Van die kostuums tot die flambojante pruike en grimering – kykers kan nie genoeg kry van die reeks nie. Een van die groot temas is die jong enkellopende debutante se skoonheid en sosiale status. By elke partytjie wat hulle bywoon, sit hulle hul beste modevoet voor en kan hulle deur ’n ring getrek word. Ons wys jou hoe om dié adellike grimeervoorkomste in net sewe stappe te kry. 

Phoebe Dyvenor
Die Britse aktrise Phoebe Dynevor is te sien as Daphne Bridgerton in Netflix se trefferreeks Bridgerton. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die beeldskone Britse aktrise Phoebe Dynevor (25), wat die rol van die vurige Daphne Bridgerton vertolk, wys in dié boeiende reeks watter groot impak minimalistiese grimering kan hê. Dié eenvoudige grimeervoorkoms is sommer maklik om self te beproef, al is jy nie baie behendig met die grimeerkwas nie.  

View this post on Instagram

A post shared by Bridgerton (@bridgertonnetflix)

Dis wat jy benodig: 

  • Bevogtiger
  • Verbloemer
  • ’n Wenkbroupotlood
  • Blosser
  • Oogskadu (’n neutrale palet met ligte skakerings)
  • Lipglans (enige sagte pienk of effekleurige skakering)
  • Maskara (verkieslik bruin)

STAP 1

Maak seker jou gesig is behoorlik gereinig en bevogtig. Gebruik ’n roombevogtiger vir droë vel en ’n alkoholvrye een vir ’n sensitiewe vel.

STAP 2

Noudat jou vel goed voorberei is, is dit tyd om enige ongewensde vlekke en areas te verbloem.

Vir dié grimeervoorkoms gaan jy geen onderlaag gebruik nie; maak dus seker dat die skakering van jou verbloemer baie na aan jou velkleur is.

Fokus op die areas onder jou oë en maak seker jy versprei dit eweredig sodat dit goed met die res van jou gesig inmeng. Onthou: Jy hoef nie die hele oppervlak van jou gesig te bedek nie, net die belangrike gedeeltes, byvoorbeeld kringe onder die oë.

STAP 3

Vir dié grimeervoorkoms hoef jy nie jou wenkbroue baie donker in te kleur nie. Vul net jou wenkbroue as dit nodig is. 

STAP 4

As jy oogskadu gebruik, maak seker die kleurpalet is neutraal. Vee ’n ligte laag van die oogskadu vanaf jou ooglid tot teenaan jou wenkbrou. 

Skep ’n ligte kontoer met ’n ligpienk of brons in die naat van jou oog. Wend ’n ligbruin oogskadu onder die oog aan as plaasvervanger vir oogpotlood. 

STAP 5

Pragtige vol wimpers lyk altyd beeldskoon; dit is dus die een grimeer-item wat jy behoorlik kan aanwend. Omdat jy nie oogpotlood vir hierdie voorkoms gebruik nie, kan jy minstens twee lae maskara aan die boonste en onderste wimpers aanwend. 

Vir ’n sagter voorkoms, werk bruin maskara beter as swart maskara. 

STAP 6

Wend liggies blosser aan. Maak seker jy kies die regte skakering vir jou velkleur. Vir dié voorkoms werk ’n ligte roos- of perskekleurige blosser die beste.

STAP 7

Rond dié voorkoms met ’n sagte pienk of koraalkleurige lipglans af. 

As jy nie ’n aanhanger van dié skakerings is nie, kan jy ’n effekleurige lipstiffie of lipglans aanwend om jou voorkoms af te rond.

En siedaar, so beeldskoon soos Daphne Bridgerton haarself.