DIE DONKER KANT

Donker lipstiffie – van diep pruimkleur tot swart – is weer die in ding en glad nie meer net vir ’n aandjie uit of Goth-aanhangers bedoel nie.

Jy kan dit nou ook bedags dra.

As jy ’n ligte gelaat het, kies ’n pruimkleur wat nie te lig of te donker is nie sodat dit nie jou vel uitgewas laat lyk nie.

Vir ’n tussenin- of olyfkleurige gelaat kan jy dieper pruimkleure gebruik aangesien die rykheid van die kleur hierdie gelaatskleure komplementeer. 

Foto: Gallo Images/Getty Images


Skoonheidswenk
 As jy donker of helderkleurige lipstiffie dra, hou die res van jou grimering eenvoudig sodat die fokus op jou lippe is.

ALLE ORANJES

Hou die winterblues weg met ’n veeg oranje lipstiffie wat dadelik jou voorkoms sal opvrolik.

As jy ’n helder kleur kies, kies ’n mat lipstiffie.

Deurskynende lipstiffie sal vir ’n subtiele kleur sorg – kies dit as jy nie te veel aandag wil trek nie. Helderoranje lyk pragtig by ligte gelaatskleure omdat dit warmte aan die gelaat verleen.

As jy ’n heuningkleurige vel het, kies ’n oranje met rooi ondertone.

Donkerder oranjes, soos roesoranje, werk goed saam met donkerder velle omdat dit nie die vel uitgewas laat lyk nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images

PRETTIG PIENK

Pienk gaan nooit uit die mode nie en enigeen kan dit dra en fantasties lyk.

Ligte velle en ligpienke werk pragtig saam omdat die sagter skakerings goed met die vel se koel ondertone skakeer.

Helderpienke lyk goed op tussenin-velkleure en donkerder skakerings werk goed saam met donkerder gelaatskleure.

Foto: Gallo Images/Getty Images

PRAAT ROOITAAL

Rooi bly die staatmaker-lipkleur vir alle geleenthede.

Helder rooie werk goed saam met ligte velle omdat dit warmte verleen.

Dieper en donkerder rooi pas by tussenin- en donker gelate omdat dit die vel se warm ondertone komplementeer.

Foto: Gallo Images/Getty Images


WENKE

KRY VOLLER LIPPE

  • Gebruik lipomlyner om voller lippe te verseker.
  • Omlyn eers jou lippe met ’n lipomlyner wat die naaste moontlike kleur aan jou lipkleur is en maak ’n X op jou kupidoboog.
  • Pleks van die lippe met jou lipstiffie inkleur, gaan oor die eerste buitelyn met dieselfde lipomlyner, maar trek dié keer buite die eerste buitelyn.
  • Dit sal net buitekant die natuurlike rand van jou lippe wees.
  • Sodra jy met albei buitelyne klaar is, kan jy jou lipstiffie binne die lyne aanwend.
  • Om jou lippe buite die natuurlike rand te omlyn laat dit voller vertoon. Sonder lipomlyner sal jou lipstiffie besmeer lyk.