Hoor net hier ...

Die legendariese modeontwerper Coco Chanel het gesê: “ ’n Vrou wat haar hare sny, is slaggereed om haar lewe te verander.”

Dié bekendes wys jy kan jou hare laat knip of kleur om by jou gesigsvorm, haarsoort en velkleur te pas.

’n Blonde bob

Die sangeres en aktrise Selena Gomez is bekend vir haar dik, bruin lokke, maar het onlangs ’n nuwe rigting ingeslaan toe sy ’n platinumblonde bob met heuningkleurige ondertone kies.

Die kleur pas haar baie goed, want die warm ondertone van haar hare en haar olyfkleurige gelaat vul mekaar aan.

Selena Gomez Foto: Gallo Images/ Getty Images


Skoonheidswenk
Mense met ’n ligter gelaat behoort ’n platinumblond met goue ondertone te kies, want dit sal hul koel velkleur warmte gee.

Vurige rooikop 

Die aktrise Emma Roberts is nie skaam om haar hare te kleur nie, maar hou gewoonlik by blond of bruin.

Onlangs is sy met rooi hare opgemerk. Die kleur pas goed by Emma se ligte vel, want albei het koel ondertone wat goed saamgaan.

As jy ’n tussenin-velkleur het wat nie baie lig of baie donker is nie, kies koperagtige rooie; dit is warmer en sal die warmte van jou velkleur aanvul.

Emma Roberts Foto: Gallo Images/ Getty Images

Skoonheidswenk
Mense met ’n sonbruin of donker velkleur kan donkerder rooie soos kersiekleur kies, want dit vul die rooi ondertone van ’n donkerder vel aan.

Astrante elfie 

Die How to Lose a Guy in 10 Days-aktrise Kate Hudson is bekend vir lang, blonde strandgolwe, maar het onlangs alles laat afknip en spog nou met ’n gekartelde elfiestyl.

Mense met ’n ovaal gesigsvorm kan met amper enige snit wegkom.

Diegene met ’n ronde gesigsvorm kan ’n deurmekaar elfiestyl beproef om lyne by die ietwat gladde gesigsvorm te voeg.

Kate Hudson Foto: Gallo Images/ Getty Images

Skoonheidswenk
En dié met ’n vierkantige gesig kan ’n geronde elfiestyl of bob kies om die harde lyne te versag.
Ekstra bronne: allure.com, haircolortrends.org