Terwyl daar steeds landwyd onsekerheid heers oor wanneer salonne hul deure sal opmaak, is die groot vraag op baie vroue se lippe of hulle self hul hare of kuif kan sny. Om jou hare self te knip is ’n reusetaak wat baie selfvertroue en ’n goed geoefende hand verg. 

As jy onseker is, moet in hierdie geval glad nie aan ’n skêr raak nie. Die verkeerde skêr kan skade aan jou hare doen en tot gesplete punte en ’n onplesierige voorkoms lei. Dus is dit belangrik om die regte skêr te hê wanneer jy jou kuif wil sny. 

Wanneer jy jou kuif knip, moet jy seker maak dat jou hare droog is. “Wanneer hare nat is, strek dit. So as jy jou hare sny terwyl dit nat is, kan jy jou kuif te kort knip en dit nie besef tot jy jou hare droog maak nie,” sê Meri Kate O’Connor, 'n haarkleurspesialis by Tabb & Sparks-haarsalon in Santa Monica, Kalifornië. Voor jy jou kuif knip, is dit ook ’n goeie idee om jou hare te stileer soos jy dit gaan dra met jou kuif.

hare knip
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op die manier sal jy seker wees van hoe jou kuif in jou gesig gaan hang, hetsy jy reguit of krulhare het. 

As jy wel gaan poog om jou eie kuif te knip, moet jy bereid wees om met die resultaat saam te leef. Die Amerikaanse model Bella Hadid (23) het haar nie tydens die inperking deur ’n skêr laat afskrik nie en het self gepoog om ’n kuif te knip – en die eindresultaat lyk superoulik. 

Meri sê wel as jy vir die eerste keer ’n kuif wil probeer, is dit wys om ’n professionele haarkapper te raadpleeg voor jy so ’n groot taak op eie hande neem. Ons advies in dié geval is dat as jy twyfel, lees hier hoe om jou hare te versorg terwyl die salon se deure nog toe bly.   

As jy dit oorweeg om jou kuif self te knip, kyk na dié 5 maklik-om-te-volg-video's. 

1. Hoe om jou kuif te snipper

2. Hoe om ’n lang kuif te sny

3. ’n Kuif vir krulhare

4. Hoe om ‘wavy-bangs’ te sny

5. As jy nie wil snipper nie, kan jy so kul met ’n ‘kuif’

Bronne: Cosmopolitan, TheGaurdian.com, Elle