As dit by styl en mode kom, weet van Suid-Afrika se glansryke skoonhede net hoe! Dis een van die grootste byeenskomste in die modewêreld en die voormalige Mej. Wêreld, Demi-Leigh Nel-Peters, en die huidige Mej. SA, Zozibini Tunzi, het vandeesweek omtrent die koppe laat draai in New York.
Zozibini het die Sherri Hill-modeskou bygewoon en het omtrent sexy gelyk in ’n swart leernommertjie.
Stiliste speel ook omtrent pop met Demi-Leigh en sy is in ’n paar stylvolle uitrustings gekiek. In die mees onlangse foto wat sy Woensdag in die sosiale media gedeel het, is sy in ’n geel blinker belaaide romp en wit toppie te sien. Die pragtige uitrusting is deur ontwerper Allen Schwartz bymekaar gesit.
Sy is ook Maandag gekiek waar sy beeldskoon gelyk het in ’n rooi leerrok deur ontwerper Zeynep Arçay.
Dit was verder ’n groot hoogtepunt in die loopbaan van Suid-Afrikaanse model, Carmen Lee Solomons, wat deelgeneem het aan die Pretty Little Things x Saweetie modeskou. Die model met haar unieke styl het reeds met van Hollywood se groot name soos Kylie Jenner en sangeres Rihanna gewerk.
In ’n vorige onderhoud met Huisgenoot het die model vertel dat sy as kind maar skaam was en nie eintlik vriende gehad het nie. Sy is ook ‘vuurhoutjie’ genoem – en nóú steek sy behoorlik die modewêreld aan die brand.
Vir die sangeres en besigheidsvrou Rihanna was dit ook ’n groot aand toe sy haar eie onderklerereeks genaamd Fenty x Savage bekendgestel het.
Dié affêre was glo topgeheim en kon slegs bygewoon word as jy ’n uitnodiging ontvang het. Bekendes soos Kim Kardashian en model-susters Bella en Gigi Hadid het dié modeskou bygewoon.
Serena Williams het ook haar eie klerereeks, S by Serena bekendgestel en het baie sjiek gelyk in ’n slangvel gedrukte romp, swart bloes en swart tekkies. Haar kleinding was saam met haar op die verhoog.
Die plusgrootte model, Ashley Graham, was ook by New York se modeweek raakgesien, maar dié keer het die model met haar bababoep die loopplank aangedurf.
Sy het op haar 9de huwelikherdenking op Instagram aangekondig dat sy swanger is en het omtrent met haar bababoep voor die kameras gespog.
KYK: HIER IS VAN DIE MODES EN BEKENDES BY NYFW 2O19
Bronne: Marie Claire, Elle, People, News.com, BBC
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET