1. Wat is nuut in die derde seisoen van Mooimaak

Amper alles! Hoewel daar nog ’n groot fokus op voorkoms is, gaan dit baie verder as net gesig en vel. Ons leer elke deelnemer hoe om in hul alledaagse lewe beter na hul voorkoms te kyk en beter grimering te doen.

Terselfdertyd is die nuwe reeks ook propvol leefstyl-verbeterings vir deelnemers. Só verras die Mooimaak-span elke deelnemer met ’n reuseverandering, bo en behalwe voorkoms, vir hul lewe. Die meeste daarvan is verrassings, wat beteken daar is geen tekort aan opwinding nie! 

2. Waarna sien jy die meeste uit in die nuwe seisoen? 

Die feit dat ons mans insluit dié seisoen, en natuurlik al die nuwe opwindende inhoud. Dis ’n hele nuwe Mooimaak met baie verrassings om na uit te sien! Nie net kry elke deelnemer ’n dramatiese voorkomsverandering nie, elkeen kry nog ’n groot geskenk wat hul lewe net nóg meer gaan verander! Dit is beslis die beste en grootste seisoen nog. 

View this post on Instagram

@mooimaak_makeovers with my #onset #family. Love these girls and so grateful for their MAGIC! @moniquedutoitmakeupartist @marigroenewald #makeover #magic #setlife #corona

A post shared by Clare Wiese-Wentzel (@clarewiesewentzel) on

3. Hoe verander Mooimaak deelnemers se lewens? 

Ons gee die deelnemers ’n nuwe uitkyk, nie net op die lewe nie, ook op hul identiteit en hul plek in die samelewing.

Die span wys vir hulle dat dit nooit te laat is om die beste weergawe van jouself te ontdek, jou wildste drome na te jaag of jou grootse struikelblokke te oorkom nie.

Dit is vir my altyd spesiaal tydens ’n deelnemer se Mooimaak-reis, wanneer sy of haar stoutste verwagtinge oortref word. ’n Mooier, beter en gelukkiger self is altyd binne bereik.

Clare Wiese-Wentzel
Clare en haar span is vanaf Donderdag 1 Oktober op kykNET te sien. Foto: Verskaf
 

4. Hoe het die vorige reekse ’n impak op jou of jou siening van die lewe gehad? 

’n Mens besef net elke keer hoe onregverdig die lewe kan wees. Maar dit gesê, is ek voortdurend herinner aan die volgende: Hoe jy  dit wat met jou gebeur, hanteer, is die grootste bepaler van geluk en tevredenheid. Om dankbaar te wees vir dit wat jy het, al gaan dit hoe sleg met jou, is jou grootste superpower – ongeag jou omstandighede.

Sommige mense het alles, maar is altyd op soek na nóg meer en bly ongelukkig; terwyl ander, wat minder het, weer ware geluk ken en dankbaar is vir wat die lewe hulle bied. Ek leer so baie by ons deelnemers en hulle inspireer my keer op keer.  

5. Hoe het covid-19 verfilming beïnvloed? 

Dit was uitdagend, maar ons span was baie professioneel en versigtig terwyl daar streng protokol in plek was om almal te beskerm. 

Ek voel dit is juis tydens so ’n groot wêreldkrisis wat mense die hoop en inspirasie wat ’n reeks soos Mooimaak kan bring, dringend nodig het. 

6. Wat was vir jou die moeilikste deel van die inperking? 

Om van my vriende en familie afgesny te wees. Ek en (my man) Marco is baie sosiaal en baie familie-vas.

7. Vir sommige vroue was die inperking baie moeilik, want daar was minder tyd vir hulself. Watter raad het jy om meer tyd aan jouself te bestee?

Ons vroue is dikwels geneig om onsself tweede te sit en eerder eerste na ander se behoeftes om te sien.

Om na jouself te kyk is nie selfsugtig nie, dis noodsaaklik. Jy kan niks vir ander beteken of doen as jou tenk nie vol is nie. Hanteer jouself met dieselfde liefde, deernis en meegevoel as dit waarmee jy ander hanteer.

8. Maskers is nou deel van ons daaglikse lewens. Hoe kan jy steeds jou vel mooi versorg?

  • Indien jy uitslaan as gevolg van jou masker, voeg salicylic acid by jou roetine om te help om die knoppies vinniger te laat verdwyn.
  • Bly weg van grimering op die vel onder die masker, en fokus daarop om jou wenkbroue en oë mooi te grimeer.
  • Maak seker jy was jou gesig twee keer in die aand, indien jy vir lang ure jou masker moes dra of indien jy sukkel met aknee.
  • Indien jy ’n baie sensitiewe vel het wat deur die masker geïrriteer word, mag ’n symasker en/of ’n versperringsroom goed vir jou werk. 

9. Wat was die eerste ding waarna jy die meeste uitgesien het toe die inperking verslap is?

Om met my hondjies te gaan stap en koffie te gaan drink.

View this post on Instagram

Everything ♥?

A post shared by Clare Wiese-Wentzel (@clarewiesewentzel) on

10. Het jy iets nuuts oor jouself tydens die inperking ontdek? 

Ek het die meeste van die tyd gemaak deur my hele huis te de-clutter en (nóg) netjieser te maak! Ek is ’n bietjie van ’n neat freak en geniet dit om goed te organiseer, al maak ek my man soms mal.

Ek het ook ’n hele paar baie lekker resepte ontdek, aangesien daar tyd was vir lekker kosmaak en bak, wat daar nie altyd is nie.

Ek het wel weereens besef dat ek nie ’n meisie is wat vir te lank kan stil sit nie. Ek hou daarvan om besig te wees, dinge te doen en nuwe uitdagings aan te pak! 

11. Ons betree nou ’n nuwe seisoen. Wat is die nuwe mode- en skoonheidsneigings waarvoor vroue moet uitkyk? 

Ek dink almal is nou op soek na mooi maar gemaklike klere of lounge wear, aangesien ons baie meer tyd by die huis spandeer, maar steeds elegant wil voel.

Omdat mense minder lus is vir uitgaan, is daar beslis ook ’n tendens om jou inkopies, wat jou velsorg insluit, aanlyn te doen. 

  • Mooimaak word vanaf Donderdag 1 Oktober om 21:00 op kykNET uitgesaai.