Gesellig pleks van minimalisties

dekor trends 2020
Foto: Gallo Images/Alamy

Een van die grootste veranderings vanjaar is die wegbeweeg van koue, kliniese minimalisme na gemoedelike gemak.

In dié opsig is daar twee trends wat uitstaan – die nuwe Nordies en kontemporêr organies.

Nuwe Nordies omarm steeds die skoon, eenvoudige voorkoms van Skandinawiese style, maar voeg sagter skakerings, oppervlakke en stowwe wat aangenaam voel, natuurlike materiale en tekstuurryke matte by vir ’n geselliger atmosfeer, verduidelik Anita Bloom, skeppende hoof van Decorex SA.

Kontemporêr organies is ’n trend wat meer op die natuur ingestel is, maar tog ’n weelderige aanslag het.

“Ons beweeg weg van gladde materiale en skerp argitektoniese lyne met ultramoderne ontwerpe wat sagter en tekstuurryker raak: meubels met sensuele vorms; hout met ’n onreëlmatige grein,” sê Anita.

“Die effek van hierdie trend is ontspannend en kalmerend – ’n kontrapunt vir die uiters gejaagde, tegnologies gedrewe wêreld waarin ons leef.”

Bonkige meubels

dekor trends 2020
Foto: Gallo Images/Getty Images

Ons meubels raak vetter. Die skoon, moderne styl wat die afgelope tyd so gewild was, maak plek vir groter stukke wat ’n stelling maak, sê Anita. Dié verskuiwing na knusser items is in pas met die algemene neiging na geriefliker ontwerpe en ’n geselliger atmosfeer.

Spieëls met rare vorms

dekor trends 2020
Foto: Gallo Images/Getty Images

Interessante muurversierings soos muurtapyte en 3D-muurpapier is vanjaar steeds gewild, maar verwag ook treffende spieëls in ongewone vorms en ontwerpe.

Dit kikker nie net ’n vertrek se voorkoms op nie; dit kan ook die ruimte groter laat voel.

Blou en groen

dekor trends 2020
Foto: Prominent Paints

Prominent Paints het Chinese Porcelain (PPG1160-6), ’n treffende mengsel van kobalt- en inkblou, as hul gunstelingkleur gekies.Dulux het na die oggendlug gekyk toe hulle Tranquil Dawn (45GY 55/052) as hul kleur van die jaar gekies het.

Plascon se gunstelingskakering, Mulberry Leaf (G1-C1-1), hou by die algemene neiging om die buitelewe na binne te bring en ons behoefte om nader aan die natuur te wees.

dekor trends 2020
Foto: Plascon

Die kleurkenners Pantone het Classic Blue (kleurkode 19-4052) as hul kleur van die jaar aangewys, want dit vestig “kalmte, vertroue en verbintenis”.

dekor trends 2020
Foto: Pantone

Dit beklemtoon ons begeerte na ’n betroubare grondslag terwyl ons op die drumpel van ’n nuwe era is.

dekor trends 2020
Foto: Dulux

Immergroen natuur

dekor trends 2020
Foto: Gallo Images/Getty Images

Ontwerpe wat daarop gemik is om mense met die natuur in aanraking te bring bly steeds met ons; die buitelug word na binne genooi en natuurlike materiale word deel van jou dekor, sê Stacey Gibhard, trendvoorspeller van MRP Home.

“Die trend van binnenshuise plante is groter as ooit tevore. Dit skep ’n kalmerende atmosfeer terwyl dit ook die lug reinig,” voeg sy by.

“Botaniese patrone is kenmerkend van dié styl, en jy kan kies en keur uit ’n groot verskeidenheid bedlinne, strooikussings, muurkuns en vloermatte met plantpatrone.”

Kleurkombuise

dekor trends 2020
Foto: Decorex Africa

Wit of donker kombuise maak plek vir kleurryke aksente of die gebruik van hout vir warmte.

Hier is van ons gunstelingtrends:

  • Kleurryke kombuisteëls lyk prettig en gee die kombuis karakter.
  • Soliede, treffende spatplate wat die hele muur bedek, nie net die area agter die stoof nie.
  • Kombuiskaste in warm houtskakerings vervang gewone wit of glaskaste.
  • Werkvlakke van donker, natuurlike hout neem ook toe.