Grimeervoorkomste met min of geen grimering is deesdae baie gewild en die sangeres Alicia Keys wys presies hoe baie jy met min grimering kan doen.  Dit spaar tyd voor die spieël, dis goed vir jou vel en lyk absoluut beeldskoon.

Wat jy vir hierdie voorkoms nodig gaan kry:

  • Bevogtiger
  • Verbloemer
  • Wenkbroupotlood
  • Blosser
  • Maskara
  • Lipglans 

STAP 1

Maak seker jou gesig is behoorlik gewas, gereinig en bevogtig. Gebruik ’n roombevogtiger vir droë vel en ’n alkoholvrye een vir ’n sensitiewe vel.

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

STAP 2

Noudat jou vel goed voorberei is, is dit tyd om alle ongewensde vlekke en areas te verbloem.

Vir dié grimeervoorkoms gaan jy geen onderlaag gebruik nie, so maak seker dat die skakering van jou verbloemer baie na aan jou velkleur is.

Fokus op die areas onder jou oë en maak seker jy versprei dit eweredig sodat dit goed met die res van jou gesig inmeng.

Onthou: Jy hoef nie die hele oppervlak van jou gesig te bedek nie, net die belangrike gedeeltes.

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

STAP 3

Vir dié grimeervoorkoms hoef jy nie jou wenkbroue baie donker in te kleur nie. Vul slegs jou wenbroue indien dit nodig is.

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

STAP 4

Wend ligweg blosser aan. Maak ook seker jy kies die regte skakering vir jou velkleur. Vir dié voorkoms werk ’n ligte rooskleurige- of perskekleurige blosser die beste.

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

STAP 5

Pragtige vol wimpers lyk altyd beeldskoon, so dis die een grimeeritem wat jy behoorlik kan aanwend. Omdat jy nie oogpotlood vir hierdie voorkoms gebruik nie, kan jy twee tot drie lae maskara aan die boonste en onderste wimpers aanwend.

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

STAP 6

Rond dié voorkoms met ’n sagte pienk of koraalkleurige lipglans af.

Indien jy nie ’n aanhanger van dié skakerings is nie kan jy ’n vleeskleurige lipstiffie op lipglans aanwend om  jou voorkoms af te rond.

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

En siedaar, min grimering vir ’n pragtige en vinnige grimeervoorkoms.