Rolene Stauss het onlangs die koppe laat draai toe sy ’n elegante turkoois rok met ’n silwer masker gedra het by ’n glansgeleentheid in Sandton. Dit was vir die bekendstelling van Tastic-rys se eksklusiewe reeks wat verpak is in 'n ontwerp wat geïnspireer is deur die internasionale ontwerper Laduma Ngxokolo, die stigter van MAXHOSA Afrika. Die doel van die reeks is om Erfenismaand te vier.

Ons het by Rolene gaan aanklop om te hoor hoe om ’n masker te kies wanneer jy ’n formele geleentheid bywoon.

“Jy kan steeds stylvol en elegant lyk met ’n masker,” sê Rolene. “Dit skep bietjie misterie wat ook mooi is. Dis die tyd waarin ons leef, en dit is iets waarby ons moet aanpas en die beste van die situasie moet maak.”

Sy sê sy verkies ’n masker wat nie te veel aandag van die rok aftrek nie, veral as jy ’n mooi rok aan het. “Kies iets wat neutraal is of dalk by jou skoene pas of die jas wat jy aan het."

Rolene Strauss masker
Voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss by die bekendstelling van Tastic rys se spesiale reeks rysverpakking ter viering van Erfenis-maand. By haar is die gospel-sangers Ntokozo Mba en televisiepersoolikheid Somizi. Foto: Instagram

“Die masker wat ek gedra het, was silwer en het by my skoene gepas. Die aksent was nog steeds op my rok, maar as jy net swart aan het, kan jy byvoorbeeld ’n masker met 'n interessante dierepatroon dra. Dit hang af of jou masker aandag moet trek of nie.”

Sy sê deur die dag verkies sy 'n masker wat eenvoudig is. “Nie te veel tekstuur nie, nie te veel verskillende kleure nie en iets wat gemaklik is en nie krap nie.”

Wanneer jy vir ’n geleentheid in die aand grimeer waarby jy ’n masker dra, moet jy die klem op jou oë plaas, is dié ma van twee se raad. “Dikwels dra mense meer eenvoudig grimering op hul oë met ’n helder lip, maar met ’n masker gaan dit nie werk nie.”

Volgens haar kan lipstiffie met ’n masker ’n effense tameletjie wees. “Ek sit gewoonlik ’n lippotlood aan en hou ’n handspieëltjie byderhand om aan te sit wanneer ek by ’n restaurant is of wanneer dit nodig is. En dan het ek altyd ’n sneesdoekie by om dit af te haal voor ek weer die masker aansit. Dit hang af van mens tot mens, maar dit kan ’n groot gemors wees wanneer jy rooi lippe met ’n masker probeer dra.”