GESIG

Die son se UV-strale veroorsaak sonvlekke, pigmentasie en plooie, en een van die eerste plekke waar jy die skade sal opmerk, is aan jou gesig.

Daarom moet jy elke dag sonskerm aan jou gesig smeer, al is dit bewolk. Smeer dit aan 15 tot 30 minute voor jy uitgaan en elke twee uur daarna.

Gebruik ’n sonskerm of bevogtiger met ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) van minstens 30. Jy kan ook produkte in lae aanwend, byvoorbeeld jou bevogtiger, voorbereidingslaag, onderlaag en poeier.

Dit gee ekstra beskerming, maar onthou minstens een produk se SBF moet 30 of hoër wees, want die SBF in elkeen word nie saam opgetel om ’n hoër syfer te gee nie.

En hou in gedagte: Selfs al bevat jou onderlaag, BB- of CC-room ’n hoë SBF, sal dit net doeltreffend wees as jy dit mildelik aanwend.

As jy nie van so baie grimering hou nie, is dit beter om by ’n sonskerm of bevogtiger te hou.

Skoonheidswenk
As jy nie asvaal wil lyk nie, kies ’n sonskerm wat nie sink- oksied of titaandioksied bevat nie. Dit kan chemikalieë bevat wat te sterk is vir ’n kindervel.


HANDE

Moenie jou hande vergeet nie. Benewens jou gesig is dit een van die eerste plekke wat tekens van veroudering weens sonskade kan toon.

Anders as die res van jou lyf, wat jy met klere en hoede bedek, is jou hande amper altyd aan die son blootgestel.

’n Mens hou nie altyd rekening met hoe hard ons hande werk en die sterk chemikalieë in higiëniese sepe en waterlose handsaniteerders nie.

Dit alles, die son inkluis, kan ’n tol eis. Kies handerome met SBF en teenverouderingseienskappe. Dit word gewoonlik so geformuleer dat dit nie oorblyfsels laat of taai voel nie.

Jy kan ook handskoene en handbehandelings gebruik wat die vel aan jou hande help voed en intens bevog.

Skoonheidswenk
Wanneer ’n mens bestuur, is jou hande dikwels in die son. Smeer hier ook son­skerm aan of koop hand­skoene.


LYF

Die meeste mense smeer sonskerm aan hul gesig wanneer hulle op die strand is, maar laat na om dieselfde hoeveelheid sorg aan die res van hul lyf te gee.

Die vel aan die gesig is veel dunner as dié aan die res van jou lyf; daarom is die uitwerking van die son merkbaarder op jou gesig. Maar dit beteken nie jou lyf loop nie onder die son deur nie.

UV-strale dring deur die vel en breek kenmerke onder die vel af wat dit plomp en gloeiend hou, soos kollageen en hialuronsuur.

Jy kan later met sonvlekke, verkleuring en ’n sakkerige vel sit as jy nie sonskerm aan jou lyf ook aanwend nie.

Verskillende opsies sonskerm is vir jou lyf te kry, van waterbestande weergawes tot dié wat nie jou klere vlek nie.

Onthou, geen produk is heeltemal bestand teen water en sweet nie; wend dit dus weer aan nadat jy geswem het of andersins elke twee uur.

Skoonheidswenk
Wenk Moenie son­skerm as ’n bevogtiger gebruik nie. Dit beskerm jou vel teen skadelike UV-strale, maar gee nie soveel vog soos vogroom nie.

Skoonheidswenk
Moenie sonskerm as ’n bevogtiger gebruik nie. Dit beskerm jou vel teen skadelike UV-strale, maar gee nie soveel vog soos vog-room nie.


NÁ DIE SON

’n Mens misgis jou soms. Jy dink dit is te bewolk om sonskerm aan te smeer, maar ’n paar uur later is jy gaar gebrand. Nie net is jou vel seer en beskadig nie; dit is ook gedehidreer.

As jy sonbrand het, smeer násonvloeirome en -rome aan.

Dit sal nie jou sonbrand genees nie, maar sal van die verlore vog help herstel, van die ongemak verlig en die vel se oppervlak help herstel en herbou.

Was jou vel sagkens met ’n hidrerende reiniger en bevog dan die aangetaste areas met die násonroom. Smeer die room daagliks aan die aangetaste areas aan.

Skoonheidswenk
Neem ’n koue stort en tik jou droog; moenie vryf nie. Laat water op jou vel. Vryf die nasonroom of bevogtiger sagkens in om die water in jou vel te hou.


Bronne: Aad.org, Oureverydaylife.com