Met haarsalonne wat tydens inperking geslote moet bly, is daar baie van ons wat opgesaal sit met al wat ’n haarprobleem is. Hoewel jy moedeloos oor die situasie voel, kan jy tydens inperking steeds goed vir jou hare sorg.

Hier is vyf wenke om jou hare tuis te versorg tot jy weer ’n salon kan besoek.

1. Haarmasker

hare
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die beste geskenk wat jy jou hare kan gee, is ’n goeie haarmasker.

Gebruik of maak self ’n haarmasker met goeie olies wat vir jou haarsoort geformuleer is. ’n Haarmasker sowat twee keer per maand help om hare goed te bevogtig. 

2. Gebruik die haardroër minder 

hare
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Met die koue van herfs in die lug word die haardroeër meer gereeld uitgepluk om hare droog te blaas. En dis glad nie goed vir jou hare nie. 

Beperk hitteskade deur jou hare natuurlik te laat droog word of goed met ’n handdoek droog te maak. Om hare eers goed met ’n handdoek af te droog verkort die tyd wat jy spandeer om hare droog te blaas.

Onthou ook altyd om haarolie te gebruik wat teen hitte beskerm, veral wanneer jy jou hare stileer. 

3. Lewelose hare en gesplete punte

hare
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Het jou hare sy glans verloor? Spoel dit met tee af! Dié truuk kan jy oor en oor gebruik en dis ’n goedkoop alternatief vir mooi, blink hare.

Omdat tee haarkleur beïnvloed, word normale, swart tee vir brunette aangeraai en blondines kan kamilletee gebruik. Die brousel help ook vir gesplete punte.

Brou genoeg tee vir dié proses. Spoel jou hare daarmee af net ná jy jou normale sjampoe-roetine voltooi het. 

4. Omhels die onvolmaakthede

balayage
Foto: Pinterest

As donker wortels of ongewensde grys hare jou wil laat gil, moet jy dalk ophou teen die kar skop en dit omhels. Grys hare is deesdae hoogmode, en met Sharon Osbourne wat haar ikoniese wynrooi hare vir grys hare verruil het, lyk dit sommer sjiek en vars. En wat van donker wortels? 

Donker wortels wat ook bekendstaan as balayage was eens op ’n tyd hoogmode in Hollywood en al wat ’n bekende is het hul wortels donkerder laat kleur vir die stylvolle voorkoms. Sien jou natuurlike donker wortels as ’n meer natuurlike weergawe van die haarstyl. 

5. Droë hare

hare
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy nie daarvan hou om avokado te eet nie, sal jy dit beslis geniet as een van die beste skoonheidskunsies vir hare. Baie duur haarprodukte bevat avokado om te help met erg beskadigde hare.

Avokado herstel beskadigde hare en sorg vir ’n pragtige, gesonde bos hare. Meng ’n ryp avokado met een eiergeel en smeer die mengsel aan nat hare. Los dit vir sowat 20 minute aan jou hare en spoel ’n paar keer, deeglik af. 

Ons hoop dié wenke help met die salon-blues

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.