Ons vel kry dikwels aan die begin van die koue seisoen ’n bietjie swaar en kan droog, vlekkerig en selfs skilferig raak.

Die goue reël van velsorg – bevog, bevog, bevog – is nou veral belangrik. Maar jy moet weet watter soort bevogting die beste vir jou vel is. En dit is noodsaaklik om aan die vel aan jou lyf sowel as dié aan jou gesig aandag te gee.

Droë vel

Gebruik produkte met mikrokorreltjies wat oplos terwyl jy dit vryf. ’n Tuisgemaakte suiker-en-heuning-skropmiddel is ’n goeie afskilferaar: Meng bloot ’n eetlepel suiker met een en ’n halwe eetlepel heuning. (Jy kan ook olyfolie pleks van heuning gebruik.)

Vryf sagkens aan ’n klam vel en spoel deeglik af met louwarm water. Vermy warm water, want dit stroop die vel en droog dit uit.

Velvoorbereiding

Jou vel verloor elke dag selle, en as dit nie verwyder word nie, kan dit jou vel ’n bietjie grof laat voel. Gereelde afskilfering is die beste manier om dooie velselle te verwyder sodat jou vel die meeste vog uit jou produkte kan absorbeer.

As jy nie afskilfer nie, is produkte geneig om net aan die oppervlak van die vel te bly en nie veel van ’n doel te dien nie. Ons almal het verskillende velsoorte, wat beteken die produkte en metodes van afskilfering verskil effens van mens tot mens.

Diegene met ’n droë vel het sagkense afskilfering vir hul gesig en lyf nodig, want enigiets te sterk sal tot ontsteking en velskade lei. Individue met ’n kombinasie- of olierige vel kan soortgelyke produkte gebruik.

Die belangrikste is om die porieë diep af te skilfer en olierigheid met waterbasisbevogting te balanseer.

Bevogting

Die vel aan jou gesig is dunner as dié aan die res van jou lyf; daarom toon dit die eerste tekens van veroudering. Dis ook hoekom jy jou gesig anders as jou lyf bevog.

Gesigprodukte is meer gespesialiseerd en word in lae en stappe aangewend, terwyl lyfprodukte ’n alles-in-een-aanwending is.

Vog vir ’n droë vel

Droë vel het ’n gebrek aan lipiede of olies wat normaalweg in die vel voorkom. Dus is dikker en olieriger produkte meer geskik vir diegene met dié velsoort.

Wees op die uitkyk vir produkte wat seramiede bevat – dit is lipiedmolekules wat natuurlik in die beskermende buitelaag van die vel voorkom, sê dr. Alek Nikolic, stigter van Sk.in-serums. “Seramiede onderhou en reguleer die gesondheid van die belangrike beskermende buitemantel en help hou die vel gehidreer omdat dit vogverlies verminder.”

Vog vir olierige/kombinasievel As jy ’n kombinasievel het, benodig jy waterbasisprodukte om dehidrasie te bestry. Waterbasisprodukte is ook voordelig vir ’n olierige vel, want dit balanseer olievervaardiging.

Jou vel verg gelyke hoeveelhede water en sebum om as normaal of gebalanseer beskou te word.

Wees op die uitkyk vir produkte wat hialuronsuur bevat.

“Dit is ’n stof wat natuurlik deur die liggaam vervaardig word en is ’n doeltreffende bevogter,” sê Alek.

Olierige/kombinasievel

Kies produkte wat salisielsuur bevat vir diepreiniging. Jy kan gesig- en lyfborsels gebruik om die vel af te skilfer, maar gaan sagkens te werk en moenie ’n afskilferingsproduk saam met ’n borsel gebruik nie, want dit sal te kwaai op jou vel wees.

Nog wenke

Petroleumjellie: Al is jy hoe mal oor dié produk, moet jy dit nooit in die plek van ’n bevogter gebruik nie – dit is nie ’n bevogter op sy eie nie. Wend eers bevogter en lyfroom aan en smeer dan ’n laag petroleumjellie bo-oor sodat dit die vog binnehou.

Moenie aan skilferige vel krap of dit aftrek nie – jy kan ernstige skade so aanrig. Skilfer eerder alle probleemareas af.

Vermy ’n te warm bad, want dit stroop die vel van vog. Beperk ook die tyd wat jy in die bad of stort deurbring. Voeg olie by jou lyfseep of gesigreiniger as jy voel dit is ’n bietjie sterk. Die olie sal jou vel minder droog laat voel.

Beskerm jou vel as die weer besonder guur is. Bedek jou gesig met ’n serp en dra handskoene om droog- en rooiheid te voorkom.

Lugversorging kan jou vel uitdroog ongeag hoe getrou jy bevog. As jy in ’n plek met lugversorging werk of woon, gebruik ’n vogsproeier om die lug te bevog.

Wend een keer per week ’n bevogtende masker aan om die vogvlakke in jou vel aan te vul.

Skilfer een keer per week of elke 10 dae af.

Moenie jou lippe afskeep nie – dit is die meeste van die tyd aan die elemente blootgestel. Hou altyd ’n lipsalf byderhand.