelyk in ’n eenvoudige knielengte, sagte pienk rok. 

Serena Williams
Foto: Gallo Images/Getty Images

2. Blompatrone

Blompatrone op vloeiende materiaal is sag en romanties en werk perfek vir ’n lente-troue. Lady Kitty Spencer, broerskind van prinses Diana, lyk altyd beeldskoon in die mooiste blompatrone.

Dié soort rok en patroon transformeer maklik van dag tot aand. As jy vir die onthaal iets bietjie dramaties wil probeer, dra rooi of ’n helder pienk lipstiffie.

Kitty Spencer
Foto: Gallo Images/Getty Images


3. Sagte kleure

Kate Middleton, hertogin van Cambridge, is ook die hertogin van styl. As dit by pastelkleure kom, dra Kate dit die beste. Sagte kleure soos poeierblou, sagte pienk en selfs sagte geel is hoogmode.

Van pakke tot rokke, dis deesdae op al wat ’n winkelrak is beskikbaar. Dié pragtige uitrusting is beslis inspirerend.

Kate Middleton
Foto's: Gallo Images/Getty Images

4. Glansryk

As dit by glans kom, is Priyanka Chopra geen groentjie nie. Sy het beeldskoon gelyk by die onthaal van prins Harry en Meghan. As dit ’n baie deftige troue is, is blinkers en glans ’n goeie opsie.

Hou dit wel eenvoudig en vermy blinkers van kop tot tone. 

Priyanka Chopra
Foto: Instagram/@Mimi Cuttrell

5. Helder kleure

Van oranje tot pienk, helder kleure is vuurwarm hierdie seisoen en beslis aanvaarbaar vir enige troue. Amal Clooney was een van die gaste wat beslis die koppe laat draai het by prins Harry en Meghan se troue. 

Amal Clooney
Foto: Gallo Images/Getty Images

Vermy dié modeblapse by troues

1. Wit

Tensy die troue se voorgeskrewe drag jou versoek om wit te dra, is veral wit rokke nie aanvaarbaar nie, aangesien dit die bruid se voorreg is om wit te dra op haar troue.  

bruid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

2. Swart

Om deesdae swart na troues te dra is ’n aanvaarbare neiging in Hollywood, maar dié kleur kan dalk donker en baie intens wees vir ’n dag-troue. As jy wel donker kleure verkies, is donkerblou of -groen ’n gepaste alternatief. 

Shay Michelle
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

3. Hou by die dragkode

Sommige bruide het ’n volledige visie vir hul troue en dit sluit die gaste se drag in. Indien die dragkode van jou verwag om semi-formeel aan te trek of aan die deftige kant te wees, is dit nie heeltemal gepas om met jeans en ’n T-hemp op te daag nie. 

Jeans en Tshirt
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

4. Te kaal

Vermy rokke wat dalk te sexy of kaal kan wees. Deursigtige en baie kort rokke is dalk nie die beste keuse vir dié geleentheid nie. Jy is nie veronderstel om aandag van die bruid af te lei nie.

Tinashe
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

5. Vermy die strooimeisierok se kleur

Om as strooimeisie gekies te word, is ’n spesiale voorreg van die bruid en bruidegom. Dié rol is belangrik en die strooimeisie se status word ook beklemtoon deurdat haar rok se ontwerp en kleur inpas by die algemene styl van die troue. Indien jy nié 'n strooimeisie is nie, sal dit beter wees om nie dieselfde kleur as sy aan te trek nie. 

Indien jy nie weet watter kleur dit is nie, en dit nie kan aflei van die huweliksuitnodiging nie, vra dalk die bruid wat die strooimeisies se kleurskema is voordat jy jou uitrusting kies. 

strooimeisies
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maak nie saak wat jy dra nie, dit bly belangrik om die dag vir die bruid en bruidegom so spesiaal moontlik te maak!