Dis al jare lank ’n staatmaker in Franse skoonheidskringe, maar die res van die wêreld het eers onlangs op die miselwaterwa gespring.

Dit lyk en voel nes water, maar moenie toelaat dat dit jou mislei en laat dink dié produk het nie krag nie.

Dit reinig, verfris en bevog met die vee van ’n wattekussinkie. Dis boonop ideaal as jy reis en nie naby water is nie.

Wat is dit?

Miselwater bestaan uit misels in gesuiwerde water. Misels is molekules wat aangetrokke is tot olie.

As dit dus aan ’n watte oor jou vel gevee word, absorbeer dit olie en daarmee saam vuilheid.

Dit kan ook bevogtigende bestanddele bevat wat op jou vel agtergelaat word.

Neutrogena Hydro Boost Micellar Water R101
Garnier Micellar Cleansing Water R76,95
Payot Cleansing Micellar Fresh Water R316
Bionike Defence Micellar Water R169,95
Bioderma Sensibio H2O Micelle Solution R229
Eucerin Dermo Purifyer Micro Micellar Cleansing Water R275
SVR Physiopure Cleansing Micellar Water R275
Avène Eau Thermale Cleanance Micellar Water R330
Vichy One Step Cleansing Micellar Solution R180
Nivea Perfect & Radiant Micellar 3 in 1 Cleansing Water R99,95

Gebruik dit so

  • Week ’n watteballetjie of -kussinkie in miselwater.
  • Vee sagkens oor jou vel.
  • Vervang die watte wanneer dit deur vuilheid of grimering versadig is. Moenie jou vel vryf as die grimering nie wil afkom nie. Hou eerder die geweekte watte ’n paar sekondes teen die area en vee sagkens af.
  • Jy kan jou gesig met jou gewone gesigsreiniger was as jy voel dit is nodig.
  • Wend jou serum, bevogtiger en sonskerm soos gewoonlik aan.
Skoonheidswenk
Moenie jou gesigwas met miselwater vervang nie. Miselwater is perfek wanneer jy reis of haastig is, maar jy het steeds gewone gesigreiniger en water nodig om jou vel behoorlik skoon te maak.


Wie behoort dit te gebruik?

Die meeste mense kan miselwater gebruik. Dit is nie so sterk dat dit ’n sensitiewe vel sal irriteer nie en nie te olierig vir ’n vel wat tot aknee geneig is nie.

Daar is ook verskillende soorte vir verskillende behoeftes en velsoorte. Een is byvoorbeeld spesifiek gemaak om hardnekkige grimering te verwyder, terwyl ’n ander een vir droë vel geskep is, en nog een net vir jou oë.

Jy het nie water nodig om die produkte te gebruik nie, wat dit wonderlik maak vir mense wat baie reis, kampeer of in droë gebiede woon. Jy kan ook grimeerfoute vinnig regstel met ’n wattestokkie wat in miselwater gedoop is.

Kry dit hier

Avène (Dis-Chem 0800-201-170); Bioderma (Clicks 0860-254-257); Bionike (Dis-Chem 0800-201-170); Eucerin 0860-102-091; Garnier 0860-102-492; Neutrogena 0860-410-032; Nivea 0860-102-091; Payot takealot.com; SVR (Clicks 0860-254-257); Vichy 0861-184-249

Hoewel ons alles in ons vermoë doen om korrekte pryse te verskaf, kan foute voorkom waarvoor Huisgenoot en die verskaffers nie verantwoordelik gehou kan word nie