KIES ’N BASIS-ITEM

Kleur kan ’n groot uitwerking hê op hoe ons voel. Dit kan ook maklik ’n ruimte omskep en persoonlikheid gee.

Maar mense is bang om dit in hul huis te gebruik. Jy kan eenvoudige reëls volg, maar die eerste stap is om dit bloot te beproef.

Kies ’n item as inspirasie, soos ’n kussingoortreksel, kunswerk of bykomstigheid, en gebruik ’n kleur wat in die item voorkom as jou vertrekpunt.

Begin met eenvoudige, goedkoop projekte sodat jy jou selfvertroue kan opbou om ’n dramatieser voorkoms aan te pak.

SKEP ’N AKSENTMUUR

’n Aksentmuur is ’n maklike, vinnige en goedkoop manier om kleur jou huis in te bring. Dit is ook ’n wonderlike wegspringplek vir ’n beginner, want as jy nie daarvan hou nie, of die kleur is verkeerd, kan jy dit bloot toeverf.

Kies ’n kleur deur na jou bestaande meubels, huisware en bykomstighede te kyk.

Die kleur moet iewers anders in die kamer voorkom, maar net in klein dosisse. Jy sal elke dag na die muur kyk; dink daarom hoe die kleur jou en die res van jou gesin laat voel.

Foto: Andrew Finlayson, Kristina Soljo

SELFVERSEKERDE KLEUR

Die ontspannende blougroen aksentmuur skep ’n tropiese gevoel deur die kleure van die see op te roep.

Die meeste blougroen skakerings is ontspannend, vars en kalmerend om mee saam te leef. Dit bring die kleure van buite en die natuur by ons huis in.

Stylwenk
Wees gerus waaghalsig met jou kleurkeuse. As dit nie werk nie, verf dit toe.

HOEKOM DIT WERK

Die res van die vertrek het uitgewaste grys skakerings op die vloer en houtvoorkoms-aksentmuurpapier, met kraakvars wit op die vloerlyste en etenstafel.

Dit het ook die natuurlike houtskakerings van die koffietafel, banksitplekke en mandjies.

Die goue skakerings van die ligskerm en natuurlike hout werk goed saam met die koper muurspieëls.

Die vertrek lyk samehangend en goed deurdink.

KIES EEN HELDER KLEUR AS HOOFFOKUS

’n Helder kleur gee enige ruimte persoonlikheid en kan enige grootte vertrek opgewekte energie gee.

Maar sterk kleure kan met mekaar meeding en ’n verwarrende en besige skema skep. En as ’n mens dit met vele patrone kombineer, sit jy dalk met ’n oorweldigende ontploffing van kleur.

Gebruik eerder een helder kleur as die hooffokus en voeg dan ’n bykomende helder kleur in ’n gelyke hoeveelheid of bykomende helder kleure in kleiner hoeveelhede by.

SELFVERSEKERDE KLEUR

Dié helder en sterk woonvertrek het beslis trefkrag, maar is steeds leefbaar.

’n Belangrike reël word hier gevolg: Meng helder kleure met ’n neutrale kleur. ’n Wit voormuur laat die helderblou aandag trek sonder om die ruimte heeltemal te oorweldig.

Afgewitte houtvloerplanke en ’n gemaklike oorgroot rusbank gee sagtheid en warmte aan ’n andersins koel skema.

Stylwenk
As jy nie dapper voel nie, kombineer helder kleure met ’n neutrale kleur. 

HOEKOM DIT WERK

Om die blou aksentmuur te balanseer is ’n donker indigo kussing en koeler ronde kunswerk bygevoeg.

En moenie die subtiele blou rug van die koffietafelboek miskyk nie; dit is ’n goed deurdagte byvoeging tot die vertrek.

Bloue met effense groen skakerings in die ottoman en kussing op die stoel werk goed, want dit ding nie met die helderder blou mee nie en keer dat alles “te besig” raak.

Vir warmte is ’n potplant en ’n sitrusgeel kussing bygevoeg. Die swart in die stoel en gestreepte mat anker die ruimte. 

VERF MET PASTELLE

Gedemp beteken iets is beheers of bedees. In die wêreld van kleur verwys gedempte skakerings na dié met minder visuele impak as hul basiskleur.

Dit word bereik deur die oorspronklike kleur met wit, grys of swart te meng om ’n sagter weergawe te behaal. Die beste voorbeeld hiervan is die wêreld van pastelle.

Dit is kalmerend en ontspannend en laat jou toe om op ’n subtiele en nie-indringerige manier kleur by enige ruimte te voeg.

Foto: Andrew Finlayson, Kristina Soljo

SELFVERSEKERDE KLEUR

Die gedempte kleurpalet is volmaak vir ’n slaapkamer. Dit skep ’n kalmerende en ontspannende ruimte waarin jy kan rus en jou verkwik.

Die sagter blooskleurige agtermuur bied kontras teen die donkerder grys van die aksentmuur met ’n betonvoorkoms.

Al is die beton ’n harde en ruwe materiaal, voeg die kleur interessantheid en balans by die ruimte. Die neutrale grys versag die voorkoms.

Stylwenk
’n Gedempte palet van pastelle is wonderlik vir ’n slaapkamer, want dit is kalmerend. 

HOEKOM DIT WERK

Die verskeidenheid teksture in die kamer in skakerings gedempte kleur lyk kalm. Die spanspekkleurige kwilt eggo die blospienk muur, maar die effense oranje werk goed saam met die hout van die fotoraam en die laaikas se basis.

Die lila beddegoed lyk goed saam met die betonvoorkoms-aksentmuur en die grys word weer in die afgewitte vloerplanke en kussing herhaal.

Die wit van die laaie, sytafel, lamp en kunswerk se rand help om die vertrek te anker.

FOTO’S: ANDREW FINLAYSON, KRISTINA SOLJO; STILERING: CORINA KOCH (AKSENTMUUR EN PASTEL SLAAPKAMER), FIONA MICHELON (HELDER WOONVERTREK)
TEKS: BAUERSYNDICATION.COM.AU/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA