Van hare in hul natuurlike toestand los tot naels sonder naellak en dae sonder grimering. Nou is die ideale tyd om aandag te skenk aan enige skade wat deur die oorgebruik van skoonheidsprodukte veroorsaak is. 

Hare

skoonheid
Ter illustrasie: Foto: Gallo Images/Getty Images

As jou hare beskadig is of jy met gesplete punte opgeskeep sit omdat jy nie salon toe kan gaan nie, bederf jouself tuis met ’n haarmasker met bestanddele wat jy uit jou koskas of yskas kan gebruik. 

Vir droë hare: Vergeet van botter op jou brood. Smeer dit sommer aan jou hare! Hoewel dit na ’n lawwe idee klink, maak botter vaal en droë hare mooi blink. 

Maak so

Neem ’n teelepel botter en masseer dit in jou hare. Bedek jou hare met ’n stortpet sowat 30 minute lank. Was jou hare daarna met sjampoe en spoel die botter deeglik uit jou hare. 

Vir gesplete punte: Swart tee word vir brunette aangeraai en blondines kan kamilletee gebruik. Die brousel help vir gesplete punte. 

Maak so

Brou genoeg tee vir dié proses. Spoel jou hare daarmee af net nadat jy jou normale sjampoe-roetine voltooi het. 

Vir beskadigde hare: As jy beskadigde hare het, veral as dit dik en swaar is, is klapperolie die beste oplossing vir jou. 

Maak so

Verdun die klapperolie met water en smeer dit deeglik aan jou hare.

Bedek jou hare met ’n warm handdoek en laat die klapperolie toe om behoorlik te werk. Hou dit sowat 15 tot 20 minute op en spoel af.

Was jou hare daarna met sjampoe. 

Vir olierige hare: Dié een sal jou dalk verbaas, maar ’n druppel opwasmiddel doen wonders vir olierige hare.

Maak so

Maak jou hare nat met warm water en masseer ’n druppel opwasmiddel in jou hare.

Spoel af en wend opknapper aan. Moenie jou opknapper langer as 30 sekondes aanhou nie.

Spoel deeglik af en blaas droog. 

Vel: Verfris jou gesig

skoonheid
Ter illustrasie: Foto: Gallo Images/Getty Images

Verkwik en bevog jou vel met ’n komkommermasker wat jy kan maak met bestanddele wat jy waarskynlik reeds het. 

  • 30 ml (2 e) appelasyn
  • 15 ml (1 e) gekapte komkommer
  • 15 ml (1 e) heuning
  • 5 ml (1 t) fyn kaneel
  • 5 ml (1 t) koeksoda 

Maak so

Voeg al die bestanddele in ’n voedselverwerker en verwerk tot ’n gladde pasta vorm.

Smeer dit met opwaartse sirkelbewegings aan jou vel.

Spoel ná 2-3 min. met koel water af en druk jou vel droog vir 'n vars gloed.

Wenk

Voor jy jou masker aanwend, kook twee kamilleteesakkies in melk en verkoel dit dan in die yskas.

Wanneer dit afgekoel het, plaas die teesakkies oor jou oë vir ’n ekstra vars voorkoms.

Hande en naels

skoonheid
Ter illustrasie: Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy gereeld naellak aan jou naels sit, is dit nou die tyd om jou hande en naels behoorlik kans te gee om te rus. 

Maak so

  • Week jou hande in water nadat dit vir ’n lang tydperk aan asetoon blootgestel was. Dit rehidreer die naels asook die vel om naels en vingers. 
  • Wend daagliks voedende olie aan naels en die naelbed. Dit sal sorg dat jou naels sterk bly en droë naelbeddens en bros naels verhoed. 
  • Masseer die olie ook by jou naels en naelbeddens in om naelgroei te stimuleer. Naelbed-olie help om die natuurlike naels soepel te hou sodat dit nie maklik breek nie.
  • Druk jou naelbeddens minstens een keer per week terug. As dit nie weekliks gedoen word nie, kan dit in uiterste gevalle infeksie om die nael veroorsaak. 
  • As jy vorm aan jou naels wil gee, gebruik ’n naelvyl pleks van ’n -knipper. Marina sê ’n naelknipper skei die natuurlike lae van die nael en baie vergeet om die lae weer te seël deur dit agterna te vyl. 
  • As naels nie gevyl word nadat dit geknip word nie, kan die nael splinter.

Voete: Hier's twee boererate vir seepglad hakke 

skoonheid
Ter illustrasie: Foto: Gallo Images/Getty Images

1. Antiseptiese mondspoel, asyn en warm water

Giet die volgende in ’n houer warm water: 

  • 60 ml (¼ k) antiseptiese mondspoel
  • 60 ml (¼ k) asyn

Maak so

  • Week voete 10-15 min. daarin.
  • Skrop sagkens met ’n puimsteen.
  • Droog voete af.
  • Bevog en dra sokkies oornag.

2. Engelse sout en warm water

Maak so

  • Giet 2 L (8 k) warm water in ’n groot bak.
  • Voeg 125 ml (½ k) Engelse sout daarby.
  • Week jou voete 10-15 min. daarin.
  • Droog jou voete af.
  • Bevog voete en dra sokkies oornag.

Span die hele gesin in en geniet die bederf!