Natasha Joubert (23), wat vroeër vandeesmaand na Amerika vertrek het, het in die sosiale media laat hoor hoe dankbaar sy is vir Suid-Afrikaners se ondersteuning en boodskappe van bemoediging.

“Suid-Afrika, ek dra jou saam met my. Dankie vir die ontelbare boodskappe van ondersteuning, ek waardeer dit uit die diepte van my hart. Ek is gereed en dankbaar om die naam van my geliefde land op my bors te dra,” het sy by ’n pragtige foto van haarself geskryf.

Sy gaan nou die land in die Mej. Heelal-kompetisie by die Seminole Hard Rock Hotel & Casino in Hollywood verteenwoordig in die hoop om die vierde Suid-Afrikaner te word wat dié kroon wen. Die vorige Suid-Afrikaanse wenners was Margaret Gardiner in 1978, Demi-Leigh Nel-Peters in 2017 en Zozibini Tunzi in 2019.

Die pragtige Natasha het Woensdag ’n foto saam met die huidige Mej. Heelal, Zozibini Tunzi (27), gedeel en dié twee lyk behoorlik in hul noppies om mekaar te sien.

“In 2019 het Zozibini op die Mej. Heelal-verhoog gestaan en gesê sy wou hê die gesigte van meisies en vroue in Suid-Afrika moet in haar gesig reflekteer. Die woorde het my bygebly en dis waarom ek vir Mej. Suid-Afrika ingeskryf het,” het Natasha by dié foto geskryf waar hulle mekaar styf omhels.

Een van die mense wat hierdie pad hand aan hand met Natasha stap is die stilis en kreatiewe direkteur van Mej. Suid-Afrika, Werner Wessels. Hy het al met skoonheidskoninginne soos die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss en ons huidige Mej. Heelal, Zozibini, saamgewerk.

Werner vertel dat hy en Natasha tot in die oggendure gesels om seker te maak dat alles glad verloop aan haar kant. Hy en sy span het ses maande gehad om saam met Natasha voor te berei vir die Mej. Heelal-kompetisie.

“Om Natasha te sien groei en standvastig te staan in wie sy is, was vir my persoonlik die heel beste deel,” sê Werner trots. 

En hoe is die senuwees? Dit knaag soms, bieg hy, maar hy is vanjaar rustiger as vorige jare omdat hy nie in Florida is nie. “Jy hoop altyd vir die beste en dat sy alles gaan gee wat sy wou gee. Dis belangrik om haar te ondersteun. Ons is verskriklik trots op haar en alles wat sy tot dusver vermag het,” sê Werner. 

Werner is op sy Instagram Stories gepeper deur vrae van aanhangers wat onder meer wou weet hoeveel uitrustings Natasha na die Mej. Heelal-kompetisie geneem het. Ons sal dit Maandag 17 Mei in die vroeë oggendure hier kan kyk.

"Ek dink ons het 34 gehad, sonder haar rokke!" het hy laat hoor. "So 34 vir 10 dae klink ongeveer reg."

Hy het ook verklap dat Natasha self haar hare gedoen het op haar stylvolle Instagramfoto's wat sy tot dusver van haar tyd in Amerika gedeel het.

In April vanjaar het Natasha haar nasionale kostuum bekendgestel en die boodskap agter dié uitrusting is roerend. Die kostuum, wat deur Gert-Johan Coetzee ontwerp is, is ’n simbool van hoe kinders in Suid-Afrika in die huidige klimaat van die covid-19-pandemie voel. 

“Ons wou iets spesiaals skep wat trots Suid-Afrikaans is. Nie net het ons die uitrusting geskep om ons vaardighede ten toon te stel nie; dit moes ook iets regtig spesiaals wees wat betekenisvol is vir ’n saak wat Natasha na aan die hart lê,” het Gert-Johan in die sosiale media geskryf.

Gert-Johan het die sketse van plaaslike kinders geneem wat wys hoe hulle die wêreld tans sien en dit in hul eie woorde beskryf. Hulle het die sketse digitaal omskep en op vloeiende wit lap gedruk. Dié kledingstuk is in ’n engelagtige silhoeët vir Natasha gemaak wat simboliese is van die moeilike tye wat oorkom is. 

Dié beeldskone brunet deel ook graag foto’s van haar avonture in Amerika in aanloop tot die groot aand.

Ons kyk na van die pragtige skeppings wat sy tot dusver gedra het. En dis omtrent ’n fees van Suid-Afrikaanse ontwerpers.

Die sexy broekpak

Natasha het die land verlaat in ’n stylvolle wit eenstuk-broekpak met ’n blink korset daaronder. Op die rug van dié uitrusting is haar van (Joubert) gedruk en dis afgerond met ’n blinkerbelaaide belt en swart Steve Madden-hakskoene met blinkers daarop. 

Pragtig in Hollywood

Natasha het Hollywood in styl begroet in ’n uitrusting deur Natalia Jefferys. Vir ontbyt met al die ander lande se deelnemers het Natasha die koppe laat draai in ’n luiperdbedrukte rok wat sy met goue hakskoene afgerond het.

Vuurwarm in pienk en rooi

Natasha lyk sjiek in dié pienk-en-rooi rok deur Malondié. Die sexy kleurblok-uitrusting is met 'n pienk-en-rooi belt om haar middel afgerond. 

Kyk net daardie bikini! 

Natasha lyk asemrowend tydens ’n fotosessie in ’n asemrowende vleeskleurige bikini met geel blommedetail deur die Amerikaanse ontwerper Ema Savahl.

Godin in wit

“As iemand sê hulle hou van my @sherif_tailor broekpak.” So skryf Natasha by ’n foto van haarself in nog ’n sexy broekpak deur SherifTheTailor. 

Swier en glans!

Natasha lyk swierig in ’n sexy maroen minirok deur die ontwerper William de Beer. En kyk net daardie blinkerbelaaide Steve Madden-hakskoene en bypassende handsak!

Aspoestertjie-oomblik

Natasha lyk soos iets uit ’n sprokiesverhaal in die pragtige sagte wit aandrok met blou detail daarop. Dié pragtige skepping is deur Natalia Jefferys. 


  • Die Mej. Heelal-kompetisie vind op Sondag 16 Mei 2021 om 20:00 ET by die Seminole Hard Rock Hotel & Casino in Florida plaas. Dit sal op Maandag 17 Mei 2021 om 02:00 SAST in Suid-Afrika op DSTV kanaal 103 (1MAGIC) te sien wees. 

Bronne: Misssaofficial, Missuniverse.com, Instagram, Channel24