Dis nie net beroepsgrimeerkunstenaars wat met kontoere kan toor nie. In onlangse jare het skoonheidsvloggers dit so maklik laat lyk dat amper almal die grimeertegniek kan baasraak.

Grimeerhandelsmerke het ook produkkombinasies ontwikkel wat maklik is om te gebruik en jou die gewenste kontoervoorkoms kan help skep.

Ovaal

Ovaal Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Wend jou kontoerproduk van die ore na die middel van jou wange, direk onder jou wangbene, aan en skakeer in om jou ge­sigvorm te aksentueer. Jy kan ook aan jou voorkop kontoere skep deur jou produk weerskante van jou voorkop aan te wend om dit kleiner te laat lyk.  
  • Wend jou aksentproduk direk van die binnehoeke van die oë na die buite­hoeke en afwaarts tot op die wange en aan jou ken en die middel van jou voorkop aan.

Rond

Rond Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Wend jou kontoerproduk aan die kante van jou voorkop, afwaarts langs die slape van die gesig na die area onder jou wangbene en langs jou kakelyn aan en skakeer in. Dit sal dit laat smaller lyk en duidelike lyne skep.
  • Wend jou aksentproduk in die vorm van ’n onderstebo driehoek onder jou oë, aan jou ken en aan die middel van jou voorkop aan. Skakeer dit daarna in om die areas te verhelder.

Vierkantig

Vierkant Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Wend jou kontoerproduk weerskante van jou voorkop reg teen die rand van jou haarlyn aan en skakeer in om die breë voorkop kleiner te laat lyk. Wend dit dan aan die area net onder jou wangbene (van die ore na die middel van jou wange) en afwaarts langs die gesig na die einde van die kaaklyn aan sodat jou gesig nie so breed lyk nie.
  • Wend jou produk van die binnehoeke van jou oë na die buitehoeke en opwaarts na die buitepunt van jou wenkbroue, aan jou ken en die middel van jou voorkop aan.

Hart

Hart Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Wend jou kontoerproduk langs die kante van jou voorkop na jou slape toe en reg onder jou wangbene aan en skakeer in om die breë deel aan die bokant van jou gesig smaller te laat lyk. Wend jou produk heel aan die punt van jou ken aan om die spitsheid van jou ken te versag.
  • Wend jou produk van die binnehoeke van jou oë na die buitehoeke en opwaarts na die buitepunt van jou wenkbroue, aan jou ken en aan die middel van jou voorkop aan om die areas te verhelder.

Wat is die skep van kontoere?

Dit is die gebruik van produkte (poeiers, room-tot-poeier-onderlaag of onderlaag) wat ’n paar skakerings donkerder as jou velkleur is om ’n illusie van kontoere aan verskillende dele van jou gesig te skep.

Aksente word dan gebruik om die areas waar kontoere geskep is te versag sodat dit natuurliker lyk. Aksente beklemtoon ook die dele van jou gesig wat uitstaan, soos jou wangbene, kakelyn, brug van jou neus en selfs jou voorkop.

By die mengsel kan jy ook blosser voeg vir ’n rosige gelaat.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Skoonheidswenk
Wend blosser aan die areas tussen die kontoere en aksente aan jou wange aan en skakeer in.


Weet wat om te gebruik

Poeier

Dit is die maklikste manier om kontoere en aksente mee te skep, want jy kan beheer hoeveel van die produk jy op ’n slag aanwend. Wend jou onderlaag soos gewoonlik aan, maar wend dit dan met ’n plat kwas aan die areas aan waar jy kontoere wil skep. Poeier skakeer maklik in, want dit set nie voor dit ingeskakeer is nie.

Vloeibare onderlaag

Jy kan met vloeibare onderlaag kontoere skep terwyl jy onderlaag aanwend of dit agterna doen deur die produkte in lae aan te wend. Jy moet die twee verskillende kleure naatloos laat saamsmelt. Jy kan ’n onderlaagkwas of grimeerspons hiervoor gebruik.

Roomonderlaag

Dit word gewoonlik met ’n spons aangewend omdat dit so ’n digte tekstuur het. Dit kom ook in ’n stiffie voor wat jy direk aan die vel kan aanwend. Roomonderlaag is ietwat moeiliker om te gebruik, want dit set vinnig. Skep met ’n spons kontoere en skakeer dit dadelik in.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Skoonheidswenk
Wanneer jy aan jou neus kontoere skep, wend die produk weerskante van die neusbrug aan tot bo waar die wenkbroue begin. Laat ’n ruimte tussenin om ’n aksent te skep.


Ekstra bronne: Cosmopolitan.com, Teenvogue.com