Elke dag begin en eindig in die slaapkamer, en daar is niks wat ’n mens so kan omkrap soos ’n deurmekaar slaapkamer aan die einde van ’n lang dag nie.

’n Skoon en netjiese slaapkamer kan ook wonders doen as jy sukkel om te slaap. Hier is ses maniere om jou slaapkamer netjies te hou. 

1. Spasie

netjies slaapkamer
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Of jy ’n tradisionele slaapkamer of ’n oopplan-slaapkamer het, dit moet steeds netjies gehou word.

Probeer om so ver as moontlik geen onnodige bokse in jou kamer te stoor nie. Indien jy nie anders kan nie, probeer dit netjies op een plek in die kamer wegpak. Jy sal meer plek hê om rond te beweeg en die vertrek sal outomaties meer ruim lyk. 

2. Stoorplek

netjies slaapkamer
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nee, die boonste gedeelte van jou kas is nie gemaak om komberse in te stoor nie! Probeer so ver as moontlik om nie onnodige items in jou slaapkamer te stoor nie.

Neem goed in ag wat in jou slaapkamer gestoor moet word en wat dalk in ’n ander kamer in die huis gestoor kan word. Indien dit nie nodig is nie, vermy  sitplekke soos stoele en rusbanke in jou kamer. Dit lyk dalk mooi, maar neem spasie op en laat die vertrek beknop lyk. Gebruik die spasie onder jou bed om jou skoene netjies weg te pak. Stoor slegs skoene wat jy gereeld dra onder die bed.

Skaf ’n boks aan om die res van jou skoene in te stoor of indien jy kan, installeer ’n rak waarop jy skoene kan stoor. 

3. Pak weg

netjiese slaapkamer,skoonmaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Pak ten alle tye klere weg wat oor jou klerekas se deur hang. Indien jy te moeg is om jou klere saans netjies weg te pak, trek ’n wasgoedmandjie nader en gooi dit daarin.

Jy kan dit dan die volgende dag rustig sorteer en wegpak. 

4. Maak mooi

netjiese slaapkamer,skoonmaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar is niks so lekker soos ’n skoon bed en ander gordyne om jou slaapkamer nuwe lewe te gee nie.

Dis die perfekte tyd om skoon gordyne in jou slaapkamer te hang. Maak seker dat jy daagliks jou vensters in jou slaapkamer oop maak vir vars lug. Ruil ook maandeliks jou gordyne om – so ruik jou kamer langer vars. 

5. Die bedkassie

netjiese slaapkamer,skoonmaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy van jou bedkassie ’n boekrak maak, is dit dalk tyd om ’n ander plan met jou boeke te maak.

Indien jy wel 'n boekwurm is, hou jou bedkassie netjies deur slegs jou bedlampie en die boek wat jy tans lees, op jou bedkassie te los. Vermy dit om glase water en waterbottels snags langs jou bed te sit.  

6. Wasgoedmandjie 

netjiese slaapkamer,skoonmaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maak seker dat jy ’n wasgoedmandjie in jou kamer het om onmiddellik van vuil klere ontslae te raak. Moenie vuil klere terug in jou klerekas pak omdat die wasgoedmandjie te ver is nie.

Plaas die wasgoedmandjie ook op ’n plek waar jy weet jy verby gaan stap en sommer iets in kan gooi. Maak ook seker dat wanneer jy jou sokkies uittrek, jy dit  inmekaar rol en dan ingooi. So hoef jy dan nie later na die ander maat te soek nie.

As jy nog nie kans gekry het om jou klerekas te takel nie, lees hier ons advies vir hoe om jou klerekas netjies te hou. 

Ekstra bronne: Thespruce.com, Coupons.com, Amessfreedebtfreelife.com