Daar word gereeld gekoer oor die ongelooflike gesondheids- en skoonheidsvoordele van rooibostee en groentee, maar nie veel oor koffie nie. Van verminderde selluliet tot beeldskone vel, hier is vyf skoonheidsvoordele wat koffie inhou. 

1. Beeldskone en helder vel

koffie,skrop
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy weet hoe koffie jou daardie ekstra hupstoot gee om die dag aan te durf? Dis presies wat koffie vir jou vel doen. Wanneer dit as ’n masker aangewend word, bevorder koffie se stimulerende eienskappe bloedsirkulasie wat sorg vir ’n helder en stralende gelaat.

Vir ’n tuisgemaakte masker, meng ’n kwart teelepel kitskoffie (fyngemaal) met een eetlepel jogurt – verkieslik natuurlike of vanielje gegeurde jogurt. 

Maak seker die mengsel is kamertemperatuur en masseer dit by die gesig en die nek in. Hou dit vyf minute lank aan. Spoel met warm water af en geniet jou helder, sagte vel. 

Moenie dié masker meer as twee keer per week herhaal nie. 

2. Weg met ‘lemoenskil’

koffie,skrop
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Al ooit gewonder hoe die voormalige Bond-meisie en aktrise Halle Berry se vel op 53 steeds so ongelooflik foutloos lyk? Haar skoonheidsgeheim is gemaalde koffiebone.

Die ma van drie voeg dit by haar lyfseep en gebruik dit as ’n skrop om selluliet te verminder. Die gemaalde koffiebone sowel as die kaffeïen bevorder bloedsirkulasie en help om die vel sagter te maak.

Halle Berry
Halle Berry Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy nie die koffie met jou lyfseep wil meng nie, kan jy dit ook met water meng en as ’n lyfskrop gebruik.

Vir nog ’n anti-selluliet lyfskrop, kan jy gemaalde koffiebone met ’n eetlepel olyfolie en suiker meng. Masseer dié pasta by die betrokke area in. 

3. Pofferige oë? Nee, dankie 

oe,koffieskrop
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Laatnag agter die rug? Gebruik koffie – drink ’n koppie én maak ’n mengsel wat sommer vinnig van pofferige oë ontslae sal raak. 

Neem ’n teelepel fyngemaalde koffiebone en dompel ’n vel kombuispapier daarin.

Plaas die klam kombuispapier sowat 20 minute lank oor jou oë. 

4. Sagte voete

koffie,skrop
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Growwe hakke is ’n groot irritasie en kort elke af en toe ’n ekstra bietjie liefde en aandag. Raai wat kan help? Koffie!

As jou voete ’n behoorlike skrop nodig het, meng ’n kwart koppie fyngemaalde koffiebone met seesout of Engelse sout en ’n eetlepel olyfolie. 

Gebruik dié mengsel en skrop jou voete deeglik. Beslis ’n tuisbederfie om te probeer.

5. Sysagte lippe

koffie,skrop
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Winter is om die draai, en dis die tyd van die jaar waar jou lippe spesiale sorg en aandag nodig het. Hoewel daar verskeie oorsake is, is droë lug die algemeenste rede, en die ongemak van stywe, geskeurde lippe is geen pret nie. 

Vir droë lippe, meng sowat ’n teelepel fyngemaalde koffiebone met ’n paar druppels klapperolie. Smeer die mengsel sagkens aan jou lippe en verwyder met ’n klam waslap ná sowat vyf minute. 

Die behulpsame wenke laat ’n mens sommer anders na jou koppie boeretroos kyk! 

Bronne: TimesofIndia.com, Byrdie.com, VeryWellHealth.com, Bethbenderbeauty.com