Dit voel of ek bloedrooi bloos voor hy deur my klerekas begin kyk. Hier is immers geen ontwerpersklere, Jimmy Choo-skoene of ’n Louis Vuitton-handsak nie . . .

Terwyl die stilis Werner Wessels ingedagte na my klere kyk, wonder ek benoud of dit die mas sal opkom. Hy is die stylghoeroe wat skoonhede soos ons Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters, en voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss gehelp het om hul beste voetjie in dié kompetisies voor te sit – wat sal hy van my kleresmaak dink?

View this post on Instagram

Serving face with @rolenestrauss ??

A post shared by Werner Wessels (@werner_wessels) on

En watter raad het hy vir ’n gewone vrou soos ek? Maar gou besef ek vir Werner (29) maak dit nie saak of iemand ’n stylkoningin of doodgewoon is nie.

“Ek het begin agterkom mense maak soms opmerkings oor hoe hulle nie ’n Rolene of Demi-Leigh is nie, of hoe ek net meisies mooimaak wat ’n grootte 8 dra,” vertel hy terwyl hy my hemde, broeke en skoene bekyk.

Lank voor hy bekend geword het as die “geheime wapen” wat talle skoonhede gehelp het om die Mej. Suid-Afrika-titel te wen, het Werner gewone vroue oor die land heen, van Rustenburg tot Worcester, se klerekaste help opkikker. “Ek wil hê my werk moet ’n ode aan alle vroue wees,” sê hy.

“Ek wil elke vrou op haar beste laat voel, maak nie saak wie of wat sy is nie.” En dis dan ook wat hy wil doen met sy nuwe mooimaak-werklikheidsreeks, Die Kroonprins, wat onlangs op VIA, kanaal 147 op DStv, begin het.

Dié program bied ’n blik op dit wat hy as stilis en raadgewer in die openbare oog vir skoonheidskoninginne doen, maar die fokus is sy hulp en wenke aan vroue van alle agtergronde, groottes en ouderdomme.

“Ek weet hoe ’n vrou se selfvertroue toeneem wanneer sy goed lyk. Ek wil hê ’n vrou moet by ’n vergadering met 15 mans instap en kan sê: ‘Ek weet julle kyk na my en dink ek lyk goed, maar nou gaan julle luister na dit wat ek wil sê.’

“Elke vrou moet so voel – of dit nou ’n ma is wat haar kinders by die skool oplaai, ’n onderwyseres wat voor ’n klas staan, ’n sakevrou in ’n konferensiesaal of ’n Mej. Suid-Afrika op ’n verhoog.”

Ek voel soos een van die vroue in sy TV-program terwyl Werner gereed staan om my oor my uitrustings te adviseer. “Orraait, kom ons praat,” val hy weg en vra dat ek uit my kas ’n tipiese uitrusting vir ’n werkdag moet kies.

Ek aarsel ’n oomblik en haal dan ’n smaraggroen bloes, ’n swart broek en swart rondepuntskoene uit.

’n Helder uitrusting lyk mooi saam met neutrale bykomstighede. Foto: Misha Jordaan
’n Belt kan ’n mens se middel beklemtoon. Foto: Misha Jordaan

“Ek is gek oor jou keuses, maar dié items werk nie noodwendig saam nie,” merk hy op. Hy sif deur my kas en vervang dan die swart broek en skoene met ’n roomkleurige broek en skoene met ’n skerp punt. Dadelik sien ek hoe die groen en swart kontrasterend was.

“Dis ’n algemene stylfout, want dit is die maklikste om swart by ’n helder kleur te voeg,” verduidelik hy.

“Omdat die swart broek basies is, val die fokus net op die groen bloes. Iemand sal dan sê: ‘Dis ’n mooi hemp’ pleks van ‘Jy lyk mooi’ of ‘Jy het ’n mooi uitrusting aan’. ”

Ek het ’n plat skoen gekies, maar Werner verkies ’n hak. “Daar is net ’n elegansie aan hakskoene wat ’n vrou besonder statig en vroulik laat lyk, selfs al is dit ’n lae platformhak.

As jy plat skoene werk toe dra, kies ’n skoen met ’n skerp punt; ’n ronde punt skep ’n informeler gevoel,” deel hy nog ’n waardevolle wenk. Daarna vra hy my om ’n uitrusting te kies wat ek sal dra vir ’n aand uit saam met vriendinne.

Ek haal ’n mosterdgeel rokkie uit en Werner juig oor my helder keuse. “Vroue is dikwels bang vir kleur,” sê hy en verduidelik dat jy ’n kleurryke uitrusting in toom kan hou deur jou bykomstighede neutraal te hou.

Werner meen die belangrike ding is om seker te maak dat al die items wat jy dra goed saamwerk. Foto: Misha Jordaan

Dus, vir saam met my geel rok kies hy ’n handsak en belt van ’n soortgelyke bruin kleur. Voor Werner my kas ingevaar het, het ek probeer veilig bly deur ’n basiese swart broekpak vir sy besoek aan te trek.

“Jy kan enige tyd swart dra, maar moenie dit vervelig maak nie,” gee hy raad.

Hy hou van my keuse, maar stel voor dat die swart treffender sal wees as ek ’n belt om my middel bind. Ek sien dadelik die effek toe hy ’n blink belt byvoeg. “Die belt definieer jou middel en so word die aandag na die kleinste deel van jou liggaam getrek,” sê hy.

Hy wys ook hoe ek my vroeëre keuse van ’n swart broek beter kan aanwend deur ’n bloes met swart en wit strepe daarby te kies. Vir definisie draai hy ’n bruin belt om my middel, en die bykomstigheid se kleur word met ’n bruin handsak en skoene herhaal. Wie sou nou kon raai dat swart en bruin so goed saam pas?

“Dit pas absoluut saam,” verseker Werner.

“Die belangrike ding is dat die items as ’n geheel moet saamwerk.”

Dis sy beurt om ’n uitrusting te kies. Hy kies ’n patroonbaadjie en definieer my middel deur weer ’n belt om dit te knoop. “Jy het heelwat bonkige baadjies wat nogals pofferig is,” sê hy.

Die resultaat nadat Werner Marisa gehelp het om ’n swart uitrusting op te vrolik. Foto: Misha Jordaan

“Jy het ’n mooi figuur; moet dit dus nie wegsteek nie. Baie vroue dink hulle moet groter klere dra om lyf weg te steek, maar dan lyk hulle groter as wat hulle eintlik is.”

Sy keuse van ’n roomkleurige broek tel ’n deel van die baadjie se patroon op, terwyl my vlootblou skerppuntskoene die ander deel se kleur beklemtoon. Hy voeg neutrale bykomstighede by, en voila! Nou weet ek hoe om die klere in my kas beter aan te wend en voel ek gereed vir daardie vertrek vol 15 mense.

Werner het in Pretoria grootgeword en later aan die London International School of Fashion studeer. Hy het al as vyfjarige seuntjie die wonderwêreld van mode ontdek.

Hy het een aand gekyk hoe sy ma, Marinda, ’n finansiële bestuurder, haar mooimaak om sy pa, Johan, ’n sakeman, na sy weermagdinee te vergesel. “Sy het haar rok self gemaak.

Dit was ’n smaraggroen rok met pofmoue, ’n lae rug en ’n groot strik agter – ’n regte 1990’s-rok. Haar skoene was met dieselfde materiaal oorgetrek.

“Met haar vlamrooi hare en in die groen kleur het sy so mooi gelyk, ek het myself aan haar verkyk.”

Sy vriendskap met die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam het in gr. 10 in die Hoërskool Waterkloof se kunsklas begin. Hulle was gedurig in die moeilikheid omdat hulle nie hul werk doen nie. “Ons het Mej. Suid-Afrika-rokke geteken.”

Toe sy eindelik aan dié kompetisie deelneem, het Werner haar bygestaan. Hy het homself sedertdien gevestig as dié adviseur om aan jou kant te hê as jy jou oog op ’n skoonheidstitel het.

Benewens Melinda het hy as afrigter en stilis – maar ook as vertroueling en vriend – nog vier vroue die Mej. Suid-Afrika-kroon help wen: Demi-Leigh in 2017, Rolene in 2014, Liesl Laurie in 2015 en Ntandoyenkosi Kunene in 2016.

Hy is deesdae heeltyds by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie betrokke en help elke jaar al die finaliste met hul voorbereiding.

Hy staan Tamaryn Green nou by, wat in Mei vanjaar as Mej. Suid-Afrika gekroon is en Suid-Afrika later vanjaar in die Mej. Heelal-kompetisie sal verteenwoordig, asook vir Thulisa Keyi, wat in Mei as Mej. Wêreld Suid-Afrika aangewys is en later vanjaar aan dié kompetisie deelneem.

Pasop, wêreld: Nog ’n Mej. Heelal of Mej. Wêreld is dalk uit die suidpunt van Afrika op pad. En met Werner aan haar sy sal sy ewe mooi lyk in ontwerpersklere as in doodgewone items uit haar eie kas.

  • Die Kroonprins met Werner Wessels word elke Donderdag om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 17:00.
Werner se wenke
  • Moenie nee sê vir kleur nie; kry ’n skakering wat by jou pas.
  • As jy nog na ’n styl op soek is, koop al jou items uit dieselfde klerereeks. Jy kan dit dan stuk-stuk met items uit ander reekse aanvul.
  • Raak ontslae van enigiets wat jy langer as twee jaar nie gedra het nie.
  • Benut jou klere optimaal deur dieselfde items saam in ’n afdeling van jou kas te organiseer. Hierna kan jy dit ook volgens kleure koördineer.
  • As jou bykomstigheid kleurryk is, hou jou uitrusting eenvoudig, en omgekeerd.