Alfahidroksisuur

Dit word dikwels tot AHS (in Engels AHA) afgekort en sluit glikol-, sitroen- en melksuur in. Dit is veronderstel om die vel vogtiger te maak, want dit trek en behou water wanneer jy dit aanwend.

Dit skilfer ook die vel af om die gelaat stralender te laat lyk en die vel sagter te laat lyk en voel

  • Geskik vir alle velsoorte. 

Seramiede

Seramiede is vetmolekules wat in die vel voorkom en vogvlakke help behou. Die aanwending van ’n produk wat dié bestanddeel bevat, kan help om die vel se hidrasie ’n hupstoot te gee en sy beskermende werking te herstel (die vel se vermoë om vog in en besoedelstowwe uit te hou).

Seramiede werk goed wanneer dit saam met ander produkte gebruik word wat lipiede en vetsure bevat, want dié kombinasie verbeter hidrasie en soepelheid en help streel tekens van sensitiwiteit.

  • Ideaal vir ’n droë vel wat tot sensitiwiteit neig. 
skoonheid
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Ensieme

Dié bestanddeel word gebruik om af- skilfering aan te moedig en ’n helder gelaat te ontbloot. Omdat ensieme jou vel kan irriteer, word dit nie in velprodukte wat jy elke dag aanwend, soos bevogtigers, gebruik nie.

Dit is ’n bestanddeel van produkte wat jy vir ’n beperkte tyd aanwend en dan verwyder, soos afskilferaars.

  • Ideaal as jou vel grof voel of jy ’n dowwe gelaat het. 

Hialuronsuur

Hialuronsuur bevorder blykbaar gesonde vogvlakke in die vel deur vog uit die liggaam te trek en dit dan in die vel te behou. Omdat dit die normalisering van vogvlakke aanmoedig, kan dit vir alle velsoorte gebruik word, selfs olierige vel.

Normale sebum-/lipiedvlakke in olierige vel sit in vog om, maar water is ook belangrik.

Daar moet ’n balans van olie en water in die vel wees, wat beteken sebumvervaardiging sal nie oormatig wees nie. Hialuronsuur kom in die meeste velsorgprodukte voor, van reinigers tot bevogtigers. 

Retinol

Dié bestanddeel, wat ook as vitamien A bekendstaan, kan die gesonde werking van die vel bevorder en help om tekens van veroudering te beperk. Van die ander voordele is dat dit kan help om verkleuring minder sigbaar te maak, vergrote porieë kleiner kan laat lyk en die vel se tekstuur ’n beter voorkoms kan gee.

Dit is belangrik om altyd sonskerm te dra wanneer jy ’n produk met retinol gebruik, want dit maak jou vel sensitiewer vir die son.

  • Geskik vir mense met tekens van veroudering, growwe vel, aknee en verkleurde vel. 
kologeen
Foto ter illustrasi: Gallo Images/Getty Images

Peptiede

Vel bestaan hoofsaaklik uit proteïen, maar wanneer jy ouer word, verminder die proteïen in die vel, wat lei tot sakkerige vel of verlies van volume.

Peptiede en aminosure kan help om proteïen in die vel op te bou, wat ’n verbeterde voorkoms van plooie, fermheid en versagte uitdrukkingslyne tot gevolg kan hê. Produkte wat peptiede bevat, kan duur wees.

  • Ideaal vir mense wat die tekens van veroudering wil verminder. 

Salisielsuur

Die bestanddeel staan ook as betahidroksisuur of BHS (in Engels BHA) bekend en is ideaal vir die behandeling van vel wat tot aknee geneig is en vir olierige velprobleme, want dit skilfer af terwyl dit die vel diep reinig.

Gevolglik word die voorkoms van swartkoppies en puisies verminder. Mense met ’n vel wat grof voel, kan ook daarby baat vind om produkte met salisielsuur te gebruik.

Vel wat bulterig en grof voel, kan die gevolg van dooie velselle, verstopte porieë en droë vel wees. Dié bestanddeel poets die vel liggies sonder om dit te stroop.

Die afskilfering is chemies en nie fisiek nie, anders as afskilferaars wat korreltjies het of reinigings- borsels. Salisielsuur is sagwerkend genoeg dat jy dit vir ’n sensitiewe vel kan gebruik.

Kollageen

Dié proteïen help blykbaar die vel plomp en jeugdig hou. Namate ons ouer word, neem die vlakke van kollageen in die vel af en dit veroorsaak plooie en sakkerigheid.

As jou vel tekens van veroudering toon, kan jy dus daarby baat vind om kollageen te gebruik. Wees op die uitkyk na produkte met oplosbare kollageen (kollageen wat afgebreek is), want die gewone kollageenmolekules wat in party produkte voorkom, kan nie deur die vel dring nie.

Ander maniere om kollageenvlakke te verhoog is deur vullers te gebruik of kollageenpoeier of -aanvullings in te neem. Kollageen wat in die vel ingespuit word, bly sowat ses maande daar tot die uitwerking daarvan eindelik vervaag.

Wees gewaarsku: Die inspuitings kan newe-effekte soos sooibrand hê en pynlike knoppe veroorsaak. Raadpleeg dus eers jou dokter.

Titaandioksied en sinkoksied

Titaandioksied word algemeen in skoonheidsmiddels gebruik om dit te verdik en verwit. Dit dien ook as ’n sonskerm en is ideaal vir ’n sensitiewe vel.

Sinkoksied het soortgelyke kenmerke en kan ook ontsteekte vel, soos deur ekseem en sonbrand, en gebarste vel en skaafplekke behandel. Dit verminder ook olierigheid en help puisies voorkom.

Wees op die uitkyk na niechemiese sonskerms, waarna as minerale of fisieke sonskerms verwys word, want dit bevat sinkoksied en titaandioksied.

Dit is die soort wat gewoonlik ’n wit residu op die vel laat en dit is ook geskik vir kinders.

Vitamien C

skoonheid
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Die bestanddeel, wat dikwels as ascorbyl tetraisopalmitate gelys word, kan help om vel te verhelder en donker vlekke en hiperpigmentasie te verminder.

Dit kan die vel teen die son beskerm en so help om voortydige veroudering te voorkom. Die anti­oksidantwerking daarvan help ook die vel beskerm deurdat dit oksidasie, ’n chemiese reaksie in die vel wat selle beskadig, kan voorkom. 

In sterk antioksidantprodukte word die bestanddeel met vitamien A (sien retinol) en vitamien E gekombineer vir goeie resultate.

Vitamien E voed die vel en kan die vel se beskadigde weefsel herstel. Tesame met vitamien A verdedig dit die vel teen die omgewing.

  • Beproef dit as jy vroeë tekens van veroudering, donker vlekke en ’n dowwe vel het.

Ekstra bronne: paulaschoice.com, self.com, livestrong.com, skiningredients.com, Dr. Alek Nikoloc