Die aan-die-gang-ma 

MINKI VAN DER WESTHUIZEN (36)

Geselsprogram-aanbieder, beïnvloeder en model 

Minki Van der Westhuizen
Foto: Verskaf

OOR MA-WEES 

Minki het drie dogters, Katerien (6), Elise (5) en Elsa (2).  

Hoe het moederskap jou verander?

Ek het nooit besef my hart het so baie plek vir liefde nie, en dit word met elke kind nog groter.

Dis my grootste prestasie tot nou toe. En die belangrikste titel wat ek ooit sal hê.

Wat geniet jy die meeste van ma-wees?

Om hul armpies om my nek te hê, en as die baba my gesig in albei hande neem en sê: “Myne mamma.”

Ek hou daarvan dat alles pienk en meisierig en prinses is. Hulle dans, tof op en sing saam! 

Minki Van der Westhuizen
Foto: Verskaf

MINKI SE STYLGIDS

Jou staatmakerstyl

Jeans en funky tekkies met ’n mooi bloes of T-hemp en baadjie daarby. Rock-chic vibe.

Gunstelingitem 

Jeans met ’n hoë middel.

Hoe het jou styl verander sedert jy ma geword het? 

Ek dra beslis meer tekkies. Jy kan nie juis met hoë hakke aan skoolmotor ry nie!

Stylraad 

Doen ’n bietjie moeite. Dit hoef nie altyd lank te neem om reg te maak nie, maar doen moeite.

Jy sal ook beter oor jouself voel. En moet nooit na die grootte van ’n kledingstuk kyk nie; pas dit aan en koop die grootte wat jou die beste pas.  

Die glansma

SUE DUMINY (35)

Beïnvloeder en sakevrou 

Sue duminy
Foto: Verskaf

OOR MA-WEES 

Sue en haar krieketsterman, JP Duminy, het twee dogters, Isabella (4) en Alexa-Rose (1).

Hoe het moederskap jou verander?

Genade, waar begin ek! Daar is nie meer tyd om voor jou klerekas te staan en besluit wat jy gaan aantrek nie. Alles gebeur vinnig; dis gryp en gaan aan.

Dit gaan nie meer oor my nie, maar oor twee ander mensies wat my nodig het. My hele lewe wentel om hulle en ek is absoluut dol daaroor!

Hulle is my beste vriendinne. Moederskap het my hope geduld geleer en ook ’n veel dieper begrip en waardering vir die klein dingetjies in die lewe. 

Wat geniet jy die meeste van ma-wees?

Alles! Ek is obsessief. Om die mollige lyfies vas te hou is elke dag vir my ’n seëning. Ek hou hulle vas en druk hulle en soen hulle soveel ek kan. Isabella is baie vermaaklik met al haar stories en danspassies.

Dit is so ’n plesier om elke dag hul persoonlikhede te sien ontwikkel. 

Albei is mamma-meisies, en ek is mal daaroor. Ek mag hulle heeltyd vertroetel. Hulle het sagte omgeepersoonlikhede en dis 'n vreugde om dit te koester. 

Sue duminy
Foto: Verskaf

SUE SE STYLGIDS

Jou staatmakerstyl 

Jeans wat perfek pas met ’n hoë middellyf en knoppie- of skeurdetail by ’n half-ingesteekte hemp en opgerolde moue. En tekkies of modieuse plat skoene of sandale daarmee saam. 

Gunstelingitem 

My swart kunsleerkardoesbroek met ’n belt vol goue detail. 

Hoe het jou styl verander sedert jy ma geword het? 

My styl het klassieker geword, maar steeds met ’n kinkel hoogmode. Ek koop nou net ’n paar uitgesoekte stukke, maar van goeie gehalte. 

Stylraad

Moenie ’n uitrusting wat aan iemand anders oulik lyk probeer naboots nie; put eerder inspirasie daaruit. Leer ken jou lyf en weet watter style vir jou figuur werk. Weet ook watter kleure jou velkleur, hare en oë komplementeer. 

Die modepop

AISHA BAKER (29)

Bekroonde mode-blogger, beïnvloeder, ma-entrepreneur en stylikoon

Aisha Baker
Foto: Verskaf

OOR MA-WEES

Die stylvolle Aisha en haar krieketspelerman, Wayne Parnell, se skat­tige seuntjie, Khalid, is twee jaar oud.

Hoe het moederskap jou verander?

Ek het baie kalm en sterk geword. Ek dink ek is ’n beter mens, want in talle opsigte het dit ou gewoontes en lae afgebreek om vir ’n nuwe, sterk, bemagtigde weergawe van myself plek te maak.

Wat geniet jy die meeste van ma-wees?

Die liefde wat ek ervaar, is so intens en onpeilbaar; dit is regtig die beste deel. Wanneer my seun my wys hoe lief hy vir my is, voel ek soos die enigste meisie in die wêreld.

Khalid is baie dapper. Ek was nog altyd baie versigtig, maar my seun sien vir enigiets kans en sal maklik iets nuuts probeer doen. Ek hou daarvan dat hy so is en is baie trots om sy mamma te wees. 

Aisha Baker
Foto: Verskaf

AISHA SE STYLGIDS

Jou staatmakerstyl 

My staatmakerstyl is jeans en ’n T-hemp, met ’n leerbaadjie daarby vir koeler dae. Ek dra gedurig tekkies, veral noudat ek ’n ma is. 

Gunstelingitem

’n Leerbaadjie. Ek leef nou in een uit my eie reeks wat later vanjaar bekendgestel word.

Hoe het jou styl verander sedert jy ma geword het? 

Ek is nou prakties oor my stylkeuses en vermy juweliersware wat my of Khalid kan beseer. My hakskoene is vir plattes verruil. Ek kon altyd in hakke hardloop; nou hardloop ek daarvan wég!

Stylraad 

Hou dit eenvoudig. Ek hou by soortgelyke stukke en stileer dit deur kleure en patrone te meng. My staatmakerstukke is maksirompe, jeans en T-hemde. Ek kikker dit gewoonlik op met juweliersware, skoene en ’n handsak.

Die kunssinnige ma

ROLANDA MARAIS (42)

Aktrise bekend vir haar rolle in reekse soos Waterfront en Trackers

Rolanda Marais
Foto: Verskaf

OOR MA-WEES 

Rolanda se klein ewebeeld, Charlotte (3), is net so modieus soos haar ma.

Hoe het moederskap jou verander?

Dit het my geleer om in die oomblik te wees. As jy nie absoluut teenwoordig is nie, kan jou kind dit aanvoel. Dit het my ook geleer om te aanvaar my klere sal vuil word nog voor ek die huis verlaat het, en dit is oukei.

Dankie tog vir klamlappies. 

Wat geniet jy die meeste van ma-wees?

Om die heel nuwe mens meer en meer haar eie unieke klein self te sien word. Dit is betowerend.

Ek hou daarvan hoe Charlotte reeds 'n sterk identiteit het. Ek hou daarvan dat sy saggeaard en bedagsaam is. Sy is baie jonk, maar empaties en vriendelik.

Twee karaktereienskappe wat die lewe makliker sal maak vir haar en die mense wat sy teëkom. 

Rolanda Marais
Foto: Verskaf

ROLANDA SE STYLGIDS

Jou staatmakerstyl

’n Pragtige rok of vloeiende romp en ’n knoophemp by tekkies. Ek rond dit af met rooi of pienk lippe. 

Gunstelingitem 

My groot, kleurryke handsak. Dit pas by alles en is groot genoeg om lappies, happies en ’n ekstra stel klere vir my dogter in te pas, indien nodig.

Hoe het jou styl verander sedert jy ma geword het?

Dit het nie eintlik verander nie. Ek dra wel meer tekkies. Gelukkig is dit baie modieus om tekkies by rokke en rompe en so te sê enigiets te dra; dus werk dit goed uit.

Stylraad

Net omdat jy kinders het, beteken dit nie jy kan nie fantasties lyk nie. Ek is geneig om patrone en donker kleure te kies as ek weet ek gaan die hele dag saam met my dogter deurbring. Jy kan nie vuilheid op ’n patroon sien nie. 

Die ontspanne ma 

JULIA ANASTASOPOULOS/SUZELLE DIY (36)

Selfdoenkoningin en YouTube-ster

Suzelle DIY
Foto: Verskaf

OOR MA-WEES 

Julia se dogter, Zoe, word in Julie twee.

Hoe het moederskap jou verander?

In alle opsigte. Ek het geweet moederskap sou my in ’n praktiese opsig verander – my meer georganiseerd maak, ’n beter veeldoener, my daaglikse uitkyk op goed verander, en dat ek met baie min slaap oor die weg sal moet kom.

Wat ek nie besef het nie, is hoe dit my op ’n veel dieper vlak sou verander – dis moeilik om te beskryf presies wat dit is, maar moederskap het my hele perspektief op die lewe verander en my soos ’n beter weergawe van myself laat voel.  

Wat geniet jy die meeste van ma-wees?

Om te kyk hoe die wonderlike mensie met haar eie eienaardighede en persoonlikheid na vore kom en die kans kry om die wêreld weer deur haar oë te ervaar. 

Ek hou van haar parmantige klein glimlag en die manier hoe sy met haar kop op my skouer lê wanneer sy moeg is. Dis die beste. 

Suzelle DIY
Foto: Verskaf

SUZELLE SE STYLGIDS

Jou staatmakerstyl 

Ek hou van lae skep oor ’n gemaklike basis soos ’n swart spanbroek. Ek meng graag patrone met klassieke items en is meestal gemaklik genoeg aangetrek dat ek agter ’n ­kleuter kan aandraf. 

Gunstelingitem 

’n Goeie denimbaadjie.

Hoe het jou styl verander sedert jy ma geword het? 

Dit het nie regtig verander nie, buiten toe ek geborsvoed het. Toe moes ek ’n klerekas hê wat ’n bietjie meer borsvoedingvriendelik is.  

Stylraad 

Hou dit eenvoudig en dra waarvan jy hou. Moenie probeer inpas by iemand anders se idee van hoe jy as ’n ma moet lyk of aantrek nie. Wees jou eie stylkoningin. 

Die sosiale vlinder 

AMY KLEINHANS-CURD (51)

Voormalige Mej. Suid-Afrika en sakevrou

Aisha Baker
Foto: Verskaf

OOR MA-WEES

Amy het twee dogters, Phillipa (22) en Georgia (13), en ’n 20-jarige seun, Thomas.

Hoe het moederskap jou verander?

Die grootste verandering is dat ek nou baie meer as voorheen bewus is van ander mense se behoeftes. Ek het geleer om by verskillende persoonlikheids­tipes aan te pas. Dit het my ook meer respek en waardering vir die ouer geslag gegee. 

Wat geniet jy die meeste van ma-wees?

Die beste ding van ma-wees is dat ek voel ek speel ’n integrale rol in die ontwikkeling van my kinders se persoonlikhede. Ek hou van die gevoel van invloed en vooruitgang wat moederskap my bied. 

My kinders is spieëlbeelde van my. Ek sit en glimlag dikwels heimlik as ek sien hoe sterk my persoonlikheid, voorliefdes en afkere in my kinders deurskemer. 

Minki Van der Westhuizen
Foto: Verskaf

AMY SE STYLGIDS

Jou staatmakerstyl

Ek hou van ’n klassieke voorkoms met ’n titsel modebewustheid daarby. My styl is sag en vroulik, en dit laat my ondanks ’n bedrywige leefstyl altyd goed voel en sjiek lyk. 

Gunstelingitem

My pragtige neutrale skoene. 

Hoe het jou styl verander sedert jy ma geword het? 

My styl het nie veel verander nie; ek pas dit net altyd by my leefstyl aan.

My kinders weet ek doen moeite met my voorkoms ter wille van myself. Ek wil hê dit moet by hulle ’n selftrots en -respek kweek; dis die grootste geskenk wat ek my kinders kan gee.   

Stylraad 

Jou kinders doen wat jy dóén  – nie noodwendig wat jy sê nie. My raad is dat jy ’n unieke styl handhaaf wat jou goed laat voel en so jou kinders aanspoor om ook hul eie styl te ontwikkel.

  • Voel jy ná weke tuis allermins op jou beste? Kuier Dinsdag 20:00 aanlyn saam met Minki en Huisgenoot vir raad. Kry jou kaartjies vir R50 by Computicket.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.